Van nederige begin tot gevestigde naam ...

Die eerste uitgawe van die Zoutpansberger het op 25 Januarie 1985 op straat verskyn, en sedertdien het die koerant ‘n integrale deel van die streek en sy mense geword.

Die idee van ‘n eie koerant vir die Soutpansberg het in Louis Trichardt gearriveer met Johann du Plessis in sy ou Peugeot en karavaan. Voor sy aankoms, was Johann die bemarkingsbestuurder by die Northern Review in Polo­kwane. Die koerantbedryf was dus nie vir hom vreemd nie.

Aanvanklik het Johann, of Johann Koerant soos baie later na hom sou verwys, die koerant vanuit sy karavaan in die munisipale karavaanpark bedryf. Hy het daarna na sy eerste “kantoor” geskuif in die destydse Thompson’s gebou in Songozwistraat. Kort daarna het sy vrou, Melinda, by hom aangesluit.

Alhoewel die eerste Zoutpansberger op 25 Januarie, 1985, op straat verskyn het, moes lesers vir drie weke wag voor die tweede uitgawe van die koerant kon verskyn. Die vertraging is veroorsaak deur ‘n probleem met die registrasie van die koerant, maar gelukkig kon Johann dit vinnig uitsorteer.

Ná ‘n paar maande het Johann die koerant se kantore verskuif na die Rentmeester gebou in Kroghstraat, oorkant Robot Elektries. Hierdie kantoor sou hy aanvanklik deel met H&W Drukkers. Rondom 1992 het die koerant se kantoor weer geskuif, maar darem net na ‘n kantoor langs H&W Drukkers. Een van die grootste gebeurtenisse in die koerant se geskiedenis het in 1995 plaasgevind. Reeds die vorige jaar het Johann begin met onderhandelinge om ‘n huis te koop in Joubertstraat. Die idee was om dit in ‘n kantoor te omskep. Die koop is in 1995 beklink en bouspanne het begin om die woonhuis in kantoorspasie te omskep.

Die groot vierslaapkamer huis sou ‘n produksiekamer, twee donker­kamers, ‘n bemar­kings- en nuusafdeling, asook ‘n ontvangsarea huisves. Halfpad deur die bouproses, te midde van nat sement, stof en bakstene, het die koerant se personeel intrek geneem in hul nuwe kantore. Om dinge verder te kompliseer, het Johann terselfdertyd besluit om ook twee enkelvel platbedperse te installeer.

Dié besluit was nog ‘n belangrike mylpaal in die geskiedenis van die koerant, want vir die eerste keer is die hele koerantproses vanaf nuusinsameling, advertensies optrek, bladuitleg en die uiteindelik druk van die koerant, op een perseel gedoen. Vandag word die Zoutpansberger, en haar susterskoerant die Limpopo Mirror, steeds vanuit hierdie “ou woonhuis” te Joubertstraat 16B bedryf.

     

Vir meer as 130 jaar is koerante deel van Limpopo

Selfs in die mees noordelike deel van Suid-Afrika, wat ons vandag ken as Limpopo, is koerante al meer as 130 jaar deel van die plaaslike gemeenskappe. Bykans dieselfde tyd dat nasionale koerante hul versky­ning in die groter stede begin maak het, het die eerste plaaslike koerante hier verskyn.  Die plaaslike koeran­te het ook hul kwota “kleurvolle” karakters gelewer, soos die bekende skrywer Herman Charles Bosman.

Ons kan aanvaar dat die nasionale koerante soos The Star en andere reeds teen die laat 1800’s ook hul weg na die noorde gevind het. The (Eastern) Star is in 1871 in Grahamstown begin, maar het in 1887 hul drukpers na Johannesburg verskuif. Ander koerante soos die De Zuid-Afrikaan was waarskynlik ook in omloop. Koerante met meer van ‘n Transvaalse agtergrond sluit in De Oude Emigrant (gestig 1850) en Die Volkstem (1874-1951).

Die eerste amptelike koerant wat in die provinsie gepubliseer is, was The Zoutpansberg Review and Mining Journal. Dit is in 1888 deur Munnik, T. Kleinenberg en die broers Clark uitgegee. Die eerste redakteur was Sir Frederick Howard Hamilton, wat sy opleiding by Cambridge ondergaan het en hom in 1889 in Suid-Afrika gevestig het. Hy is sowat ‘n jaar later na The Star in Johannesburg, waar hy in 1895 redakteur geword het.

Interessant genoeg was Sir Hamilton baie uitgesproke teenoor dit wat die Britse magte aangevang het en het hom sterk uitgespreek teen die Jameson inval (‘n insident wat aanleiding gegee het tot die Anglo-Boereoorlog). Sy kritiek teenoor die inval het hom ook uiters ongewild gemaak by die eienaars van The Star en dit was nie lank voordat hy bedank en teruggekeer het na Brittanje toe nie.

Alhoewel heelwat bronne aandui dat die Zoutpansberg Review in die destydse Pietersburg begin is, was die eerste kantoor na alle waarskynlikheid geleë in Smitsdorp, ‘n vroeë nedersetting. Smitsdorp het nie lank bestaan nie en bedrywighede is verskuif na Pietersburg.

In 1896, drie jaar voor die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het, het die Zoutpansberg Wachter sy eerste verskyning gemaak. Die koerant, met Nederlands as voertaal, is begin deur ‘n mnr. M van der Burg en was in opposisie met die Zoutpansberg Review. Die koerant was die Boeremagte baie goedgesind en het ‘n belangrike rol gespeel tydens die oorlog. Toe die Britse weermag noordwaarts begin beweeg het, het die Boeremagte in Pietersburg saamgetrek, en gedurende dié periode is die Zoutpansberg Wachter toegelaat om geldnote en seëls namens die Zuid-Afrikaansche Republiek te druk.

Op 7 April 1901 het die Britse magte Pietersburg beset en so ook die kantore van die Zoutpansberg Wachter. Die Britse magte het besluit om op 12 April 1901 een laaste uitgawe van die koerant te publiseer – in Engels. ‘n Britse offisier het die hoofberig geskryf waarin hy probeer verduidelik hoekom die dorp beset is en hoe hopeloos die Boeremagte se situasie is. Kort hierna het die Engelse die gebou opgeblaas, kompleet met die drukpers en ander masjinerie.

In die jare ná die oorlog het nog ‘n paar uitgewers probeer om die mark binne te dring. Die koerante het inge­sluit De BoerenvriendThe Zoutpansberg Advertiser en The Pietersburg Illustrated Buster.

In 1904 was die Zoutpansberg Review, wat in daardie stadium aan William Brown behoort het, die enigste streekspublikasie wat gereeld verskyn het. Dieselfde uitgewers het ook later ‘n Afrikaanse koerant, De Zoutpansberger, en ‘n koerant gemik op die swart lesers in die area, Leihlo la Babatsho (“Die Oog van die Mense”) uitgegee.

Een van Suid-Afrika se bekendste skrywers, Herman Charles Bosman, het vir ‘n kort tydjie die redakteurstoel van die Zoutpansberg Review volgesit. Bosman was ‘n vriend van mnr. Solly Marcus, wat die koerant in 1930 gekoop het ná die besigheid insolvent verklaar is. Die Marcus-egpaar het daarin geslaag om die koerant uit te bou tot een van die belangrikste komponente van die gemeenskap.  In daardie stadium het dit twee keer per week verskyn (Dinsdae en Vrydae) en vyf distrikte, naamlik Waterberg, Potgietersrus, Letaba, Zoutpansberg en Pietersburg bedien.

Bosman het diens aanvaar op 26 Maart, 1943, nadat hy en sy vrou, Ella, op die dorp aangekom het. In Bosman se eerste redaksionele kommentaar vir die koerant maak hy die volgende interessante opmerking:
“What is the editor’s influence on the newspaper he issues?
One would say, just about nil. Fleet Street’s verdict is that the modern newspaper is influenced to an almost negligible degree by the personality of its editor. The occupants of the editorial chair go and come. The continuity resides in the editorial policy. It is the newspaper that is permanent. The more it changes, the more it remains the same.
Which is well.”

Bosman het klaarblyklik later toegegee dat daar uitsonderings op die reël is. Nie lank daarna nie, in Oktober 1943, was hy midde in ‘n skandaal toe hy ‘n plaaslike onderwyseressie swanger gemaak het en ‘n onwettige aborsie laat doen het.  Met sy hofverskyning het hy ‘n kortbroek en sandale gedra en sy vrou het sy toonnaels met rooi naellak geverf. Die klagte teen hom is later teruggetrek, maar dit was duidelik dat dié kleurryke karakter se tydjie in die noorde uitgeloop het.

In 1936 het ‘n groepie Afrikaanssprekende inwoners Die Noord-Trans­valer begin. Dit het saamgeval met die stigting van Die Transvaler in Johannesburg in 1937, met Dr. H.F. Verwoerd as redakteur. Die eerste eienaar van Die Noord-Transvaler was J.M. Lessing.
Kort na die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Solly Marcus die Zoutpansberg Review aan Unievolks­pers verkoop. In die daaropvolgende tien jaar het die koerant se gewildheid afgeneem en dit het ‘n mondstuk begin word vir die Nasionale Party. Toe dit in 1953 oorgekoop is deur Henry (Harry) Cooper, moes die koerant reeds hard veg om oorlewing teen nuwelinge in die mark soos Die Noordelike Stem en Die Môrester.

Die Môrester het sy ontstaan te danke aan ‘n uiters eksentrieke “Ryk” Schoeman, ook bekend as Koos Schoe­man. Hierdie welaf boer het verskeie vreemde sienings gehad, onder meer dat seks tussen ‘n man en sy vrou nie toelaatbaar is nie. Kinders sou verwek word deur die toetrede van ‘n Hoër Hand. Die koerant het gefokus op boerderybedrywighede.

Nader aan Louis Trichardt het die hoof van die plaaslike Indiërskool, Phil van der Merwe, ‘n koerantjie, die Zoutpansberger, in 1953 begin. Hierdie A4-grootte koerantjie het weekliks verskyn vir etlike maande en was gevul met nuus oor die plaaslike gemeenskap. Dit het ongelukkig nie lank oorleef nie en is later geïnkorporeer in Die Noord-Transvaler.

In Pietersburg het die koerante se stryd om oorlewing voortgeduur. Harry Cooper, bygestaan deur ‘n jong en energieke Naomi de Jager, het die Zoutpansberg Review weer uitgebou tot die gewilde produk van weleer. In 1961 is die drukkerybelange verkoop en die koerant is in Potgietersrus laat druk. Die koerant se naam is ook ver­ander na die Northern Review. Naomi se man, Robert, het in 1964 by die koerant aangesluit en in 1975 het die De Jager-egpaar alleeneienaars van die Northern Review geword.

Die Noord-Transvaler, wat veral in Potgietersrus sterk gevestig was, is deur die Perskor-groep oorgeneem en het sy voetspoor al verder versprei. Koerante soos Die Môrester is by dié koerant ingelyf, asook koerante soos die Soutpansberg Herald wat in die 1980’s vir ‘n kort rukkie in Louis Trichardt verskyn het.

In 1981 begin ‘n energieke jong kunstenaar, Eugene Diener, Die Pos koerant op die destydse Warmbad. Hy verkoop die publikasie later aan Bea Emslie en Keina de Swardt en dié koerant word steeds beskou as een van die beste voorbeelde van gemeen­skaps­joernalistiek in die land. Kort daarna, in Augustus 1983, het Pieter Coetzee Die Kwêvoël op Thabazimbi begin.

In 1985 het Johann du Plessis, wat in daardie stadium bemarkingsbestuur­der van die Northern Review was, besluit om sy eie koerant op Louis Trichardt te begin. Vanuit sy woonwa in die plaaslike karavaanpark het hy op 25 Januarie 1985 die eerste uitgawe van die Zoutpansberger saamgestel en sodoende ‘n nuwe vervolgverhaal in die streek se koerantgeskiedenis begin skryf.

In Augustus 1990 het Johann begin beplan aan nog ‘n nuwe projek, naamlik die loodsing van die streek se eerste onafhanklike koerant wat gerig is op die Venda-sprekende mark. Die Venda Mirror, met Wikus Lee as redakteur, het sy eerste verskyning op 7 September 1990 gemaak en is gedruk en versprei in die voormalige Venda tuisland. Die koerant het stelselmatig gegroei tot waar dit vandag die publikasie is met die beste verspreidingsyfer vir gemeenskapskoerante met ‘n omslagprys in die provinsie.

Vroeg in 1990 het Louis Trichardt ook die koms van die Berg Banier gesien. Hierdie onafhanklike publikasie is deur Hennie Theron begin en bedryf, te midde van sy ander ver­pligtinge soos skoolhoof. Die koerant het ‘n meer konserwatiewe politieke aanslag gehad en het by tye goeie ondersoekende joernalistiek gelewer, maar kon egter nie die mas opkom op die kommersiële front nie.

In 1992 besluit Perskor om die formaat van Die Noord-Transvaler te verander na poniegrootte (A2 gevou) en die naam verander na Die Monitor.

Vyf jaar later, in 1997, besluit die De Jager-egpaar om die Northern Review te verkoop aan Nasionale Pers en vir ‘n kort rukkie het die twee groot koerantgroepe mekaar in die Pietersburg mark geopponeer. In ‘n baie skielike wending is Perskor oorgeneem deur die Caxton groep, wat veral aan die Rand sterk gegroei het in die mark vir gemeenskapskoerante. Rondom 1999 was daar ‘n ruilooreenkoms tussen Nasionale Pers en Caxton, en daarvolgens is Caxton se Vrystaat en Wes-Kaap koerante verruil vir Nasio­na­le Pers se noordelike koerante. Dit het meegebring dat Caxton skielik twee koerante in Pietersburg besit het. Die Monitor het verdwyn en is geïnkor­poreer in die Review.

In Desember 2000 het Johann die Zoutpansberger en Venda Mirror aan Anton van Zyl verkoop, wat tot in daardie stadium nuusredakteur van die Zoutpansberger was. Die Venda Mirror se naam is ‘n paar maande later verander na die Limpopo Mirror ten einde die groter verspreidingsgebied meer akkuraat te beskryf. Ironies genoeg is daar ‘n jaar later besluit om die provinsie se naam te verander na Limpopo.
In 2005 het Caxton besluit om meer te fokus op die Soutpansberg-mark en die Vhembe Herald op die been gebring.

Die twis tussen die Zoutpansberger en Vhembe Herald het selfs ‘n draai gemaak in die Mededingingstribunaal, maar die Mededingingskommissie het teen ‘n amptelike vervolging beslis. Die plaaslike mark kon egter nie twee koe­rante akkommodeer nie en ‘n paar jaar later is die Vhembe Herald geïnkorporeer as deel van die Northern Review.

Verskeie plaaslike koerante in ander dele van die provinsie het die afgelope 20 jaar verskyn. Caxton se Northern Media Group in Polokwane het gespog met titels in Tzaneen (Letaba Herald en Mopanie News), Phalaborwa (Phalaborwa Herald), Mokopane (Bosvelder) en die Polokwane Express. Hulle het ook ‘n streekskoerant, die Capricorn Voice, begin. 

In Polokwane het Willie Esterhuysen in 2004 die Polokwane Observer begin as teenvoeter vir die Northern Review. Hierdie koerant het sterk groei getoon en in ‘n relatiewe kort tydperk ‘n groot deel van die advertensiemark begin lok. Willie het die Observer se oorblywende aandele in 2013 aan Naspers verkoop.

Die onafhanklike uitgewers het hul merk gelaat in die mark en is baie gewild onder lesers. Die onafhanklike titels sluit in die Bulletin (Tzaneen en omgewing) wat in 2003 verskyn het, met Francois Aucamp as eienaar/redakteur, die Noordelike Nuus (Mokopane en Lephalale) met Jasper en Helena Raats as eienaars en die Kruger 2 Canyon (Hoedspruit) onder leiding van Heidi Lee-Smit. In die Lephalale-area het die Mogol Pos (Lephalale) rondom 1996 verskyn en in Polokwane het die Informant ook ‘n kort leeftyd in die vroeë 2000’s gehad.

Een aspek wat nie beduidende groei getoon het nie, is publikasies in van die inheemse tale. Diphete Bopape se Seipone koerant bestaan steeds, maar sukkel om kommersiële sukses te behaal. Die koerant het in ‘n stadium nuus in drie tale, naamlik Sotho, Tsonga en Venda aangebied.