ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Blye gesig vir boere in die Waterpoort-omgewing; landerye wat onder water staan, danksy die goeie reën. Foto verskaf.

Dit sous behoorlik!

Date: 26 February 2018 By: Andries van Zyl

Dit sous behoorlik in die Soutpansberg en teen Woensdagmiddag het inwoners gesukkel om hul reënmeters leeg te hou te midde van die gietende reën.

Vanoor die hele streek is berig ontvang van uitsonderlike goeie reënvalsyfers, in so ‘n mate dat ‘n paar inwoners gesê het hulle voel skuldig dat ‘n bietjie van die reën nie ook in die Kaap sal val nie. “Hulle reën kom,” het plaaslike leraar ds. Etienne van Staden vol hoop opgemerk.

Die sosiale media het deurlopend gegons oor die reën. So skryf Jan Wilkins op die Zoutpansberger se Facebook-blad dat hy Dinsdag 60 mm by sy huis in Joubertstraat gemeet het en Woensdagoggend weer 75 mm uitgegooi het. Helena van den Heever skryf op haar beurt dat sy Dinsdag tot Woensdagoggend reeds 94 mm uit haar reënmeter gegooi het. In die ooreenstemmende tyd, sê Josie de Lange, het sy al 83 mm al by haar huis gemeet.

Ook die plaasboere glimlag breed danksy die goeie reën. Mnr Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU), het Dinsdag gesê dat daar groot dankbaarheid heers in dié gebied. “Alhoewel dit [die reën oor die afgelope naweek tot Dinsdagoggend] nie genoeg was nie, is die eerste reën met groot dankbaarheid ontvang. Die boere se lang leë reënmeters het in die hele Soutpansberg gebied gulsig elke druppel geniet. Vir die eerste keer dié seisoen kan met vrymoedigheid gesê word dat almal lekker reën gehad het,” het Havinga gesê. Hy het gesê die reëndruppels het glimlagte op almal se gesigte geverf. “…en enige skade as gevolg van die reën word met groot blymoedigheid gedra. Meeste mense verstaan nie die geweldige impak van hierdie droogte op die natuur, klimaat, diere, plante en mense nie!” het Havinga gesê. Hy het bygevoeg dat elke enkele grondeienaar met dankbaarheid en nederigheid sal dankie sê aan God Drie-enig.

Maar dit was nie die einde van die genade nie. Die reën het bly uitsak, al harder en harder. Die Suid-Afrikaanse Weerburo het Woensdag selfs ‘n waarskuwing uitgereik dat swaar reën verwag kan word oor Vhembe, Mopani en die oostelike dele van Capricorn en Sekhukhune distrikte, met die moontlikheid van fratsvloede op plekke.

Foto’s van vloedwaters het letterlik ingestroom na die kantore van die Zoutpansberger. Talle strate in Louis Trichardt was Woensdagoggend letterlik ontoeganklik vir ‘n gewone motor. Die tonele het sterk herinner aan die vloede van 2000.

 Van die foto’s en video’s wat deur boere ingestuur is, het ingesluit die Levuburivier, Doornspruit, Lotanandwarivier en Nzhelelerivier wat Woensdag in volle vloed begin vloei het (besoek www.zoutnet.co.za vir ‘n kykie na die foto’s en video’s).

Charl Venter, wat by Beja boer, het Woensdagmiddag laat weet dat hy sedert Saterdag reeds 188 mm op sy plaas gemeet het. In die ooreenstemmende tydperk is 136 mm op die plaas Laasgevonden gemeet en 170 mm op die plaas Klein Australië.

Noord van die Soutpansberg is neerslae van 50 mm en meer by Waterpoort gerapporteer. Dit was ook sopnat in die Mara omgewing.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerburo se amptelik reënvalsyfer vir 20 Februarie is 40 mm by Giyani gemeet, 53 mm by Levubu, 40 mm by Mara, 56 mm by die Mukumbani Teeplaas, 47 mm by Punda Maria, 67 mm in Thohoyandou, 70 mm by die Tshivhase Teeplaas en 53 mm by die Tshanowa Laerskool. ‘n Allemintige 195.3 mm is op 19 Februarie by die Tshivhase Teeplaas gemeet, so die hele streek is lekker nat.

 
 
 

Viewed: 2614

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

‘n Skermgreep van ‘n kort video wat ingestuur is van die Doornspruit wat Woensdag met mening afgekom het. Foto verskaf.

Hierdie foto is Woensdag deur mnr. Wouter Meintjies ingestuur van plaaspaaie in die Mara-omgewing. Foto verskaf.

Cait-Lynn (Graad 4) en Jacques Crafford (Graad 6) van Laerskool Louis Trichardt het Woensdag (21 Februarie) hulle sambrele se kragte saamgespan in ‘n poging om droog te bly tot by die motor.

Dohan Smit en Megan Rheeder afgeneem Woensdagoggend voor Hoërskool Louis Trichardt.

Songozwistraat.

Kroghstraat.

Kroghstraat

Hoek van Krogh- en Rissikstraat.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT