ADVERTISEMENT:

 

 
 

Triegies se Marno van Zyl (middel) is ná drie ligabepalings steeds onoorwonne in die provinsiale skole Spur XCO-bergfietsliga. Hy het die afgelope naweek die junior-mansafdeling van die Tour de Pot in Mokopane gewen. Links en regs van hom staan Lachlan Truesdale en Robert Retief onderskeidelik, beide van Stanford Lake College, wat tweede en derde was. Foto: Hoërskool Louis Trichardt.

Triegies gemaklik voor in skoleliga

Date: 12 September 2016 By: Andries van Zyl

Hoërskool Louis Trichardt het die afgelope naweek hul voorsprong in die provinsiale skole Spur XCO-bergfietsliga verder vergroot, en met slegs een bepaling oor, blyk dit dat die skool vanjaar moeilik geklop gaan word.

Die skool se bergfietsryers het Saterdag na Mokopane gereis vir deelname aan die voorlaaste ligabepaling, die Tour de Pot. Die Triegie-ryers het uitstekend gery, met twee van hul top ryers, Marno van Zyl en Richard Lambert, wat steeds onoorwonne in die reeks is. Naas die naweek se eerste plekke, wen beide van hulle ook hul ouderdomsgroep tydens die Tour de Gat in Phalaborwa op 23 Junie en die Tour de Lake by Stanford Lake College op 13 Augustus.

Van Zyl het Saterdag die junior-mansafdeling gewen, nadat hy sy vier rondtes in 'n tyd van 01:06:17 voltooi, sowat ‘n minuut en ‘n half voor Lachlan Truesdale (01:07:40) van Stanford Lake. Hy moes egter hard werk vir sy wen, met slegs breukdele van ‘n sekonde wat hom en Truesdale oor die eerste twee rondtes van mekaar geskei het. Truesdale se spanmaat, Robert Retief, was derde in ‘n gesamentlike tyd van 01:10:07. Triegies se James Raper wys ook tande in dié afdeling en eindig algeheel sesde in 01:19:07. Spanmaat Erich Meyer was algeheel 11de uit 22 deelnemers in 01:30:50, met mede Triegie-ryers Eduan Naudé, FG Buitendag, Lean Kahts, Dillon Niemand en Drico Kahts wat onderskeidelik 12de, 13de, 15de, 17de en 20ste eindig.

Lambert wen ook sy wedren in die Youth-mansafdeling, bykans een-en-‘n-half minuut voor sy naaste teenstander, Carel Smit van Hoërskool Piet Potgieter, in ‘n gesamentlike tyd van 00:47:16 oor drie rondtes. Smit voltooi sy rondtes in 00:48:45, met Eldric Bekker (Piet Potgieter) derde in 00:51:02. Hierdie afdeling is een van die mees mededingende, met 42 deelnemers wat Saterdag kragte gemeet het. Triegies het ook heelwat deelnemers in dié afdeling gehad. Ryers wat almal hul drie rondtes kon voltooi was Heine de Jager (junior) wat sewende eindig in 00:53:43, Turner de Swardt 10de in 00:57:55, Rohan le Roux 12de in 01:00:23, PJ Greyling 18de in 01:05:59, Lukie Enslin 19de in 01:06:15 en Mulanga Momphiswana 21ste in 01:06:53. Richard Schwerdtfeger en Ruan Ackerman eindig onderskeidelik 34ste en 36ste.     

In die sub-junior mansafdeling mis Triegies se Eugene van den Heever net uit op ‘n podium plek en eindig vierde in ‘n tyd van 00:36:18 oor drie rondtes. Van den Heever was een van drie Triegie-ryers wat ‘n top-10 plek behaal uit 45 deelnemers. Rohan Cronjé het sesde klaargemaak in 00:37:06 en De Wet van Wyk agtste in 00:39:31. Die ander Triegie-ryers wat goed vertoon en al drie hul rondtes voltooi, was Herman Ethan, 12de (00:40:12), Calvin Lee, 14de (00:41:42) en Te-wan Naudé, 22ste.

In die junior-meisiesafdeling was dit plaaslike ryer Jadie McLeod van Ridgeway College wat die dorp se naam hoog hou met ‘n derde plek in ‘n gesamentlike tyd van 01:11:50 oor drie rondtes. Triegies se Joleen de Swardt ry weer ‘n top-10 plek los en eindig algeheel vyfde in 01:22:53. Spanmaat Charne Labuschagne eindig ook onder die top 10 in 01:24:10 uit 14 ryers.

In die Youth-meisiesafdeling is dit Triegies se Christelle Coetzer wat weereens vir ‘n podium plek sorg en derde eindig in ‘n tyd van 01:02:33 oor drie rondtes. Nuweling tot die sport Karla van Zyl palm ‘n algehele vierde plek in, met ‘n tyd van 01:11:05, met spanmaat Anicka Nel sesde in 01:25:07 in drie rondtes. Triegies se Mekayla Geyer was algeheel 11de, met nog ‘n Louis Trichardt-ryer, Emlyn Foord van Ridgeway College, 12de.

In die sub junior-meisiesafdeling spog die Triegie-span ook met ‘n podium plek. Dominique Nel eindig algeheel derde in ‘n tyd van 00:51:39. Dié afdeling word egter gewen deur ‘n lid van Laerskool Louis Trichardt se fietsryspan, Simoné Oberholzer, wat die twee rondtes voltooi in ‘n wentyd van 00:47:01, ‘n goeie twee-en-‘n-half minute voor haar naaste teenstander.

Met nog net die Tour de Lip wat op 17 September hier op eie bodem in die Hanglip-plantasie buite Louis Trichardt beslis gaan word, gaan dit moeilik wees om Hoërskool Louis Trichardt as voorloper in die reeks in te haal. Hulle is tans 91 punte voor Stanford Lake College, wat verlede jaar as wenskool uit die stryd getree het. Merensky lê tans derde, met Piet Potgieter in die vierde plek en PHS vyfde. Altesaam 15 hoërskole in die provinsie neem aan die liga deel. Alle oë sal op Van Zyl en Lambert wees om te sien of hulle onoorwonne uit die stryd sal tree. Beide sal in die geeltrui wegspring as provinsiale voorlopers op die punteleer.

 
 
 

Viewed: 825

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Nog ‘n Triegie-ryer wat onoorwonne in die provinsiale skole Spur XCO-bergfietsliga is, is Richard Lambert (middel). Hy was Saterdag ook die wenner van die Youth-mansafdeling van die Tour de Pot. Links en regs van hom staan Carel Smit en Eldric Bekker onderskeidelik, beide van Hoërskool Piet Potgieter, wat tweede en derde was. Foto: Hoërskool Louis Trichardt.

Hoërskool Louis Trichardt se Christelle Coetzer (regs) het Saterdag ‘n algehele derde plek los gery in die Youth-meisiesafdeling van die Tour de Pot in Mokopane. Saam met haar staan Emma van Coller (middel) van Waterberg wat die afdeling wen, en Reese Bain (links) van Stanford Lake College, wat tweede was. Foto: Hoërskool Louis Trichardt.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT