ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die wenners van die kurper-kategorie was Bennie Koekemoer (eerste), Henk Wilders (tweede) en AC van Schalkwyk derde.

Geesdrif baie, maar vissies traag om te byt

Date: 31 October 2014 By: Andries van Zyl

Hengelaars het die afgelope naweek bankvas gestaan in die hoop om daardie pryswenner vis te land tydens die NG Kerk Soutpansberg-gemeente se drie-spesie hengelkompetisie op 25 Oktober.

Die hewige donderstorm Vrydagaand en skielike daling in temperatuur het egter die vissies laat skrik. Daar was groot verligting by hengelaars, asook by die gemeente se diakonie, wat die kompetisie gereël het, toe die koue en betrokke weer omstreeks 09:00 totaal vir die son gewyk het. Ná ‘n uur of twee se lekker sonskyn het die kurpers bietjie meer lewe getoon, alhoewel vangste van groot babers en swartbaars deurlopend maar steeds swak was.

Die kompetisie is aangebied op die plaas Sandfontein op die Witvlag-pad en sowat ‘n 100 hengelaars het die dag lyne kom natmaak. Met die weer wat nie lekker wou saamspeel nie en vangste aan die swak kant, het die dag gou vir baie in ‘n gesellige saamkuier ontaard. Tog was daar die bittereinders wat vasgebyt het en dit was hulle wat teen inweegtyd met die prysgeld weggestap het.

Die swaarste kurper wat die dag sy pad na die hounet gevind het, het behoort aan Bennie Koekemoer. Vir sy “vasbyt”-poging, wat die skaal op 0,86kg getrek het, wen hy ‘n R1 000 eersteprys. Die tweede swaarste kurper (0,80kg) is geland deur Henk Wilders en hy wen R500. AC van Schalkwyk vat op sy beurt R300 huis toe met sy kurper van 0,75kg as derde swaarste.

Alhoewel dié hengeldam baie groter swartbaars oplewer, het die grotes die hengelaars Saterdag ontwyk. HJ Degenaar se baars van 0,32kg was egter genoeg om aan hom die R1 000 eersteprys te besorg. Tweede was Lambert Fick (R500) met ‘n baars van 0,29kg en derde was Pieter Pretorius (R300) met sy vang van 0,27kg.

Ook die babers was maar aan die klein kant. Fritz Botha se 0,85kg baber  het hom breed laat glimlag toe hy die R1 000 eersteprys in sy sak steek. Charles Villet se 0,63kg babertjie het aan hom R500 besorg as tweedeprys, met Henk Wilders wat ‘n verdere R300 wen met sy 0,27kg baber as derde swaarste.

Danksy ‘n skenking van ‘n paar klein trofeë (geen prysgeld nie) was daar ook vir die kinders onder 13 jaar ‘n prysuitdeling. Die jongspan het maar ook gesukkel. In hul kurper-kategorie was hul vangste amper goed genoeg om ook die algehele prysgeld te kon wen. Jong Douglas Piorek palm hier ‘n eerste (0,72kg) en tweede (0,70kg) plek in, met Heine de Jager (junior) derde met sy vangs van 0,68kg. Dit was ook net Douglas en Heine wat elk ‘n baber kom weeg het, met Heine (0,15kg) eerste en Douglas (0,14kg) tweede. Geen swartbaars is uit die O/13-groep geweeg nie.

Die gemeente het ook ‘n wisseltrofee gehad vir die gemeente in die dorp se span (bestaande uit vier lede) wat die swaarste sak vis ingeweeg het. As gasheer van die kompetisie word die “Stoutpansberg” wisseltrofee gewen deur die NG Kerk Soutpansberg met ‘n 3,76kg sak vis.

Na afloop van die inweeg is al die deelnemers se name ook in ‘n hoed gegooi, met twee trekpryse op die spel. Die eerste wenner was Rudolph “Koekies” Koekemoer, wat ‘n visstok en katrol wen. Die wenner van die tweede prys (‘n R200 geskenkbewys) is gewen deur Hendrico Grobbelaar. Beide trekpryse is geborg deur Cycle Centre.

Die NG Kerk Soutpansberg het hul opregte dank uitgespreek teenoor elke hengelaar wat die geldinsamelingsprojek ondersteun het. ‘n Spesiale woord van dank het ook gegaan aan die Jansen van Rensburg-familie wat die dam en geriewe op hul plaas beskikbaar gestel het. “Dankie ook aan Anton van Zyl, Johan en André Gilfillan en John en Leanda Le Cornu vir finansiële bydraes. So ook baie dankie aan die Rasool-familie van Cycle Centre vir die trekpryse, Talisman wat die ablusiegeriewe geborg het, die Zoutpansberg Privaathospitaal vir die armbandjies en CW Burger vir die borg van die trofeë vir die O/13’s. Almal van julle het gehelp om die diakonie se poging ‘n reusesukses te maak,” het die gemeente gesê.

 
 
 

Viewed: 211

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Fritz Botha (links) wen die afdeling vir grootste baber. In dié kategorie was Charles Villet tweede (afwesig tydens die neem van die foto) en Henk Wilders (regs) derde.

In die kategorie vir swaarte swartbaars was die wenners HJ Degenaar (eerste), Lambert Fick (tweede) en Pieter Pretorius (derde).

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT