ADVERTISEMENT:

 

 
 

Een van die talle motorfietsryers, Niel Stegman, wat Saterdag die opening van die Aloe Rock MX-baan buite Louis Trichardt bygewoon het, stel die nuutgeboude baan op die proef. 

Eie Motocrosse-baan vir Soutpansbergers

Date: 21 November 2014 By: Andries van Zyl

Motorfietsryers van die Soutpansberg hoef voortaan nie meer by klubs van elders aan te sluit indien hulle MotoCross as sportsoort wil beoefen nie.

Op Saterdag, 15 November, het die amptelike bekendstelling van Aloe Rock MX (MotoCross) Klub plaasgevind by hul doel-geboude motorfietsbaan sowat 10km buite Louis Trichardt op die N1 na Polokwane. Die baan is geskik vir alle tipe motorfietsryers en –entoesiaste en nie net MotoCross nie.

Die Aloe Rock MX-baan is slegs een van drie MX-bane tans in die Limpopo Provinsie. Dit is die visie van die klubstigters om binne die volgende jaar of wat die klub uit te brei tot op so ‘n vlak dat hul lede onder Limpopo se vaandel op nasionale vlak kan deelneem. “In 2016 wil ons, in samewerking met die ander klubs in die provinsie [Polokwane en Phalaborwa], ons eie streekskampioenskappe hou onder die WOMZA- en MSA-beheerligaam,” het Floris Prinsloo, een van die stigterslede van die klub, gesê.

Die klub beplan om ook ‘n junior baan en Enduro-baan teen die einde van die jaar gereed te hê om alle liefhebbers van MotoCross te huisves. “Jaarliks word daar ook ‘n Summer Series gehou in Zimbabwe wat deur meer as 200 ryers, van oral in Afrika, bygewoon word.  Ons wil onderhandel dat Aloe Rock MX ‘n beurt kry om gasheer te wees,” het Floris bygevoeg.

Maar soos enige sportklub is gemeenskapsbetrokkenheid van kardinale belang om die klub se sukses te verseker. “Dit is vir Aloe Rock belangrik dat die gemeenskap van Louis Trichardt ons ondersteun, sodat ons ‘n groot sukses van die klub kan maak en dat die dorp se ekonomie daarby kan baat vind. Ryers en hulle families moet in Louis Trichardt tuisgaan en sodoende ons dorp ondersteun,” het Floris gesê.

Van die nuwe ontwikkelinge in die pyplyn by die klubgronde is die oprigting van ‘n klubhuis en ablusiegeriewe. ‘n Reservoir en was-area vir motorfietse moet ook nog gebou word. “‘n Mediese kamer met Maud Myburg en Estelle de Waal in beheer is ook hoog op die prioriteitslys,” het Floris gesê.

Van 1 tot 4 Desember bied die klub unieke opleiding aan vir alles ryers (beginners, asook meer ervare ryers) vanaf die ouderdom van vier jaar oud. Die kostes beloop R550 per ryer vir die tydperk.

Intussen het die klub hul dank uitgespreek teenoor die volgende persone en instansies wat reeds ‘n bydrae gelewer het tot die stigting van die klub, naamlik Jan en Janneman Potgieter, Anthony Scott, Rob Hillary, Sergio Perregil, Sandberg Vervoer, Michael Parkin, Reineke Grobler, Coert Erasmus, Unique Ads, Stamp Shop, Talisman en TS Nedt.

Enige iemand wat belangstel om ook die klub behulpsaam te wees met bydraes of donasies kan vir Floris skakel by tel. 084 557 7223.

Vir meer inligting of om ‘n lid van die klub te word, as ‘n ryer of sosiale lid, kan Bianca geskakel word by tel. 084 297 7274 of stuur ‘n e-pos na [email protected]

 
 
 

Viewed: 339

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

MotoCross as sportsoort sou nie dieselfde gewees het sonder die nodige stof en modder nie. Die nat weer het Saterdag saamgespeel en motorfietsryers wat die nuwe Aloe Rock MX-baan beproef het hard laat werk om weer hul ysterperde skoon te kry.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT