ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Gemeenskap in rou . . . Onstelde inwoners van Buysdorp het op 31 Desember verlede jaar opgeruk na die plaaslike landdroshof met die eerste verskyning van mnr. Alex Smail, wat daarvan beskuldig word dat hy twee jong mans doodgeskiet het.

Dubbele moord ruk Buysdorp-gemeenskap

Date: 15 January 2010 By: 

‘n Groot groep ontstelde gemeenskapslede van Buysdorp het op Donderdag, 31 Desember opgeruk na die landdroshof in Louis Trichardt, ná die tragiese dubbele moord op twee jong mans van die gemeenskap.

Die voorval, wat op Donderdag, 17 Desember plaasgevind het, het ‘n demper geplaas op die Buysdorp-gemeenskap se Kersfeesvierringe.

“Elkeen is baie diep seergemaak. Ons gemeenskap is soos ‘n familie,” het mnr. Lasalus Westen, voorsitter van die Buyskomitee se Algemene Vergadering, die gemeenskap se gevoelens later opgesom. Volgens hom is dit die eerste keer in Buysdorp se geskiedenis dat só iets gebeur. “Daar is nou ‘n kol op die gemeenskap.”

Mnr. Alex Smail (62), staan tereg op twee klagte van moord en twee klagte van poging tot moord na die skietery Donderdag, 17 Desember op Sergio Buys (21) en Bruce Joachim (20) by Smail se bierhuis in Buysdorp.

Volgens ooggetuies het Smail gedreig om vir Sergio, Bruce en nog twee van hulle vriende wat voor die bierhuis in Buysdorp se winkelkompleks in hulle motor gesit het, te skiet.

Na bewering word daar gedurig by Smail se bierhuis ingebreek en het hy dié dag die jong mans van die inbrake beskuldig.

Volgens een inwoner het Smail vir die mans gesê hy weet dit is hulle wat by sy winkel inbreek en het hy gedreig om hulle te skiet.

Die vier mans het die voorval by die polisie aangemeld en weer na die winkelkompleks teruggegaan.

Volgens gemeenskapslede is dit nie die eerste keer dat Smail gedreig het om iemand te skiet nie en het hy verskillende mense al van die inbrake beskuldig.

“Smail het in die verlede altyd die inbrake by die polisie aangemeld en niemand het hulle aan sy dreigemente gesteur nie,” het een inwoner gesê.

Smail het klaarblyklik die dag wat die insident plaasgevind het na sy huis gery om sy vuurwapen te gaan haal en met sy terugkoms sy motor so geparkeer dat die hoofligte op die vier mans in hulle motor skyn.

Volgens ooggetuies het hy uitgeklim en toe met sy vuurwapen op die mans losgebrand.

Sergio is in die kop getref en Bruce in die bolyf toe hy probeer vlug het. Albei is op die toneel dood.

Die ander twee mans kon daarin slaag om te vlug.

Na die voorval het Smail in sy motor geklim en na die polisiestasie gery om homself oor te gee en sy vuurwapen ingehandig.

Omgekrapte gemeenskapslede het na die skietvoorval voor die polisiestasie bymekaargekom en uit protes Smail se motor aan die brand gesteek.

Inwoners van Buysdorp is gebroke en verskeur gelaat na die voorval.

“Alex is ‘n gesiene inwoner en deel van die Buyskomitee; mense het na hom gegaan vir raad. Ek weet regtig nie wat het hom daartoe gelei om op die seuns te skiet nie,” het mnr. Westen gesê. “Hy het selfs berou na die voorval.”

Polisiemanne aan diens by die hof moes met Smail se hofverskyning ingryp toe ontstoke inwoners die Smail-familie gedreig het nadat Smail op R5 000 borg vrygelaat is.

Smail is gewaarsku om weer op 29 Januarie in die hof te verskyn.

 
 
 

Viewed: 1855

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT