ADVERTISEMENT:

 

 
 

Given Mpofu (middel) en sy medebeskuldigdes was kamerasku tydens hul hofverskyning verlede Vrydag.

Mpofu dreig weer

Date: 11 April 2014 By: Isabel Venter

Die polisievuurwapen waarmee ‘n beweerde gewelddadige rower vroeër vanjaar ontsnap het, is teruggevind.

Dit is nie te sê dié man het van sy planne afgesien om weer te ontsnap uit polisie-aanhouding nie. Die 24-jarige Given Mpofu het glo teenoor amptenare van die Louis Trichardt Landdroshof laat val dat hy weer sal ontsnap as iemand laat slap lê. Hy het verlede Vrydag saam met drie medebeskuldigdes in die Distrikshof hier verskyn.

Hulle is Dzulani Nemukula (23) en die 22-jarige Phumudzo Ramadzi. Al die klagte teen die derde beskuldigde, Brian Moyo, is teruggetrek omdat daar glo nie genoegsame bewyse teen hom gebring is deur die polisie nie.

Mpofu, Nemukula en Ramadzi het verskyn op altesaam 13 klagtes, wat gewissel het van roof en gewapende roof tot huisbraak. Mpofu en Nemukula staan ook tereg op ‘n klag van ontsnapping. Dié klag hou verband met ‘n voorval op 31 Januarie, toe hulle saam met Evans Chipara en Trust Chikwadzi daarin kon slaag om vanuit polisie-aanhouding te ontsnap. Die mans het ‘n polisieman oorrompel toe hulle na die Louis Trichardt Hof vervoer is vir hul verskyning. In die proses het hulle die beampte se dienspistool ook afgeneem.

Mpofu en Nemukula is weer op 8 Februarie op die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe aangekeer. Hulle het die pistool wat hulle gesteel het se wegsteekplek uitgewys aan die polisie, wat dit ingeneem het as ‘n bewysstuk.

Die drie mans het Vrydag, onder hewige polisie bewaking, in die hof verskyn. Hulle saak is uitgestel in afwagting op ‘n beslissing van die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV).  Die staatsaanklaer, Betheul Makhado, het tydens dié verskyning aangedui dat daar dalk nog meer aanklagte teen Mpofu en sy medebeskuldigdes gebring kan word en dat die DOV ook sal moet besluit of die aanklagte saamgevoeg sal word, sodat hulle tegelykertyd in een hof vervolg moet word.

Die Zoutpansberger het ook verneem dat Mpofu en sy medebeskuldigdes dalk die pistool gebruik het om nog ander misdade te pleeg. Verder vermoed die plaaslike polisie dat Mpofu verantwoordelik was vir die onrus in die Tshikota woongebied. Ontstoke inwoners het in November verlede jaar die ou Tshikota Lodge afgebrand waar hulle vermoed het Mpofu geskuil het. Die inwoners het Mpofu daarvan beskuldig dat hy en sy makkers ‘n skrikbewind in die area gevoer het.

Evans Chipara en Trust Chikwadzi word nog steeds gesoek deur die polisie. Daar word vermoed dat hulle dalk in Zimbabwe mag skuil.

Intussen bly Mpofu, Nemukula en Ramadzi in polisie-aanhouding tot hul volgende hofverskyning op 15 April.

 
 
 

Viewed: 382

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT