ADVERTISEMENT:
‘n Wenspan in murg en been! Laerskool Louis Trichardt se eerste rugbyspan het die afgelope naweek vir die eerste keer in 31 jaar die trofee as algehele wenners van die O/13-liga vir groot skole bo die kop gelig. Heel agter, van links na regs, staan afrigter Phillip Potgieter, skoolhoof Louis Linde en afrigter Koos Alberts. Foto verskaf.
Date: 26 June 2015 By: Andries van Zyl
Die opgewondenheid in skoolhoof Louis Linde van Laerskool Louis Trichardt se stem was bykans tasbaar hierdie week na ‘n waarlik geskiedkundige oorwinning vir die skool.
Vir die eerste keer in 31 jaar het die skool se eerste rugbyspan die trofee as alleenwenner van die O/13-rugbyliga vir groot skole oor hul koppe gelig. Vyf jaar gelede het hulle ook die trofee verower, maar hulle moes dit deel met Laerskool Pietersburg-Suid. “Saterdag [20 Junie] was een van die hoogtepunte in my 30-jaar-lange onderwysloopbaan,” het Linde Woensdag gesê.
Linde skryf die sukses van die span toe aan vyf jaar se uitstekende afrigting en ouerbegeleiding. “Die betrokkenheid van die ouers vanaf die spannetjie se Bulletjie-rugbydae was uitmuntend. Twee jaar gelede het dieselfde span ook die O/11-liga gewen toe hulle 5-0 met Oosskool afgereken het,” het Linde gesê.
Triegie se O/13’s het in die finaal te staan gekom teen Laerskool Thabazimbi op Laerskool Warmbad se rugbyveld. Dit nadat hulle in die semi-finaal afgereken het met Krugerpark met ‘n 29-10 oorwinning. Thabazimbi het op hulle beurt deurgeskuur na die finaal deur in die semi-finaal naelskraaps 15-14 te wen teen die gedugte Oosskool.
Aanvanklik het die twee spanne goed teen mekaar opgeweeg in die begin van die eerste helfte. Na ongeveer 10 minute se spel het Triegies egter deurgebreek vir ‘n drie. Daarna was daar geen keer aan hulle nie en druk dié span sewe drieë tydens die wedstryd. In antwoord hierop kon Thabazimbi slegs een drie druk en met die blaas van die eindfluitjie was die telling 41-8 in Triegies se guns. “Die span het as ‘n eenheid gespeel en fantastiese spel gelewer. As O/13-span het hulle uitgestyg bo die res van die spanne,” het Linde gesê.
Die O/13’s se oorwinning was beslis nie ‘n gelukskoot nie. Hulle het sedert die liga begin het op 14 Maart vanjaar ‘n totaal van 14 wedstryde gespeel, buiten die finaal. Van hierdie wedstryde het hulle sleg een verloor en dit was ‘n vriendskaplike wedstryd teen Krugerpark op 16 April toe hulle naelskraap 12-14 verloor het op hul tuisveld. Hul statistieke vir die liga beeld ook duidelik dat hulle ‘n wenspan was wat moeilik ore aangesit sou word. In totaal, die finaal ingesluit, druk die jong spelers 65 drieë met slegs 16 drieë teen hulle. Hulle samel ook ‘n ongelooflike 405 punte in, met slegs 93 punte teen hulle.
“As hoof is ek baie trots op hierdie eerstespan, maar ook baie trots op die Laerskool Louis Trichardt Rugbyklub onder voorsitterskap van Phillip Potgieter en sy hele bestuur. Hierdie span het die afgelope paar jaar ‘n metamorfose in die rugbytradisie van Laerskool Louis Trichardt teweeg gebring,” het Linde gesê.
Terloops, het Linde bygevoeg, het Laerskool Louis Trichardt verlede jaar naelskraaps in die finaal vir groot skole teen Oosskool verloor. Tog was dit steeds goed vir die skool om as naaswenners in die liga uit die stryd te tree.
Potgieter en mede-afrigter Koos Alberts, asook spanbestuurder Louis Nel, het gesê dat dit vir hulle ‘n voorreg was om met so ‘n groep talentvolle seuns te werk. “Hulle het elke oefening bygewoon en nie een oomblik teruggestaan vir harde werk op die oefenveld nie. Dit was ‘n besonderse seisoen en ons wil al die onderwysers en ouers wat ons deur hierdie seisoen ondersteun het en hulle vertroue in ons gestel het, bedank,” het Potgieter gesê.
Viewed: 627
|
Tweet |
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.
More photos...
ADVERTISEMENT
ADVERTISEMENT:
ADVERTISEMENT