ADVERTISEMENT:

 

 
 

5. Daisy krenk ‘n ego en begin tuinmaak

Date: 31 October 2013 By: News Correspondent

Vroegoggend sit Daisy opgekrul op ‘n seilstoel en kyk hoe die son opkom oor die rivier. Dis die hoenders se tweede skroptoer om die werf en Drachma kondig dit vir die soveelste keer aan.

“Weet jy, Bos,” sê sy en vat nog ‘n slukkie koffie. “Lente hier in die bosveld is darem wragtig mooi. Seker nou nie die kleurvolle tjoklitboks spektakel van Europa of Kanada nie; dis skamer en meer subtiel. En mens moet Afrika goed ken om die volle spektrum daarvan te beleef,” borduur Daisy dromerig voort.

Die Bosbewoner se glimlag is helderder as die son wat goud deur die kremetarttakke op die oorkantste oewer skyn. “Ek het ‘n wonderlike idee, Daisy. Kom ons vat vanoggend ‘n bietjie tyd af van die boekskrywery en dan gaan wys ek jou hoe die lente in die bos regtig lyk. Ag toe, daar is so baie wat ek jou wil wys?” pleit hy soos ‘n kind op Kersaand.

5Daisy pak ‘n paar toebroodjies, lemoene en genoeg water in die Bosbewoner se bladsak. Dan trek sy haar stapboetse aan, sit haar pana­mahoed op haar kop en bind ‘n kikoi om haar heupe. “Reg, Bos. Lead the way. Ek is geheel en al in jou hande, solank jy net ‘n stewige stok het vir enige nuuskierige reptiellewe!”

By die rivier, wyd gespoel deur die vloede van Januarie, begin Daisy opgewonde raak oor hulle avontuur. Uit die hoek van sy oog sien die Bosbewoner hoe Daisy huiwer om deur die koeimis te loop om by die water uit te kom. Hy trek sy Crocs uit en skuif sy bladsak uit die pad uit. Dan kom buk hy voor Daisy. “Spring,” sê hy.

Dis bietjie kripties vir Daisy. “Wat nou?” vra sy blond en frons. “Spring op my rug dan abba ek jou oorkant toe,” antwoord die man.

“Haai Bos, dis vreeslik nice van jou en ek is dankbaar en so, maar die water is vlak en my stapboets is gemaak om water ook aan te durf,” wys sy die bedagsame aanbod van die hand. Eers toe hy opgeruk deur die water plons sonder om om te kyk, besef sy dat sy ego alweer in die slag gebly het.


“Dit kom daarvan as mens ‘n kluisenaar is. Vergeet skoon hoe om met mansmense te werk,” mor sy onder haar asem.

Op die oorkantste oewer gee die Bosbewoner ‘n gruwelike pas aan. Daar is sand en los klippe en brandnetels en Daisy neem haarself voor om dadelik op te hou rook. Die Bosbewoner is amper honderd tree voor haar by die gemeenskap­like waterput. Sy kom uitasem soos ‘n ou Ford trekker op hom afgestorm en aanvaar dankbaar die soet, helder water wat hy vir haar pomp. Dis ‘n vredesoffer.
Die oggend gaan soos ‘n droom verby. Die Bosbewoner wys haar al die bome wat blom – die valsdoring se wit bloeisels, die effens donkerder bloeisels van die knoppiesdoring, die sagte pienk van die maroelabome, die goudgeel blomme van die sambokpeul en die uitbundige geel ritse van die berggranaat. Hy vertel haar dat daar geglo word dat kremetartbome blom tien dae voor dit begin reën, dat ebbehout se sade nie onder die moederboom ontkiem nie.

Daisy is doodstil; dis ‘n meester wat praat. Later vertel hy van die bye ook. En voëls en diere en klimaat. Sy passie is aansteeklik. Onder ‘n groot wildesering gooi Daisy haar kikoi oop en hulle eet die toebroodjies en lemoene. Toe lê hulle vir ‘n ruk doodstil en kyk na die wolke.

Op pad terug begin ‘n plan in Daisy se kop vorm aanneem. Maar dit gaan mooi broodjies verg om by die Bosbewoner verby te kom. By die rivier vra Daisy die man mooi om haar oor te abba – die gesloesh van nat boetse was nie aangenaam nie. By die hut maak sy vir hom koffie.

“Bos,” sê sy flankeerderig. “Jy weet, daai wurmboerdery van jou ...?”
“Jaa-a?” vra hy wantrouerig.

“Ag Bos, man, ek het nou gedink. Kan ek nie maar net so klein bietjie slaaigoed daar plant nie? Nie hope aartappels en tamaties en stapelvoedsel nie. Net so klein bietjie roket en radyse en kruie ... Dink net die lekker kos wat ek dán vir jou kan maak,” speel Daisy die smulpaap se troefkaart. “Buitendien, jy het my vandag so geïnspireer met al jou wonderlike vertellings van die bos, my groen vingers jeuk!”

Die Bosbewoner kyk lank oor die rivier uit terwyl hy sy koffie rustig klaar drink.

“Mmmm,” dink hy hardop. “Jy sê jy sal nog beter kos kan maak met al daai groen goed? Nog beter as die disse wat jy elke aand voorsit?” “Sonder twyfel, Bos,” glimlag Daisy in sy rigting.
“Nou toe, gaan haal jou gereedskap en saad, dan help ek jou gou.”

 
 
 

Viewed: 458

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT