ADVERTISEMENT:

 

 
 

9. Daisy kry eindelik ‘n “date” vir matriekafskeid

Date: 29 November 2013 By: News Correspondent

Dis Vrydag.

Op die patio brand daar ‘n groot braai­vleisvuur. Jakobus gaan haal ys in die vrieskas. Op die groot houttafel staan daar reeds sodawater, Coke en sy gunsteling brannas. Ousus ken al die ritueel. Sy het van mayonnaise en soet rissies doopsous gemaak en agurkies en gerookte mossels saam met die beskuitjies en tjips uitgepak.

“Ai, Daisy, ek is so bly jy’s terug! Nou het ek weer ‘n maatjie om sundowners mee te drink. Jy weet mos jou sussie sit steeds nie haar mond aan drank nie, nie eers na jare van ‘n voorbeeld wees vir haar nie.”

“Nee Jakoboos – ek los maar die verderf vir jou. Iemand moet ‘n goéie voorbeeld vir ons kinders wees. Kyk nou maar vir Plore hier, as hy na sy pa geluister het, het hy kaalvoet skool toe gegaan en saans net plastieksakke om sy voete gebind om nie die lakens vuil te maak nie...,” skerts Ousus terug.

Plore is in matriek. Gedurende die week is hy ‘n koshuisbrak en naweke handhaaf hy ‘n besige sosiale skedule. Sy allerbelangrikste tydverdryf is om elke sekonde van elke dag met sy Liefie op WhatsApp te deel. Hy het nie veel erg aan familiedinge nie. Sy grootste dankbaarheid is dat sy ma ‘n pos by ‘n skool nader aan die plaas aanvaar het.  ‘n Ma wat vir jou skoolhou was te veel van ‘n verleentheid om te sluk.

“Ma weet, daai arme Meneer Basson wat vir ons Wiskunde gee het nog steeds nie ‘n date vir die matriekafskeid volgende Vrydag nie. Hy sê daar is so min meisies in die dorp, mens kan nie kies nie, jy wag maar net tot jy ‘n beurt kry. En daar is nie so iemand in die vooruitsig nie. Ken julle nie ‘n los meisie nie?”

Daar sak ‘n stilte op die patio neer terwyl elkeen herkou aan die dilemma. Swaerie gooi fronsend nog ‘n dop en gee vir Daisy hare aan. Ingedagte bied hy vir haar ‘n sigaret aan en dan verhelder sy gesig. “Maar wat van jou peetma, Plore?”

“Wat van my peetma, Pa?” sug Plore met oordrewe geduld vir oumense wat die kluts kwyt is.

Swaerie en Ousus kyk vir mekaar en albei glimlag slinks vir Daisy.

“Wat?” sê Daisy. “Waaaaat?” sê Plore geskok toe hy besef wat aangaan.

Vir ‘n volle week is Daisy ‘n senuweebol. Sy kla by Ousus dat sy al haar sosiale vaardighede verloor het, dat sy haar geliefde peetkind in die skande gaan steek, dat sy niks het om aan te trek nie, dat sy nie kan dans nie, dat sy nie eers Wiskunde vir matriek gehad het nie. Haar suster het onwrikbaar doof geword. Daisy word ingelig oor reëlings: ‘n haarafspraak by dieselfde plek waar Plore sy hare gaan laat sny, hoe laat sy en waar sy haar blind date moet kry.

“Ja, toe nou maar Daisy. Die man is heel ordentlik en buitendien, ek en Jakobus gaan albei ook daar wees. Stop nou jou drama-maniertjies! Ek het my hande vol om vir Jakobus te oortuig om skoene te dra en ‘n das aan te wurg.”

Vrydag laatmiddag kom Daisy onseker uit haar gastehuiskamer. Sy dra haar een en enigste formele rok; ‘n noupassende swart nommertjie met ‘n oop rug. Sy het haarself bederf met ‘n nuwe rooi lipstiffie wat by haar naels pas en haar gedoende blonde hare tuimel krullerig oor haar skouers. By die kar trippel Ousus al rond van senuwees. “Toe, toe Daisy. Ons moet vroeg daar wees sodat jy vir Meneer Basson kan ontmoet. Klim, Jakobus, klim.”

Swaerie laat hom nie aanjaag nie. “Draai bietjie in die rondte, Daisy, laat ek mooi kan sien? Dink jy regtig daai oop rug is ‘n goeie ding vir ‘n aand met ‘n vreemde man, hmm? Die mannetjie moet net nie idees kry nie.” Hy klink eerder na die pa van ‘n matriekmeisie.

“KAN ONS NOU IN VADERSNAAM RY?” strip Plore hom. “Dis erg genoeg dat die helfte van my familie by die matriekafskeid gaan wees, nou gaan ek nog laat wees ook! Liefie gaan beslis nie gelukkig wees nie.”

Saterdagoggend is almal half stroef in die kar op pad terug van Polokwane af. Natuurlik kom Daisy niks agter nie, sy borrel oor van details oor die matriekafskeid. “Hoorie Ousus, dit was een van die mooiste funksies wat ek nog by was. Die rooi rose in die hoë silwer vase was pragtig, die formele swart en wit tema en al daardie bling op die naamkaartjies en spyskaarte. O, en en die sjampanje en salige salsamusiek...”

“Daisy, jy praat te veel en te hard. Ek het hoofpyn. Vertel liewer - hoe was jou aand saam met Meneer Basson?” Swaerie is vanoggend weer Jakoboos.

“Weet jy, Jakobus, ek was mos ‘n lekker pokkel in matriek en bitter skaam. Het jy geweet dat ek nie ‘n date gehad het vir my matriekafskeid nie? Het jy geweet dat ek die hele tyd soos ‘n verlepte muurblommetjie alleen by ‘n tafel gesit het terwyl almal gesakkie-sakkie het op daai groot dansvloer van die Tshipise Hotel? Natuurlik kon ek daai jare nog nie my smarte met ‘n glas witwyn versuip nie.”

“Gisteraand, antie, gisteraand,” sug Plore beswaard.

“Gisteraand, my liewe peetkind, gisteraand het ek die perfekte matriekafskeid met ‘n dróóm date gehad. Mý perfekte matriekafskeid!” lag Daisy en sy begin sing:
“I could have danced all night, I could have danced all night, and still have begged for more. I could have spread my wings, and done a thousand things I’ve never done before...!”

 

 
 
 

Viewed: 569

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT