ADVERTISEMENT:

 

 
 

38. Daisy huil haar lag uit op jong Plore se kussing

Date: 25 July 2014 By: News Correspondent

Daar is ‘n paar dinge in die lewe wat die vlugtige Daisy diep raak: Miss Soft Serve, haar swart kat, haar hoenders, Breyten se poësie, Die Blues, ‘n sekere man met blou oë ... En haar peetkind.

Van al haar neefs en niggies is dié een vir haar besonders. Daar is nie ‘n groot ouderdomsverskil tussen Daisy en Plore nie en etlike kere was hulle koppe al in een mus. Hulle was al male sonder tal mekaar se verskoning vir een of ander onhebbelikheid en van kleins af het Daisy hom bederf. In die stilligheid moet Daisy ook beken dat haar ge­reelde kuiers in Pretoria meer as net ‘n klein bietjie gegaan het daaroor om vir Plore te sien.

Met die afgelope gebeure in haar lewe was dit heeltemal te lank terug dat Daisy behoorlik saam met Plore kon kuier. Hulle telefoongesprekke was frustrerend opper­vlakkig en beperk tot ‘ja, dit gaan goed, hoe gannit met jou?’. Nie regtig saam braai of oor cocktails by ‘n raserige Hatfield uithangplek die wêreld se probleme oplos nie, nie regtig vir mekaar se grappies lag tot die trane rol nie, nie regtig mekaar gas gee of raad gee oor die teenoorgestelde geslag nie ... Daisy mis vir Plore.

Sy gryp ‘n geleentheid aan om saam met Bernard Pretoria toe te vlieg en vir Plore te kuier terwyl die doktor besigheid doen. Sy het bitter min vir Plore vertel van die nuwe man in haar lewe; miskien is hierdie haar kans om die verliefdheid wat haar so vinnig oorval het in perspektief te plaas. Nie dat Plore eintlik vreeslik belangstel in romanse nie - sy vermoed dat braai en ‘n bier in hierdie stadium selfs meer aandag kry as sy studies!

“Plore, het jy al Fifty Shades gelees?” vra Daisy laataand nadat al Plore se lawaaierige pêlle daar weg is.

“Waaaat? Wie, ék? Met hierdie onskuldige gesiggie sulke rowwe goed aanskou?” Plore lag diep uit sy maag uit. “Nee, Daisy. Ek het nie álles gelees nie, net die dele wat saakmaak...” giggel hy.

“Ja, toe nou, Plore. Ek praat nie van die blou dele nie, man. Eerder die storielyn van ‘n skatryk man met ‘n komplekse kinderlewe,” sug Daisy dramaties.

“Oukei Daisy, ek is die ene ore. Lyk my jy brand om oor die man te praat? Gebruik hy ook swepies en handboeie en dinge? Komaan, antie – give me the dirt! Jy weet mos ek praat nie uit nie...” Plore se oë skitter soos rooi ligte in die Walletjes.

“Plore, kry jou gedagtes uit die riool uit! Ek en die man deel nie eers ‘n slaapkamer nie – ons kuier nog net. Sónder vasmaakgoed en swepies! Ons wil mekaar eers baie beter leer ken,” sê Daisy kuis.

“Jy kom nie so maklik uit dié een nie, my liewe Daisy. Het jy nou al al die kamers in sy huis geïnspekteer? Op die plaas en hier in die stad? Is jy seker hy het nie ook ‘n speelkamer iewers nie? Of miskien steek hy al daai goed in sy jet weg vir wanneer die auto pilot oorneem...” Plore val van die bank af soos hy lag.

Daisy kan nie help om saam te lag nie. Die aansteeklikheid word later ‘n ligte histerie – Daisy en Plore lag dat die trane loop. Sodra daar ‘n bietjie sedigheid intree, is een kyk na die ander een genoeg om weer ‘n gelag te begin.

Van pure uitputting lê Daisy en Plore later uitgestrek op die sitkamerbanke. Hulle is doodstil en ontspanne.

“Jy weet, Plore, ek het nog altyd gemeen daar is net so vier maniere om van stres ontslae te raak.

Die een is ‘n lekker braai met baie brannas en Coke en ‘n vetterige T-been, die ander een is ‘n goeie huil tot jou kussing papnat is en die ander een is uitbundige en onbevange lag ... Ek voel sommer nou baie beter oor al die skielike veranderinge in my lewe!”

“En die vierde manier, Daisy?”

“Hoe nou, Plore?”

“Jy’t gesê daar is viér maniere om van stres ontslae te raak, Daise. Wat is die vierde manier?

“Haai nee, Plore. Jy is heeltemal te jonk en onskuldig om oor sulke goed te praat, my liewe peetkind!

Maar miskien kan jy jou verbeel­ding gebruik as ek vir jou sê dit het NIKS met Prozac te doen nie!” giggel sy.

(Word vervolg)

 
 
 

Viewed: 423

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT