ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die wenners van die NG Kerk Soutpansberg se jaarlikse drie-spesie hengelkompetisie die afgelope naweek was (van links na regs) Eduan Naudé, Heine de Jager (jr.), Marko Kotzé, Té-wan Naudé, HJ van der Nest, Willie Joubert en Niel Bothma.

Jong hengelaars sit oumanne ore aan

Date: 13 November 2015 By: Andries van Zyl

Die weer en die vis het, anders as verlede jaar, mooi saamgespeel tydens die NG Kerk Soutpansberg se jaarlikse drie-spesie visvangkompetisie, met die jonger hengelaars wat die ouer manne ore aangesit het.

Die kompetisie, aangebied deur die gemeente se diakonie, is weer op die plaas Sandfontein net buite Louis Trichardt op die Witvlagpad aangebied. Die teikenspesies was kurper, swartbaars en baber, met die deelnemers wat vanjaar beloon is met heelwat en mooi groot visse. Verlede jaar se kompetisie is voorafgegaan deur 'n hewige donderstorm wat goeie vangste erg belemmer het.

Daar is Saterdag lekker saamgekuier om die dam. Reeds van vroeg af het die katrolle gesing, veral met die mooi kurpers wat aan die byt was. Alhoewel daar heelwat swartbaars en babers ook uitgekom het, was hulle egter aan die kleiner kant, met die groter vis wat diep gelê het. “Dit was duidelik dat die meerderheid van ouens wat Saterdag daar was, gesoute hengelaars is. Terwyl een of twee gesukkel het om ‘n vis te haak, was dit ongelooflik om te sien hoe hierdie gesoute hengelaars se visstokke gereëld hardloop. Dit was nie lank nie, of die hengelaars het onder mekaar begin uitvis wat nou eintlik die beste aas is,” sê Andries van Zyl, leierdiaken van die gemeente. Of die “goeie” hengelaars hul geheime gedeel het, sê Andries, is hy nie seker nie.

Verblydend om te sien was die hoeveelheid jong hengelaars wat die dag saam met hul ouers of oupa en ouma langs die dam kom spandeer het. Dit was dan ook die jonger laerskool hengelaars wat ‘n paar van die ouer manne ore aangesit het.

Een van dié jong laerskool hengelaars was HJ van der Nest. Hy het saam met sy familie van Tzaneen af deurgery die oggend om te kom deelneem. Dit was vir hulle ‘n heel lonende uitstappie, met HJ wat die grootste kurper (0,95 kg) van die dag land en daarmee ook die eerste prys van R1 000 vir dié spesie wen. Die tweede grootste kurper (0,93 kg) is gevang deur Té-wan Naudé en dit besorg hom R500 in die sak, met Heine de Jager (jr.) wat die derde grootste kurper (0,9 kg) weeg en R300 daarmee wen.

Soos genoem was die swartbaars maar weer aan die klein kant, maar Eduan Naudé se vangs van 0,5 kg was steeds genoeg om hom die R1 000 eersteprys te besorg in dié spesie. Marko Kotze was tweede met ‘n 0,38 kg baars (wen R500) en Willie Joubert derde met ‘n 0,29 kg baars (wen R300).

In die baber-afdeling is dit Té-wan wat R1 000 wen met sy vangs van 1,41 kg. Heine (jr.) was hier tweede (R500) met sy 1,26 kg baber en Niel Botma derde (R300) met sy vangs van 0,18 kg.

Daar was ook ‘n paar kleiner kontantpryse vir laerskoolkinders in elke spesie, bloot om die sportsoort onder die jonger geslag te bemark en om dit bietjie meer kompeterend vir hulle te maak. Soos genoem was dit egter Saterdag juis hulle wat dit meer kompeterend vir die ouer geslag gemaak het. HJ wen in die kurper-afdeling ‘n verdere R100 vir sy grootste kurper en palm ook ‘n derdeplek in (R50) met ‘n 0,86 kg kurper. Té-wan was tweede (R80) met sy 0,93 kg kurper. Té-wan wen ook die baber-afdeling (R100) met sy 1,41 kg baber, met HJ tweede (R80) met sy 0,11 kg baber. Daar was geen derdeplek in die baber-afdeling vir laerskoolkinders nie. Die laerskool-outjies het ook geen baars geweeg nie.

“Baie dankie aan almal wat die kompetisie ondersteun het. Dit was voorwaar ‘n lekker familiedag en ons het lekker saamgekuier. Baie geluk ook aan al die wenners,” sê Andries.

Die diakonie het hul dank uitgespreek teenoor al die donateurs en borge wat die dag moontlik gemaak het, insluitend die Jansen van Rensburg-familie van die plaas Sandfontein, Johan en André Gilfillan (Bridge Auto), Anton van Zyl (Zoutpansberger), Gert van Zyl, CW Burger (BMG), Vonitel Radio (trekprys van tweerigting radio gewen deur Willie Joubert), MadiGra Water en Soutpansberg Spar.

 
 
 

Viewed: 488

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT