ADVERTISEMENT:

 

Ysbak-gier vat ook hier vlam

Date: 28 August 2014 By: Isabel Venter

Viewed: 6786

 

Die ys is nou hier gebreek in Makhado (Louis Trichardt).

Pest Control Specialists was verlede week die eerstes om die nuutste sosiale mediagier, naamlik die Ysbak-uitdaging, hier in die dorp ten uitvoer te bring. Hierdie uitdaging, of dan nou die ASL Ice Bucket Challenge, kweek bewustheid vir mense wat ly aan motorneuronsiekte (MNS).

Die uitdaging het in Amerika en Engeland ontstaan, en het die afgelope maand soos ‘n veldbrand versprei in Suid-Afrika.

Verlede Vrydag het die span van Pest Control, bestaande uit Dawn Smit, Peet Snyder en Johan Jacobs, op hul sypaadjie gesit terwyl emmers yswater oor hulle uitgegooi is. “Ek het rêrig gehoop vir ‘n bietjie warmer weer vandag,” het Dawn kort voor die uitdaging gesê.

Sy en haar span se uitdaging is op video vasgelê, en lesers kan daarna gaan kyk op die koerant se webblad op www.zoutpansberger.co.za. Dawn het aan die einde van die video almal van die dorp, maar spesifiek besighede, uitgedaag om ook deel te neem aan die veldtog. “Dit is vir ‘n goeie saak, mense,” was haar uitdaging.

Dié veldtog het ook ten doel om mense te motiveer om geld aan enige MNS-organisasie te skenk. ‘n Persoon of instansie wat by name uitgedaag word tot ‘n ysbak-uitdaging, en dit nie binne 24 uur op die sosiale media laai nie, moet ‘n boete betaal. Hierdie boete moet die vorm aanneem van ‘n donasie aan ‘n organisasie wat MNS-leiers bystaan of hulle beywer vir navorsing. 

Sowat twee weke gelede het die bekende oud-Springbok en MNS-leier, Joost van der Westhuizen, die eerste Suid-Afrikaner geword om aan die uitdaging deel te neem.

Gaan kyk gerus na die video onder ons video afdeling.

 
 

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

More videos...

ADVERTISEMENT