ADVERTISEMENT:

 

128. Daisy se sonskynking leer haar van omgee

Date: 23 June 2016 By: 

Viewed: 832

“Dis nie fair nie, Bernard,” sê Daisy opstandig. Haar stem is dik en sy hoes rou.
Maar Bernard is onsimpatiek. “Jy weet wat die ooreenkoms is, Daisy. Dis nou weer jou beurt.”

“Jy is ‘n chauvinis. As jy jou sin kon kry, was ek al lankal swanger en kaalvoet in die kombuis,” kap Daisy blindelings.

Bernard lag kliphard. “Maar nou is jy net af en toe kaal in die kombuis, my mooiste. Maar miskien gee dit een of ander tyd aanleiding tot die ‘swanger’ gedeelte ... Sodra jy die ouerskap vakleerlingtoets geslaag het.” Hy skud soos hy lag vir sy eie grappie. 

“Het jy geen simpatie vir iemand wat besig is om Avbob se trappe op te kruip met longontsteking nie?” probeer Daisy weer.

“Dis net verkoue, Daisy. Ek vermoed jy verwys eerder na die snotterige trappe van Baby Soft en nie Avbob nie. Toe, hier is jou pantoffels en warm kamerjas. Die plassie is net agter die kombuistoonbank.”

Daisy het nie verdere kommentaar nie. Dis waar – sy het ‘n ooreenkoms met Bernard aangegaan oor Sunshine. Maar toe sy daai gevreetjie sien en haar teen haar nek koester, sou sy enigiets belowe het! Sy moes geweet het daar is ‘n vangplek iewers...

Volgens Daisy is die wêreld net in twee kategorieë verdeel – katliefhebbers en dan die res wat van honde hou. Nooit het sy vir ‘n oomblik getwyfel in watter kategorie sy val nie. Van kleins af het Daisy meer gemaklik gevoel saam met katte. “Hulle het wysheid en magiese insigte en weet sekere dinge in die lewe intuïtief,” het sy verkondig aan almal wat gewonder het wat sy aan katte het. “Katte is nie sulke wimps soos honde nie,” het Daisy gereeld vir Ousus gepreek. “Kyk nou net na al jou skoothonde wat saam met jou op die bed slaap. Hulle verbeel hulle hulle is mense. Sal nie eers self besluit om te gaan piepie as jy hulle nie buitekant toe vat nie! Katte het meer dignity en onafhanklikheid.”

Ousus stry nooit vreeslik nie. “Miskien sal jy beter verstaan as jy eers babas gehad het, Daisy. Wag maar. Ons praat weer. Broeisgeit kom soos ‘n dief in die nag.”

En alles sou steeds veilig volgens Daisy se Wet oor Katte en Honde gewerk het as dit nie vir ‘n laatnagfliek was wat sy en Bernard so maand gelede gekyk het nie. Die hoofkarakter van die tranetrekker was ‘n Golden Retriever. Daisy was verlore, al was haar voete stewig onder ‘n Siamese pelslyfie vasgewikkel.

Eers kon Bernard nie mooi verstaan wat gebeur het nie. “Maar hier is ‘n hele hoop honde op die plaas, Daisy? Grotes en kleintjies, party wat vreemdelinge byt, ander wat slange jag. Vir wat wil jy nog ‘n hond hier aanbring? Jy het mos jou katte – hier in die huis en daar by die skuur. Arnoldus mag tot by ons op die bed slaap...”

Teen daardie tyd was Daisy klaar aan die soek in die Landbouweekblad vir ‘n teler van Golden Retrievers. Binne minute gryp Daisy na haar foon en begin ‘n boodskap stuur.
“Jy kan nie die mense in die middel van die nag pla nie, Daisy. En in elk geval moet ons oor hierdie ding gesels. Jy kan nie alleen die besluit neem nie!” het Bernard probeer walgooi.

“Die teksboodskap is net om ‘n dogtertjie te reserveer tot ek self met hulle kan praat more. Dis juis bedagsaam dat ek hulle nie wakker bel nie, maar ek dink jy moet jou vere regskud om more Vanderbijlpark toe te vlieg, ou Barries. Okei, pappie. Praat, ek luister.” Daar is finaliteit in Daisy se stem. Sy trek die knip uit haar hare en vee al die los hare bymekaar in ‘n nuwe slordige kwaaijuffrou-bolla.

Soos enige ander volbloedman is Bernard nie noodwendig ingestel om sy diepste begeertes en gevoelens te deel nie. Hy het vroeg-vroeg in sy verhouding met Daisy vir haar van sy teorie van ‘cave’ en ‘klets’ vertel. Mans gaan in hulle grotte in totdat hulle wêreld weer sin maak; vrouens gaan klets dit uit met vriendinne tot hulle heelal ophou kantel.

En tot nou toe was als klopdisselboom. So, hoe in die wêreld deel hy met Daisy sy innigste begeerte om ‘n kind te hê?

 
 

 

More videos...

ADVERTISEMENT