ADVERTISEMENT:

 

 
 

10. Daisy word in die versoeking gestel om te werk

Date: 06 December 2013 By: News Correspondent

“Môre Daisy,” groet Swaerie vrolik in die kombuis. Daisy grom net en kry haar groen, mega koffiebeker in die spens.

“Wat van ék maak vir jou koffie en beskuit vanoggend en dan gaan sit ons buite op die stoep. Ek wil met jou praat.”

“Vir wat is jy so vriendelik so vroeg in die oggend, hmm? Ek weet nog nie eers of my naam regtig Daisy is nie! Jy weet mos van beter,” betig Daisy iessegrimmig.

Gelukkig wéét Swaerie van beter. Hy praat niks verder voor Daisy nie haar tweede beskuit in het en klaar gerook het nie. “Nou toe, Jakobus. Wat op aarde kan so belangrik wees hierdie tyd van die oggend? Dis my stiltetyd – in meer as een opsig! Ek het tot vroeg vanoggend gesit en skryf aan my boek.”

“Dis waaroor ek met jou wil praat, Daisy. Jy kan nie heeldag op die internet rondhang en skryf-skryf speel nie. Dis tyd dat jy konstruktief wérk!”

Daisy wil-wil haar net vererg, maar dis te vroeg in die oggend. Sy vou haar arms en lê terug in die stoel. Uit die hoogte uit vra sy: “En wat stel jy nogal voor as konstruktiewe werk? Het jy nog ‘n trekkerdrywer nodig?”

Swaerie skud soos hy lag. “Asof ek jou op een van my trekkers sal vertrou...! Maar jy’s heeltemal reg – daar is werk hier op die plaas waarmee ek dringend hulp nodig het en ek dink jy sal dit nogal geniet sonder om te veel skade aan te rig. Het jy al gehoor van GlobalGAP?”

“Ek ken net Gap jeans, Jakobus, en eens op ‘n tyd kon ek dit selfs bekostig! As jy en my sus julle nie so mildelik oor my ontferm het nie, was ek steeds armlastig, verhonger en eensaam in Pretoria. Nou is ek darem nog net armlastig en ook net tot my vryskutinkomste konstant is. En julle ewig dankbaar,” voeg sy by.

“Dis die hele punt, Daisy. As jy nou GlobalGAP vir die plaas kan behartig, sal ek jou betaal daarvoor. Dit sal goeie sakgeld wees vir jou en jy sal steeds met jou naguil-maniere na sononder kan skryf. Ek vermoed in elk geval al lankal dat jy eintlik in die aand alleen partytjie hou, te oordeel aan daai harde musiek wat jy speel!” spot hy.

“Jy pluk alweer aan die leeu se snorbaarde, Jakoboos. En so vroeg in die oggend. Jy is ‘n brawe man, broer! Vertel liewers waar en wanneer ek moet aanmeld en hoeveel jy my gaan betaal? Veral hoeveel jy my gaan betaal ...” mor sy.

Twee weke later is Daisy kniediep in plaasaktiwiteite betrokke. Dit het haar twee dae geneem om die dokumente te bestudeer; dit was alles oer-Kelties vir haar. Op die derde dag meld sy redelik onsteld aan by die werkswinkel.

“Jakobus, jy moet maar iemand anders kry vir hierdie joppie. ‘n Plaasmeisie. Iemand wat weet hoe mens ploeg en plant en natlei en peste soek en plae bespuit,” val sy met die deur in die huis. “Ek gaan mos nooit alles kan leer en dit op skrif stel nie! Skryf kan ek skryf, ja. Teaterproduksies doen, ja. Ek kan funksies reël wat ministers se asems wegslaan, ja. Ek kan kos maak wat in die hemel hoort, ja. Maar hierdie? Ek sal net jou naam en die plaas se reputasie gat maak!”

“Hokaai, Daisy. Gee my net ‘n kans om ‘n woord in te kry! Het jy al brêkfis gehad? Kom ons gaan eet gou pap dan praat ons. Ek het gewag dat jy klaar is met die dokumente, daar is baie werk om te doen.”

Swaerie begin verduidelik. Hy ken vir Daisy al vandat sy ‘n hormonale en rebelse tiener is, hy het help grootmaak aan haar. Hy weet dat mens jou nie moet blindstaar teen die blonde hare en fiemies nie; die uitdaging is om Daisy se belangstelling só te prikkel dat die projek onweerstaanbaar word vir haar. Hy praat lank en ernstig, vereenvoudig die projek tot verteerbare stukkies, vertel vir Daisy hoe belangrik die sertifisering vir die plaas en almal wat daarvan afhanklik is.

“En natuurlik, Daisy, sal jy ‘n paar keer Pretoria toe ook moet gaan en die plaas sal al jou onkostes dek. As ons dit behoorlik beplan, kan jy dalk sommer die naweek ook daar oorbly en al jou vriende sien en bietjie die helder ligte en die nuwe e-tolstelsel behoorlik geniet. Hoe klink dit vir jou?”
Daisy se hele gesig verhelder, haar glimlag is amper reg rondom.

“Dis glad nie regverdig nie, Swaerie. Jy ken my heeltemal te goed.”

“Afpersing werk,” sê sy vrolik.

(Word vervolg)

 
 
 

Viewed: 320

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT