ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Malan bielies van Louis Trichardt. Links en regs van pa Felix is ma Lee en Danika. 

Nié Jan, maar Malans die Bielies van die Bosveld

Date: 17 October 2016 By: Isabel Venter

Daar mag dalk gesing word van Jan, die Bielie van die Bosveld, maar plaaslik is die Malans die Bielies van Louis Trichardt.

Felix Malan, vroulief Lee en hul oudste dogter, Danika, het vanaf 23 tot 25 September deelgeneem aan die Last Man Standing CrossFit-kompetisie, waar hulle behoorlik die pryse ingeoes het. Dit was net kleinsus Ziamay wat nie deelgeneem het nie, maar net omdat sy nog te jonk is om te mag inskryf vir die kompetisie. Altesaam 800 ander atlete het aan die kompetisie deelgeneem. Daar was selfs atlete vanaf Namibië.

Vir Felix was dit nie die eerste keer dat hy aan die kompetisie deelgeneem het nie. Hy het verlede jaar ook in die intermediêre meesterskategorie meegeding en ‘n algehele derde plek ingepalm.

Hierdie jaar het Felix algeheel eerste in sy kategorie geëindig. ‘n Verdere hoogtepunt, vertel Lee, was toe Garth Collins (voorheen bekend as die MTN Gladiator Granite) vir Felix kom aanmoedig het tydens sy finale rondte.

Lee self het ook goed presteer, veral as mens in ag neem dat dit die eerste jaar is wat sy aan dié kompetisie deelgeneem het. In haar kategorie vir intermediêre meestersvroue het Lee ‘n algehele tweede plek ingepalm. Die item wat haar ‘n voorsprong bo die ander deelnemers gegee het, vertel Lee, was in die laaste rondte van die kompetisie toe hulle etlike meters tou moes klim. Heelwat deelnemers het hier punte verloor, omdat hulle nie die tegniek onder die knie gehad het nie. “Gelukkig vir my is touklim een van die dinge wat ek die kinders hier in ons begginersklas leer,” het Lee gesê.

Oor die twee dae word die kompetisie beslis met taai oefenprogramme wat vooraf uitgewerk word. Elke program het ‘n verskillende roetines wat die deelnemers moet voltooi, soos burpees, crunches en box jumps, om maar ‘n paar te noem. Punte word aan ‘n deelnemer toegeken afhangende van die persentasie roetines wat korrek gedoen is en hoe vinnig dit afgehandel is.

Hierdie jaar het die kompetisie ook deelnemers se breinkrag getoets. Daar was byvoorbeeld ‘n item wat elke deelnemer self sy/haar gewigte moes balanseer aan twee kante van ‘n paal en dit dan oor ‘n afstand dra.

 “Buiten dat dit vir ons ‘n groot eer en genade is om te wen,” het Lee gesê, “was dit ook lekker om te sien dat ons gimnasium goed vergelyk met die groter gimnasiums in die land.”

Felix en Lee, beide CrossFit-instrukteurs, bestuur die OpenDoors Gimnasium op Louis Trichardt sedert 2014. Die egpaar se dogters volg ook in hulle voetspore.

Danika (16), wat ook ‘n Graad 10-leerling van Hoërskool Louis Trichardt is, het deelgeneem aan die vroue beginnerskategorie teen 140 ander deelnemers. Sy het deurgedring na die finale rondte en behaal ‘n algehele vyfde plek.

 

 
 
 

Viewed: 952

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Danika Malan in aksie tydens die Last Man Standing CrossFit-kompetisie. Foto verskaf deur Last Man Standing International.

Felix Malan besig om korte mette te maak in die tou trek afdeling. Foto verskaf deur Last Man Standing International.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT