ADVERTISEMENT:

 

 
 

7. Daisy word siek en verlaat haar nuwe bostuiste

Date: 15 November 2013 By: News Correspondent

Iewers in die nag word Daisy wakker. Vir ‘n oomblik wonder sy of dit Drachma of Elvis was, maar dan oorval die naarheid haar weer. Sy soek naarstigtelik na haar flits en storm vervaard na die toilet toe. Vir ‘n verandering is daar geen versigtigheid vir slange, skerpioene of agtvoe­tiges nie en sy haal haar bestemming net betyds. Toe sy die vyfde keer haar kop in die porselein indruk, besef sy sy het ‘n groter probleem as die naar – haar ingewande dwing ook na die ander uiterste van haar dermkanaal! Herhaaldelik. Aanhoudend.

Teen dagbreek hang Daisy soos ‘n afgeslagte rooibokvel oor die toilet. Sy het vir ‘n paar minute op ‘n keer met haar kop teen die muur aan die slaap geraak. Haar flits skyn flouerig op die vloer en Daisy wens kliphard vir ‘n mamba om haar uit haar lyding te verlos. Uiteindelik is dit die kouekoors wat haar genoeg motiveer om weer tussen haar wit lakens en komberse te gaan inkruip.

Die Bosbewoner staan besorgd op toe Daisy in loop. “Ek is siek, Bos. Buite hoop”, prewel sy en kruip bibberend onder haar beddegoed in.

“Daisy, ek gaan maak gou vuur in die donkie. Jou pyjamas is papnat gesweet en jy lyk maar toiingrig. ‘n Skuimbad gaan jou beter laat voel en vinnig daai kouekoors ook breek.” Daisy protesteer nie, maar tot die Bosbewoner se konsternasie begin sy huil.

“Ag nee man, Daisy. Dis nie regverdig nie, jy weet mos mans weet nie wat om te doen met ‘n vrou wat huil nie. En jy lyk nie regtig toiingrig nie, jy lyk net blêddie siek en ek weet nie wat om te doen nie!” Hy storm senuweeagtig buite toe om die donkie te stook. Daisy huil weemoedig voort. “Dis makliker om te huil as om asem te haal,” fluister sy in haar kussing.

‘n Uur en nog drie besoeke aan die toilet later is die water warm. Die Bosbewoner krap in Daisy se stapels klere rond en lyk verlig toe hy op  haar blou dogtertjiepyjamas met die vriendelike skapies afkom. Hy vat dit saam met ‘n handdoek badkamer toe en draai die krane oop, kom terug en help vir Daisy uit die bed uit. Daisy verseker hom sy sal self kan uittrek. Sy lê lusteloos in die bad totdat die warm water die ergste van die koors hokslaan. Sy was hare, borsel haar tande en strompel weer terug na haar bank toe. Die Bosbewoner het intussen haar bed na die beste van sy vermoë opgemaak en dra vir haar ‘n beker swart, bitter rooibostee aan. “Ek maak vir ons jaffles vir brekfis, hoor?” paai hy. Die tee word dik in Daisy se keel.

“Ek wil niks eet nie, dankie. Maar maak vir jou ...” sug sy flou. Minute later, toe die geur van die Bosbewoner se ontbyt haar neus tref, hardloop Daisy weer toilet toe. Sy klim bewend van die kouekoors terug in haar slaapplek en draai haar rug op die wêreld. Haar koorsdrome kom uit iets tussen die Duiwel van die Kinderbybel en die kuns van Hieronymus Bosch, Salvador Dali en Picasso. Dis gesaai van slange en skerpioene en iewers tussen die newels besef Daisy dat sy hardop skree en spinnekoppe van haar probeer afklap.

Dit bly min of meer die roetine vir die volgende twee dae. Sy hou later skaars water in. Op die derde dag vang die Bosbewoner haar in ‘n redelike wakker en sober oomblik.

“Daisy, jy is baie siek. Jy moet by ‘n hospitaal of kliniek uitkom. Maar onthou jy dat ek jou vertel het ek moet vandag vir besigheid weggaan? Ek sal sommer vir jou ‘n geleentheid reël saam met iemand van die myn wat more moet teruggaan Pretoria toe. Intussen sal ek vir vriend Mahindra vra om hier by jou te kom bly vandag. Jy kan nie so alleen hier bly nie, hy moet sy skoolmaatjie kom oppas.” Daisy het geen belang by die reëlings nie. Sy gee nie om om alleen te bly nie. Solank almal haar uitlos sodat sy net kan slaap; as sy wakker is word sy bang sy gaan níé dood nie ...

Twee dae later kan Daisy net blertsies onthou: die Bosbewoner wat haar goed in ‘n bakkie laai, die verskrikte vreemdeling wat haar aflaai by die Gedenkhospitaal op Louis Trichardt, die gesukkel om ‘n aar te kry om ‘n drup vir haar aan te sit.

“Haai Daisy, hoe voel jy?” Daisy draai haar kop na die bekende stem toe. Sy was nog nooit so bly om haar suster te sien nie.

Daisy begin saggies huil. “Nou gaan ek nie daardie eksotiese slaai kan maak met die roket en radyse wat ek geplant het nie. En dink jy Bos sal onthou waar Bessie se weglênes is en dat Drachma en Elvis se hok saans toegemaak moet word?”

 
 
 

Viewed: 433

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT