ADVERTISEMENT:

 

 
 

6. Daisy skud haar lyf reg en gaan op ‘n date

Date: 07 November 2013 By: News Correspondent

Daisy maak haar oë oop en soek dadelik na ‘n Panado. Sy weet nog nie wat haar naam is of watter jaar dit is nie, maar sy is alreeds kwaad. Vanoggend is daar g’n teken van haar spirituele beginsel om elke dag met groot dankbaarheid te begin nie.

Die Bosbewoner sit op ‘n leunstoel langs Daisy en drink sy koffie. Hy loer bekommerd na haar en verkies om die woorde waarmee sy wakker word te ignoreer.

“Daisy, hei Daisy,” begin hy versigtig, “wat is verkeerd? Kan ek vir jou koffie bring om daai pille mee af te sluk, of wil jy liewers water hê?”

“Dis alles jou skuld, Bos! Dis hierdie vervlakste harde bank van jou waarop ek moet slaap! En net waar ek die meeste ondersteuning nodig het, is daar ‘n duik so groot soos Kimberley se gat! Ek kan nie beweeg nie, my heuppotjies is seer, my rug is seer, my boude is seer ... Dis alles jou skuld!”
Uit die rigting van die ketel en op ‘n veilige afstand hoor Daisy die Bosbewoner lag.

“Ek het jou lankal gesê jy sal gemakliker wees as jy agter my rug kom inkruip,” grinnik die man.
“Bos, jy is op dun ys! My lyf mag stukkend wees, maar my beginsels is ondeurdringbaar soos ‘n haak-en-steek. Maak asseblief gou met daai koffie; ek ly vreeslik,” bejammer Daisy haarself.

Na ‘n middagete van jaffles en rooibostee rol Daisy haar wit beddegoed uit op die gewraakte bank.
“Asseblief Bos, ek het ‘n siestatjie nodig. Kom ons los vanmiddag se skryfsessie dan kan jy dalk sommer jou houtaflewerings gaan doen? In elk geval is daar hierdie lieflike boek oor kremetarte wat ek moet lees vir navorsingdoeleindes, jy weet?” pleit sy. Sy skud nog twee Panados op haar hand uit en gaan haal ‘n botteltjie water uit die yskas uit.

Heelwat later skud die Bosbewoner Daisy aan haar skouer. Sy rol kreunend om en haar eerste gedagte is dat iemand sowaar die son gesteel het. Dis laatmiddag.

“Daisy, mmm ...,” stotter die man. “Ek het nou so gedink. Miskien moet ek jou uitvat vanaand as jou rug bietjie beter is. Wat dink jy?”

Daisy glimlag en gaap lui-lui. Daar is beelde van seekos en knoffel en yskoue, droë wit wyn en geruite tafeldoeke en kerse wat verlangs haar smaakkliere begin prikkel. “Haai, Bos, het ek jou al vertel hoe wonderlik jy eintlik is?” spin sy soos ‘n sonwarm kat. “Ja, toe, toe, toe. Lig jou seer alie en gaan maak reg,” sê hy bruusk en bloos sowaar.

Iewers tussen haar skuimbad en die rooi lipstiffie word Daisy behoorlik wakker. Wat op aarde sou Bos bedoel met haar uitvat? Hier is mos nie eetplekke nie! En die Landcruiser mag nie op paaie gaan nie ... “Miskien is daar ie­wers ‘n sjebeen wat ek niks van weet nie,” dink Daisy optimisties. “Dit kan net pret wees, veral as mens kan uitsien na die harde musiek wat by die winkel speel. En met die forse Bosbewoner daar, is daar seker nie te veel wat kan verkeerd loop nie,” bespiegel sy. Maar sy besluit tóg op ‘n etniese serp om haar kop en praktiese, skerpioenproef skoene in plaas van stylvolle wighakke en ‘n romantiese wit rokkie.

Die Bosbewoner maak vir haar die deur van die Landcruiser oop en probeer haar seer heupe op die sitplek laai sonder om vatterig voor te kom. Sy volgepropte bladsak druk hy agter die sitplek in. Dan onthou hy blykbaar iets en hardloop terug in die hut in. Hy kom terug met die rooi Masai kombers en gee dit vir Daisy aan om vas te hou.

“Ons moet net gou eers by die winkel en die drankwinkel aangaan. Het jy ook iets nodig?” vra hy galant. “Miskien kan jy dalk net hoor of hulle al lugtyd gekry het. Hulle sou al twee dae gelede ingekry het - met ‘n bietjie geluk het Afrikatyd nou al ingeskop. En vind sommer uit of hulle al ‘n sushisjef aangestel het!” Die Bosbewoner lag en lyk besonder gelukkig dat daar geen moontlikheid van enige rou vis op sy onmiddellike horison is nie.

Hy laai sonder groot vertoon die aankope agterop die Landcruiser.  Dan ry hy met ‘n ewe skommelende pad teen die oorkantste oewer van die rivier af. By ‘n eenvoudige huisie met ‘n kruietuin stop hy. “Kom,” order hy sonder omhaal en begin met pakkies en bladsak aanstryk na ‘n hoogtetjie agter die huis. Daisy val uit die Landcruiser en volg hom steunend en wankelrig met die rooi kombers. Bo-op die hoogtetjie is daar ‘n houtdek wat ‘n ontroerende mooi vista van sononder oor die rivier bied . Die Bosbewoner gooi die kombers oop en haal glase uit sy bladsak. Uit die plastieksakke haal hy bier en lemonade, smeerkaas, Lemon Creams en droë wors.

“Mike-hulle is in Pretoria,” verduidelik hy. “Maar hulle sal nie omgee nie. En Daisy, dis nou nie Franse sjampanje of sushi nie, maar cheers! Ten minste kan ons vanaand eers later begin kyk na die liggies van die lugversorger!”

 
 
 

Viewed: 571

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT