ADVERTISEMENT:

 

 
 

Andani Mutshinya is die skool se toppresteerder met agt onderskeidings. Weerskante van Andani is sy trotse ouers, me. Phophi Mutshinya en mnr. Michael Mutshinya, wat beide onderwys in Kutama gee. Foto verskaf.

Triegies ryg die A’s in

Date: 14 January 2013 By: Linda van der Westhuizen

Hoërskool Louis Trichardt se matrikulante spog gesamentlik met 156 A-simbole en die skool het goed presteer ten opsigte van die aantal leerlinge wat universiteitstoelating verkry het.

Sewe-en-negentig van die 174 Triegies wat matriekuitslae ontvang het, verkry universiteitstoelating.  In daardie kategorie is die skool 11de in Limpopo en ontvang ‘n trofee. Die skool het  ook  ‘n Klub-50 trofee ontvang vir meer as 50 leerlinge wat bo 50% vir wiskunde behaal het. Die trofeë is ontvang op 3 Januarie by ‘n funksie by die Ranch Protea Hotel, waar die 2012 nasionale senior sertifikaat eksamen se uitslae bekendgemaak is.

Leerlingraadslid Andani Mutshinya is die skool se toppresteerder, met agt onderskeidings. Hy ontvang ‘n trofee deur onder die top 30 (27ste) in Limpopo te eindig. Sy agt onderskeidings behaal hy in Tshivenda huistaal (84%), Engels eerste addisionele taal (90%), wiskunde (92%), rekeningkunde(96%), wetenskap (87%), inligtingstegnologie (93%), wiskunde vraestel 3 (80%) en lewensoriëntering (98%). Andani skryf sy sukses toe aan harde werk en goeie tydsbestuur. Sy gunsteling onderwyser is me. Elsa Kriek, “want haar rekeningkunde klasse was vol pret,” maar sy gunstelingvak is wiskunde “omdat ‘n mens nie so baie daarvoor hoef te leer nie”. Andani gaan chemiese ingenieurswese aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer. Hy is alreeds in Secunda, besig met beursoriëntering van sy beurshouer, Sasol.

Rozanne Barnard spog met sewe A’s en kan nie wag om haar wortels uit te trek en in Stellenbosch  te gaan vestig nie. Sy gaan aktuariële wetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Die Kaap is glad nie vir haar vreemd nie, want amper al haar familie woon daar. Rozanne se A’s verwerf sy in Afrikaans eerste taal (84%), Engels eerste addisionele taal (92%), wiskunde (82%), rekeningkunde (85%), rekenaar toepassingstegnologie (87%), besigheidstudies (89%) en lewensoriëntering (88%). Rozanne hou van die aktuariële veld, omdat dit so wyd is en ook beleggings- en lewensversekering insluit. Haar ma, Florette, is ‘n versekeringsmakelaar. Sy en  pa Heinrich, werksaam by die lugmag inspektoraat, het Rozanne baie gemotiveer. “Met hulle ondersteuning kon ek my mikpunt van sewe onderskeidings bereik. Dit was ‘n baie besige jaar,” sê Rozanne, verlede jaar se onderhoofmeisie vir akademie.

Vir Unarine Sebola, wat  ses onderskeidings verwerf het, is die volgende week of twee baie belangrik.  Sy gaan hoor of sy gekeur is vir mediese studies by Medunsa. Sy  is reeds aanvaar by die Universiteit van Johannesburg vir radiografie. Unarine se A’s is vir Tshivenda huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde,  lewenswetenskappe, ekonomie  en lewensoriëntering. Om gereeld huiswerk te doen en die regte vriende te kies, was ‘n belangrike deel van Unarine se sukses.  “Baie van ons het in matriek nuwe vriende gekies, want ‘n mens kan nie toelaat dat vriende wat nie wil studeer nie, jou wegtrek  van jou doelwit nie,” sê Unarine.

Susan Wilson en Itani Mafune, twee leerlingraadslede,  het elk vyf onderskeidings verwerf. Susan gaan siviele ingenieurswese by die Universiteit van Pretoria studeer en Itani gaan Andani se klasmaat wees by Wits, waar hy hom ook vir ‘n chemiese ingenieur gaan bekwaam.

Charity Mabasa, Larissa Venter, Carina Vorster en Pretty Tshirangwana het elk vier onderskeidings behaal, terwyl Francine Grobler, Tendani Makatu, Quintin Moodie, Angelique Nefdt, Rofhiwa Bruce Nthulane en Khethani Ramulongo elk drie A’s agter hul name skryf. Daar is verder 23 leerlinge met twee onderskeidings elk en 42 leerlinge met een onderskeiding elk.

“Die topgroep onder die matrikulante het baie goed gevaar.  Ek is baie tevrede met al die uitblinkers en ook met die deursnee leerlinge. Die onderste groep het ons egter in die steek gelaat,” het die skoolhoof, mnr Henry Denner, hierdie week gesê. Hy het sy teleurstelling uitgespreek oor die nege druipelinge wat aan die skool ‘n slaagsyfer van 94.8% besorg het. “Swak skoolbywoning is ‘n groot faktor by die onderste groep. Ek het byvoorbeeld vir die eerste keer in meer as 20 jaar ‘n druipeling in Geografie gehad. Dié leerling was net twee dae in my klas na afloop van die rekordeksamen,” het Denner gesê.

 
 
 

Viewed: 1626

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

Rozanne Barnard, verlede jaar se onderhoofmeisie vir akademie, spog met sewe A’s. Unarine Sebola behaal ses onderskeidings. Susan Wilson behaal vyf onderskeidings. Foto verskaf. Itani Mafune verwerf vyf onderskeidings.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT