ADVERTISEMENT:

 

 
 

Dawie Groenewald

Groenewald-saak vir ‘n jaar uitgestel

Date: 25 July 2014 By: Isabel Venter

Dawie Groenewald en sy 10 medebeskuldigdes, wat beskuldig word van die onwettige jag op renosters, het Maandag vlugtig in die Pretoriase Hooggeregshof verskyn.

Die saak teen Groenewald en sy medebeskuldigdes, wat nou al meer as vier jaar sloer, sou na verwagting ‘n aanvang neem, maar is weer vir ‘n jaar uitgestel. Die ander beskuldigdes is Groenewald se vrou Sariette (37), twee veeartse, Karel Toet (49) en Manie du Plessis (40), Toet se vrou, Marisa (41), Toet se werknemer, Jacobus Marthinus Pronk (51), drie professionele jagters, Tielman Erasmus (36), Gys du Preez (32) en Nardus Rossouw (45), ‘n helikopter vlieënier, Dewald Gouws (28) en ‘n plaaswerker, Paul Matoromela (64).

Saam staar die 11 'n totaal van 1 872 klagtes, wat onder meer insluit permitoortredings, geldwassery, onwettige jag en die handel in en die verkoop van renosterhorings, asook oortredings van die Wet op Biodiversiteit en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, in die gesig.

Groenewald, die eienaar van Out of Africa Adventurous Safaris, word volgens die klagstaat daarvan aangekla dat sy besigheidsaktiwiteite wettige en onwettige bedrywighede ingesluit het. Hy en sy medebeskuldigdes sou glo renosters onwettig onthoring, gejag en onwettig besit of verkoop het. Daar is ook aanklagte wat verband hou met die onwettige besit en vervoer van olifanttande, pogings tot regsverydeling en die onwettige jag van ‘n luiperd.

Die groep word ook daarvan verdink dat hulle die renosters op Groenewald se wildsplaas Prachtig, sowat 60km suid van Musina, onwettig gejag het met die uitsluitlike doel om handel te dryf met die horings.

Maandag het staatsaanklaer Joanie Spies, in oorleg met die Regter President en die beskuldigdes se regspan, aangedui dat die verhoor uitgestel moes word, hangende die uitslag van ‘n ander Hooggeregshof saak, waarin die Staat onder meer gevra word om die moratorium op die verkoop van renosterhorings te lig.

Sy het verwys na die aansoek wat mnr. Johan Kruger, ‘n wildboer van Alldays en goeie vriend en sake vennoot van Groenewald, ingedien het. Die Zoutpansberger het vroeër vanjaar berig oor Kruger se jaarlange stryd met die Staat om die moratorium op die handel in renosterhorings opgehef te kry. Hy het ook ‘n aansoek gebring dat sekere dele van die Wet op Biodiversiteit se regulasies oor beskermde of bedreigde spesies hersien en ongeldig verklaar moet word. Kruger se argument in sy aansoek was dat die hersiening van die regulasies renosterboere in staat sal stel om ‘n wins te maak.

Behalwe vir dié uitslag waarop Spies wag, het sy verder ook aangedui dat sy meer as een beswaarskrif van die verdedigingspan ontvang het, waarop sy ook moes antwoord. Sy het aangedui dat die dokumente volumes beslaan, en dat dit nie altyd duidelik is teen watter klagte die beskuldigers beswaar gemaak het nie.

Die saak is uitgestel tot en met 4 Augustus 2015.

 
 
 

Viewed: 1175

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT