2. Daisy doen shopping en maak ‘n slang dood

Date: 11 October 2013 By: News Correspondent

Viewed: 658

Daar is ‘n paar dinge waaroor Daisy ‘n Ding het - die een is kosmaak. Die ander is slange. (En mag dit nooit, ooit weer in dieselfde asem genoem word nie!)

Daisy het alreeds met die inpakslag besef dat kosvoorraad in die bos onvoorspelbaar is. Sonder ‘n ryding, sonder geld, moet daar geïmproviseer word. Maar haar pioniersinstinkte is onblusbaar. Sy bedel hoenders by haar familie; drie sal doen. (Sy kry tien.) In die NTK sien sy ‘n dun boekie oor hoenders en hulle geite, nog ‘n boek oor groenteboerdery. Sy pak haar elegante swart drasak met tuingereedskap (volledig met ‘n pikante swart kussingkie waarop jy kan kniel). Ook haar wit tuinmaak Crocs en etlike pakkies saad – roket, basiliekruid, bok choi, eiervrug, soetpepers, preie en ranktamaties. Sy het vae visioene van ‘n wurmplaas om al die huishoudelike afval te verwerk in plantvoedsel.

Na ‘n week in die bos het Daisy klaar met die oog ‘n lappie grond uitgemeet vir ‘n kombuistuin. Naby die enigste kraan, ‘n uitsig oor die rivier, genoeg koelte, genoeg son. Die Bosbewoner se bestaande visvangwurmbedryf beïndruk Daisy vreeslik. Sy sien haarself asemrowende geregte optower, sy sien haarself deelneem aan die ubuntu-voedselketting! Saam met kekerertjies, lensies, bruinrys, olyfolie, suurlemoensap en vars brandrissies – sy dink Thai, sy dink Viëtnamees, sy dink Suid-Indiese kormas en Maleise bobotie ...

Maar die boekprojek hou haar besig. En Afrikatyd vermoor en verkrag haar korporatiewe gewoontes en protokols. ‘n Baie Belangrike Persoon se besoek word telefonies gemaak vir Donderdag. Daisy nooi die man impulsief ook uit vir ete tydens die informele voorlegging van die projek. Sy diep iets konserwatiefs en korporatief uit haar (steeds) gepakte tasse en by die weerkaatsing van ‘n stowwerige venster (die huis het haar spieël ook ingesluk!) smeer sy maskara en lipglans aan. Sy werk verwoed aan die Powerpoint voorlegging – die BBP kan enige tyd kom.

Teen donkerskemer maak Daisy bekaf avokadopeer toebroodjies vir die Bosbewoner en haarself. Die Bosbewoner troos dat die BBP more sal kom, dat die voorlegging uitstekend is, dat Daisy en die BBP dadelik sal kliek ... Buite begin die honde blaf en dadelik begin Daisy se korporatiewe adrenalien weer vloei. Sy sit solank koffiewater op.

“Daisy, DÁISY!” skree die Bosbewoner van buite af. “Bring ‘n stok! Góú!”

Daisy wil-wil haar net vererg, dis nie nou tyd vir grapppies nie. Maar iets aan die man se stem weerklink ook in die dringende blaf van die honde. Sy storm buitekant toe, reg op die man af wat met sy flits op haar lappie toekomstige groentetuin skyn.

“Bring ‘n stok!” skree hy weer. “En dan kom hou jy die flits vas sodat ek die slang se rug kan afslaan!” Daisy gryp vervaard na die besem, daar is ys in haar are en haar nekhare staan orent. “Kom, vroumens, jy moet góú maak, netnou is die ding in die huis!” In dieselfde asem gil hy: “Néé, nie die blêddie besem nie, dit val uitmekaar uit!” (Net toe kom sy dit self ook agter.) “Daar, gryp die pyp langs die muur en kom hou die flits vas!”

Sy moet binne millisekondes besluit of sy die bangste is om twee meter van die slang af die flits te kom vashou, of die gramskap van die intimiderende Bosbewoner op die hals te haal. As ‘n nagedagte verduidelik hy dat die slang verblind word deur die flits en nie in haar rigting sal spoeg of aanval nie – Daisy het nie ‘n ander keuse as om die man te glo nie.

Verbysterend genoeg is daar geen verligting oor Daisy toe slang verbrysel lê nie. Iewers diep binne-in is daar skaamte oor haar vreeslike fobie, oor die doodmaak van ‘n Godskepping. In haar dagboek daardie aand is haar gedagtes somber, sien sy elke skaduwee naby haar bed as ‘n potensiële mfesi. Die baba gemmerkat se oë is toegeswel van ‘n skrams spoegslag en Daisy moet hard op haar lip byt om nie op te krul en te grens soos ‘n kind nie.

Die volgende oggend maak die Bosbewoner Daisy wakker met koffie in die bed. “Kom,” sê hy. “Ek weet wat ‘n vrou dadelik sal laat beter voel – kom ons gaan shop by die nuwe winkel.” Daisy draai haar kikoi om haar lyf, borsel haar tande en trek haar boetse en hoed aan vir die stappie. By die winkel koop hulle koekmeel en olie.

“Vandag,” sê Bosbewoner, “vandag bak ek vir jou pannekoek. En vergeet van kos as die BBP vandag kom – hy bring sommer altyd sy eie kos saam.”

Later sit Daisy die laaste stroperigheid van die pannekoek en aflek van haar vingers af. Sy beloer die stukkie aarde waar sy laas kruie en groente sou plant, maar sy sien net slang.
“Miskien volgende week,” dink sy “sodra die BBP hier was.” En vat nog ‘n slukkie rooibostee.

Lees ook:

1. Daisy gaan bos toe om ‘n boek te skryf

3. Daisy ontmoet die bure en word geweeg ...

 
 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

Email: news@zoutnet.co.za

 
 

More photos...