ADVERTISEMENT:

 

 
 

Fietsryers van die P&L Fietsryklub het die afgelope naweek ‘n ongelooflike 13  plekke op die podium ingepalm tydens die gewilde Vula Vula padfietswedren. Afgeneem, van links na regs, is plaaslike fietsryers Kombo Bere, Chris Knoesen (jnr.), Zian van den Heever, Marco Roets, Marc van Zyl, Andra Muller, Stanley Thompson, Rick Coetzee en Jandré van Jaarsveldt. Foto verskaf.

P&L raap dertien podiumplekke op

Date: 19 September 2014 By: News Correspondent

Lede van die P&L Fietsryklub in Ma­khado (Louis Trichardt) het die afgelope naweek behoorlik hul stempel afgedruk tydens die jaarlikse Vula Vula-padfietswedren deur ‘n ongelooflike 13 plekke op die podium  in te palm.

Sowat 300 fietsryers het deelgeneem aan hierdie gewilde padfietswedren by die ATKV Eiland op 13 September oor afstande van onderskeidelik 100 km, 70 km, 45 km en 14 km. P&L het wenners oor al die afstande opgelewer, asook ‘n hele klompie kategoriewenners.

In die langste wedren van die dag, die een oor 100 km, het P&L se Marco Roets, Rick Coetzee en Nico Geldenhuys goed saamgewerk en almal onder die eerste 10 fietsryers tuis gëeindig. Roets het gesorg vir die beste prestasie en algeheel tweede geëindig in ‘n tyd van 02:34:35. Coetzee was vierde oor die wenstreep in ‘n tyd van 02:34:36 en Geldenhuys sewende in ‘n tyd van 02:34:43. Die “sprint finish” in hierdie wedren was so naby dat die hulp van ‘n kamera ingeroep moes word om met behulp van ‘n foto die tweede-, derde- en vierdeplek te bepaal.

Spanwerk was ook die sleutel tot sukses in die 70 km wedren vir P&L se Kombo Bere, Jandré van Jaarsveldt, Chris Knoe­sen (jnr.) en Marc van Zyl. Hierdie wedren lewer ook ‘n “sprint finish” op, met Bere wat die wedren met ‘n haarbreedte wen in ‘n tyd van 02:01:49. Van Jaarsveld, met dieselfde tyd, was tweede, terwyl Knoesen vierde en Van Zyl sesde geëindig het. Nog ‘n P&L-fietsryer, Stanley Thompson, was 10de, maar die eerste mansveteraan tuis in 02:10:09. Ander P&L-fietsryers wat goed presteer het was Johan van Rooyen (14de) en Hetta Lombard (eerste vrouegrootmeester in ‘n tyd van 02:59:40).

In die 40 km het P&L se Zian van den Heever ‘n goeie oorwinning behaal en loshande gewen in ‘n tyd van 01:22:28, sewe minute voor die tweede persoon oor die wenstreep. Hy het dan ook die eerste junior posisie ingeneem. P&L se Andra Muller was die eerste vrou oor die eind­streep in 01:38:03. Jan Lombard, Betty Labuschagne, Pieter le Roux en Ulrich Folscher het ook goeie tye hier aangeteken en die klub se naam hooggehou.

Chris Knoesen (snr.) het die 14km wedren gewen in ‘n tyd van 00:29:16.

“Graag wil die P&L Fietsryklub die organiseerders en vir TimeMe bedank vir hul goeie werk en organisasie. Die Tzaneen verkeersdepartement, asook die SAPS se motorfietsafdeling, het baie hard gewerk om die padfietsryers se veiligheid te verseker en daar was geen ernstige ongevalle nie,” het die klub gesê.

 
 
 

Viewed: 225

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

Die “sprint finish” in die 100km Vula Vula padfietswedren was so naby dat die hulp van ‘n kamera ingeroep moes word om met behulp van ‘n foto die tweede-, derde- en vierdeplek te bepaal. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT