ADVERTISEMENT:

 

 
 

Marietjie Leonard vertolk die hoofrol van Meraai in Harnas. Sy is as kind ontvoer, en probeer nou lig werp op die donker wêreld waar kinders ontvoer en as slawe verkoop word.

Harnas goed ontvang tydens eerste optrede

Date: 15 August 2014 By: Isabel Venter

Na maande se gewag het Hoërskool Louis Trichardt se toneelgroep vir die eerste keer hul nuwe toneelstuk, Harnas, plaaslik opgevoer.

Dinsdagaand was die première in die skoolsaal uitgevoer – en die wag was die moeite werd.

Harnas het verlede week sy debuut in Gauteng, by die Tshwane Toneelfees, gemaak waar dit goed ontvang is en boonop ‘n paar toekennings ontvang het. 'n Totaal van  22 verhoogstukke is opgevoer, meestal van Gautengse skole.

Algeheel verower Harnas ‘n derdeplek en ontvang ook ‘n toekenning vir die Beste Tegnies en ‘n goue toekenning vir die Beste Ensemble. (Net drie ander toneelstukke het ook ‘n goue toekenning ontvang). Harnas­-akteur Ndodzo Mawela is ook aangewys as die Beste Ondersteunende Akteur.

Die toneelstuk, uit die pen van Marcel van Niekerk, open met ‘n slawekind wat ‘n liggie dra. Haar klein liggie simboliseer die onreg, naamlik die ontvoering en slawehandel van kinders in Suid-Afrika, wat reg onder mense se neuse gebeur en dikwels geïgnoreer word. “Party sake geniet meer aandag as ander, afhangende van hoe die mense persoonlik daardeur geraak word,” sê Marcel.

Meraai (Marietjie Leonard), wat die hoofrol vertolk, is dan die persoon wat aandag skenk aan dié gevaar wat kinders bedreig. Sy is as kind ontvoer, en omdat sy dié donker wêreld self ervaar het, besluit sy om ‘n dokumentêre program daaroor te maak. Sy word deur haar sussie Monna (Amica Theunissen) bygestaan, asook ‘n vriendin Anna (Annelise Pauer).

Nie net worstel Meraai met haar donker verlede nie, maar sy word ook geteister deur nagmerries en moet teleurstelling oorkom, terwyl sy haar dokumentêre program maak. Mr Medupe (Ndodzo Mawela) verteenwoordig die regering en staan verskeie onderhoude toe aan Meraai. Hy het egter ook ‘n donker geheim...

Kinderontvoerders word regdeur Harnas uitgebeeld deur scavs. Hulle word vertolk deur Ika Smith, Jamy Jonker, Billy Scott, Jaco van Zyl en Wynand Mouton. Die kinderslawe is Marlie Muller, Leandri Muller, Harika Scholtz, Riane Prinsloo en Wanga Ramuhuyu.

“Harnas is ‘n baie intense stuk en dit verg baie werk om die emosies reg oor te dra,” het Marietjie gesê. Billy Scott het weer na die tyd vertel hoe moeilik dit was om so ‘n wrede scav uit te beeld. “Die scav is nie ‘n karakter waaraan ek gewoond is nie – dit is moeilik om die kinders rond te pluk,” het hy gesê.

Na afloop van die plaaslike première het Marcel gesê die groep voel nou meer afgerond, verhoog gereed en reg vir die ATKV Gauteng-Suid tienertoneel-streekfees. Die streekfees word vanaf 18 tot 22 Augustus in die Springs stadsteater aangebied. Twintig stukke sal deelneem en die vier beste stukke sal weer die 22ste tydens die streeksfeesfinaal optree. “Ons sien uit daarna, en is reg vir die kompetisie,” het Marcel gesê.

Vir diegene wat nie Harnas se opening kon bywoon nie, sê Marcel, sal daar later vanjaar weer ‘n kans wees om die toneel te sien. Meer besonderhede oor volgende plaaslike opvoerings sal nader aan die tyd bekend gemaak word.

 
 
 

Viewed: 419

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Harika Scholtz, wat een van die slawekinders in Harnas vertolk. Dié stuk is vir die heel eerste keer Dinsdag op 'n plaaslike verhoog opgevoer. Scavs omring 'n kind wat hulle gevang het en gaan wegvoer om as slaaf te verkoop. Die rol van hierdie kind word vertolk deur Marlie Muller.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT