ADVERTISEMENT:

 

Oom Hansie spog met sy modelstoomenjins

Date: 23 October 2015 By: Isabel Venter

Viewed: 9357

 

As mens oor treine gesels, veral met die ouer garde van Louis Trichardt, sal daardie gesprek ‘n draai gaan maak by Oom Hansie Uys.

Die 86-jarige oom Hansie het vandat hy ‘n tjokkertjie was karretjies, treine en modelstoomenjins versamel of self gebou. Hy het tot onlangs ‘n massiewe versameling gehad, maar moes in 2012 afskaal. Die spasie in die kamertjie agter die motorhuis by hul woonstel het eenvoudig net te min geword.

Tog het hy sy gunsteling modelle gehou, en hulle so opgestel dat hulle met lugdruk “lewendig” word. Die Zoutpansberger het besluit om dié stoommodelle van naderby te sien, en sommer ‘n video daarvan te maak. Lesers moet maar self gaan kyk op www.zoutpansberger.co.za na hierdie “mini-masjiene” van oom Hansie om te sien hoe hulle werk.

Van die modelle dateer sover terug as 1932. Een van die modelle waarop hy die trotsste is, is ‘n model wat in 1936 in Australië ‘n eersteprys op ‘n model ingenieurskou ontvang het. Oor die jare het oom Hansie 'n paar veranderinge aan hierdie model aangebring. Op die watersilo'tjie van die model het hy "Hansie Uys - Verre Noord" aangebring. Die model lyk nou as't ware soos 'n mini-dorp.

Vir hierdie model, vertel Oom Hansie, is hy al baie geld aangebied. "Maar ek sal hom nooit verkoop nie, hy's te mooi," sê die oom.

Van Oom Hansie se versamelstukke, soos sy modeltreine, is al vroeërjare per veiling verkoop, maar die wat hy oorgehou het kon hy net nie oor sy hart kry om te verkoop nie. Hy pas hulle mooi op, en maak gereeld seker dat die stoom nog werk.

 
 

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

More videos...

ADVERTISEMENT