ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wie gaan nou eintlik baat by nuwe kraglyne?

Date: 18 July 2014 By: Isabel Venter

Twee jaar nadat Eskom ‘n aankondiging gemaak het oor honderde kilometers se kraglyne vir die Limpopo Provinsie, heers daar steeds gemengde gevoelens oor die beoogde projekte.

Eskom het gedurende 2012 aangekondig dat hulle nie net een nie, maar twee nuwe 400kV-hoogspanningslyne vir hul beoogde subkragstasie naby Bokmakierie wil aanlê. Een van die lyne word beplan van Eskom se Tabor-substasie, naby Polokwane, verby Blouberg na Nzhelele. Hierdie projek staan bekend as die Tabor/Nzhelele-lyn. Die tweede lyn word beoog vanaf Eskom se Borutho-substasie in Mokopane, ook tot by die Bokmakierie-substasie by Nzhelele.

Dit is die tweede lyn, die Borutho/Nzhelele-lyn, wat veral die boere en gemeenskap van die Vivo-streek dwars in die krop steek.

Talle boere wat geraak word deur die Borutho-lyn het aangedui dat hulle oorweeg om teen die Departement van Omgewingsake (DvO) se goedkeuring van Eskom se finale omgewingsimpakverslag te appelleer – vir ‘n tweede keer.

Die DvO het op 13 Junie vanjaar die Bobrakrivier Boerevereniging (BRBV) van Vivo in kennis gestel dat Eskom se omgewingsplan goedgekeur is, en dat daar voortgegaan kan word met die konstruksie van die Borutho-lyn. Die lyn sal langs ‘n gedeelte van die R521 roete strek, wat tussen Polokwane en Alldays geleë is. Hierna volg die lyn ‘n oostelike roete wat deur die Waterpoort- en Mopanegebied strek om by die Bokmakierie-substasie aan te sluit.

Aanvanklik is Eskom se omgewingsplan gedurende 2013 afgekeur. Volgens die BRBV was daar talle administratiewe foute en onvoldoende inligting in die omgewingsplan en ‘n swak proses van openbare deelname is gevolg. Maar terwyl dié vereniging hul misnoeë met Eskom en die DvO uitgespreek het, en in die proses is om hul appèl aan te teken, heers daar ook onduidelikheid oor wie by die nuwe kraglyne sal baat.

Eskom het vandeesweek amptelik in ‘n e-pos aan die koerant bevestig dat die doel van die twee projekte is “om die elektrisiteitsnetwerk te versterk, sodat elke kliënt wat ‘n konneksie tot dié netwerk nodig het, aan die netwerk gekoppel kan word.” Volgens Eskom ervaar hulle tans beperkings om hulle verpligtinge na te kom, naamlik om in Suid-Afrika se primêre elektrisiteitsaanvraag te voldoen.

Verder ontken Eskom dat CoAL of Africa Limited (CoAL), ‘n prospekteer mynmaatskappy, druk op hulle geplaas het om die twee projekte so gou as moontlik af te handel. Dit volg nadat die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU) tydens ‘n openbare konsultasie met Eskom se konsultante kapsie aangeteken het dat beide die konsultante en CoAL erken het dat CoAL kragvoorsiening benodig vir sy ontwikkelinge in Limpopo.

“Eskom is nie bewus van enige druk van CoAL nie. CoAL het deelgeneem aan die openbare konsultasieproses as ‘n belanghebbende party omdat die kraglyn [Borutho] sommige van hul eiendomme in die Blouberg-gebied raak,” het Eskom in ‘n e-pos geantwoord.

Organisasies soos die BRBV en die SDLU meen dat die projekte jarelange boerdery-ondernemings in die streek sal ontwrig of selfs tot gevolg sal hê dat boere ophou boer.

“Daar is boere langs hierdie roete wat aangedui het hulle boerdery word soveel benadeel dat hulle geensins hulle weg oopsien om voort te gaan met boerdery nie.  Daar is selfs boere wat reeds twee kraglyne op hulle plase akkommodeer, en nou ‘n derde kraglyn in die gesig staar,” sê die SDLU.

Ander boere (wat graag anoniem wil bly) het weer aangedui dat hulle die nuwe kraglyne verwelkom. Hul oorwegende opinie is dat Eskom hul goedgekeurde omgewingsplan moet wysig, en dit dan tot uitvoer bring wanneer konstruksie van die kraglyne begin.

Die koerant kon intussen vasstel dat verskeie privaat grondeienaars, boere, en ander organisasies wel appèlle ingedien het by die DoV. Dit kan nou maande neem voordat Eskom in kennis gestel sal word of hul huidige omgewingsplan gewysig sal moet word. Indien wel, sal ‘n nuwe dokument opgestel en aan die geaffekteerde gemeenskap voorgelê word vir goedkeuring. Eers dan sal Eskom met konstruksie van die lyn kan begin.

 
 
 

Viewed: 218

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT