ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Glimlag pronk op CP van Wyk (regs) se gesig te midde van ‘n moordende en moeilike roete as deel van die eerste Varsity Sport MTB Challenge wat die afgelope naweek beslis is. Hy was deel van die Matie-mansspan wat beide dae se wedrenne gewen het om sodoende as algehele wenners uit die stryd te tree. Foto verskaf.   

CP deel van Matie-span wat Varsity-uitdaag wen

Date: 10 October 2016 By: Andries van Zyl

Die afgelope paar jaar het die Soutpansberg heelwat top fietsryers opgelewer, onder hulle CP van Wyk.

Van Wyk, ‘n inwoner van Levubu wat tans by die Universiteit van Stellenbosch studeer, het die afgelope naweek daartoe bygedra dat die Maties-span as algehele wenners van die eerste Varsity Sports MTB Challenge uit die stryd getree het.

Die Varsity Sports MTB Challenge is ‘n nuwe inisiatief soortgelyk aan die alombekende Varsity Cup vir universiteite se rugbyspanne, onder leiding van Francois Pienaar en FNB. Dit is oop vir alle studente, alumni en selfs die algemene publiek.

Van Wyk en die res van sy Matie-spanlede (Ian Lategan en Jacques Lloyd) het goed gebruik gemaak van hul “tuisveld” voordeel met hierdie eerste kompetisie, wat in die berge om Franschhoek beslis is op 1 en 2 Oktober. Die reeks is oor die twee dae oor van die Kaapse Wynland se mees uitdagende roetes beslis.

Deelnemers is die eerste dag aan ‘n strawwe 53 km wedren blootgestel, waarvan die eerste 10 km van die wedren ‘n moordende klim ingesluit het. Danksy ‘n sterk trap deur Van Wyk, tree Maties se mansspan op dag een as algehele wenners uit die stryd in ‘n tyd van 02:29:15. UCT se mansspan eindig tweede in 02:33:10, slegs drie sekondes voor die Tuks-manne in die derde plek in 02:33:13. Maties se vrouespan tree ook as algehele wenspan van die eerste dag uit die stryd in 02:53:48, met die Tuks-vroue in die tweede plek in 03:32:13.

Van Wyk, Lategan en Lloyd het op dag twee van die uitdaag dit beslis nie maklik gemaak vir hul opponente nie. Te midde van winderige toestande het meeste van die 49 km baan bestaan uit enkelspoor paadjies. Reeds vroeg in die wedren het die Matie-trio weggebreek van die res van die veld en kon daarin slaag om die tweede dag en die reeks te beklink in ‘n gesamentlike tyd van 04:47.50. Tuks se manne het goed teruggeveg en algeheel tweede geëindig in die reeks in ‘n gesamentlike tyd van 04:53.33, terwyl UCT afgeskuif en algeheel derde in die reeks geëindig het in ‘n gesamentlike tyd van 04:56.14.

Maties se vrouespan het ook vasgeklou aan hul voorsprong na die eerste dag en die reeks in ‘n gesamentlik tyd van 05:32.34 beklink, bykans ‘n uur beter as die Tuks-vroue in ‘n tyd van 06:26.28.

Van Wyk het ná afloop van die kompetisie hul sukses toe geskryf aan die feit dat hulle vertroud was met die roete. Hy het egter bygevoeg dat die baan geensins maklik was nie.

 
 
 

Viewed: 803

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

CP van Wyk (middel) hou die trofee en tjek vas wat hy en Matie-spanmaats Ian Lategan (links) en Jacques Lloyd (regs) ingepalm het as algehele wenners van die eerste Varsity Sport MTB Challenge wat die afgelope naweek by Franschhoek in die Kaap beslis is. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT