ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die skewe graf wat verlede week groot verleentheid vir die familie en roubeklaers in Makhado (Louis Trichardt) veroorsaak het. Almal wou weet of die Makhado Munisipaliteit dan geen respek het vir dooies en hul families nie? Foto verskaf.

Het hulle geen respek vir dood en familie nie?

Date: 25 July 2014 By: Linda van der Westhuizen

“Het hulle dan geen respek vir die dood of die gevoelens van die familie nie?” Dit is die vraag wat talle roubeklaers hulself gevra het tydens ‘n begrafnis in die munisipale begraafplaas in Makhado (Louis Trichardt) verlede week.

Die graf was so skeef gegrawe, dat die roubeklaers niks ander kon doen as om net hul koppe te skud nie. By ‘n vorige geleentheid was daar glad nie ‘n graf gegrawe nie en by ander begrafnisse was daar al telkens niemand van die munisipaliteit om die graf toe te gooi nie. Grafte word ook soms so wyd gegrawe dat die begrafnisondernemers nie die kis reg kan laat sak nie.

Mnr. Freddie de Swardt was een van die ontstelde roubeklaers by verlede week se begrafnis. “Daar is geen respek vir die afgestorwene nie en dit is oneerbiedig teenoor die mense wat hartseer is. Die operateur van die tru-grawer weet klaarblyklik nie hoe om die masjien te hanteer nie en kan skynbaar nie agterkom dat die graf heeltemal uit lyn met die ander grafte is nie,” het De Swardt gesê. Hy het genoem dat die familie van die oorledene nie genoem wil word nie omdat hulle alreeds te veel seer, teleurstelling en vernedering moes beleef as gevolg van die munisipaliteit se swak en halfhartige diens ten opsigte van die grawe van die graf. Buiten die skewe graf, het die operateur van die munisipale tru-grawer sommer die grond uit die graf bo-op ‘n grafblad langsaan gegooi.

Ds. Jan Pretorius vind die situasie ontstellend. “My ervaring is dat die munisipaliteit bloot nie omgee vir ons naasbestaandes en afgestorwenes nie.  Ons betaal belasting en grafkostes vir werk en ons verwag dat dit  betyds en professioneel gedoen behoort te word, maar helaas, dit is ver van die werklikheid,” het ds. Pretorius gesê.

Martin’s Funerals, ‘n plaaslike begrafnisonderneming, ervaar ook gereeld probleme met die munisipaliteit. Hulle het al ondervind dat die hoop grond ver van die oop graf gestort word en wanneer die graf toegegooi moet word, is die munisipale operateur skoonveld. Dan moet die hulle en die familie maar self die graf toegooi. “Ander kere is die grafte se kante nie mooi regaf gegrawe nie en is daar ‘n vernouing wat keer dat die kis kan afsak,” het me. Gerda Nagel van Martin’s, wat aan mnr. Dries Nel behoort, gesê en bygevoeg dat hulle nie meer lus voel om die munisipale fooie vir die oop en toemaak van die grafte te betaal nie. Sy het gesê hulle sal die geld eerder gebruik om iemand te huur om die grafte ordentlik toe te gooi.

Verskeie vrae rakende die situasie by die begraafplaas en verlede week se skewe graf is aan die Makhado Munisipaliteit gestel. Teen druktyd het hulle egter nog nie daarop gereageer nie.

 
 
 

Viewed: 366

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

Die grond wat uitgegrawe is, is sommer net bo-op die grafblad langsaan gegooi. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT