ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

20/20-liga warm op

Date: 22 April 2016 By: Andries van Zyl

Talle van Louis Trichardt se T20-krieketspanne het die afgelope naweek weer mekaar op die krieketveld aangedurf tydens die volgende rondte van die plaaslike Limpopo Melkery 20/20-liga.

Die span van Limpopo het self tot die stryd toegetree in hul kragmeting teen die span van Premjee. Limpopo, wat eerste gekolf het, het nie te sleg gevaar nie en teken 145 lopies vir die verlies van sewe paaltjie in hulle toegelate 20 beurte aan. Die span se top kolwers was AJ Fourie wat 50 lopies slaan van 37 balle af, terwyl Joubert Fourie 21 lopies van 25 balle aanteken. Vir Premjee het Ikram Patel twee paaltjies vir die verlies van 11 lopies in drie beurte platgetrek, terwyl Yasar Delawala ook twee paaltjies, vir die verlies van 33 lopies in vier beurte, geneem het.

Die tweede helfte van die wedstryd tussen Limpopo en Premjee het ‘n naelbytstryd opgelewer vir beide spanne. Premjee het van meet af die telling gejaag en beklink die wedstryd in die laaste beurt deur 148 lopies aan te teken. Hul oorwinning was grootliks te danke aan kolwers Irfan Chicha, wat ‘n skaflike 53 lopies van 29 balle slaan, terwyl Ikram Patel 30 lopies van 34 moker. Limpopo se boulers wat die meeste sukses met die bal gehad het, was Brendan Bridge wat twee paaltjies neem vir die verlies van 29 lopies in vier beurte, terwyl Gerrie Oelofse twee paaltjies neem vir 31 lopies in vier beurte.

In die ander wedstryd van die naweek het die Werda Kings teen Ridgeway te staan gekom.

Werda kolf eerste en teken ‘n ongelooflike 305 lopies in hul 20 beurte aan. Hul ster kolwers was Warno Smit (nie uit nie) wat ‘n baie vinnige 50 lopies van 14 balle geslaan het, en Leon Furstenburg (nie uit nie) wat ook 50 lopies gemoker het, maar van 31 balle af. Ridgeway se kolwers het heldhaftig probeer om Werda se lopie-tempo te stuit, maar die enigste boulers wat ‘n mate van sukses gehad het was Imdaad Goolam wat drie paaltjies platgetrek het vir die verlies van 54 lopies in vier beurte, en Thabisa Banda wat twee paaltjies geneem het vir 33 lopies in vier beurte.

Met ‘n teiken van 306 om te wen, was Ridgeway nooit regtig in die wedstryd nie en was al hul kolwers terug in die kleedkamer met slegs 121 lopies op die telbord. Vir Ridgeway het kolwers Mashudu Nemt (33 van 22 balle) en Mac Imphofo (25 van 23) dapper probeer. Vir Werda was Jaco Botha verwoestend met die bal en laat vier paaltjies vir die verlies van slegs 17 lopies kantel in twee beurte. Hy is goed bygestaan deur spanmaat GH Smit, wat twee paaltjies vir die verlies van twee lopies in twee beurte geneem het.

Eerskomende naweek sal die volgende rondte wedstryde in die liga beslis word. Saterdag (23ste) om 13:00 kom Ridgeway teen die Mustangs op Cloud's End se veld te staan, waarna Ridgeway Sondag om 13:00 op die dorp se A-veld te staan kom teen Premjee.

 

 
 
 

Viewed: 1191

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT