ADVERTISEMENT:

 

 
 

11. Daisy treur en wonder wie gaan nou vir ons bid

Date: 13 December 2013 By: News Correspondent

Toe Jakobus vyfuur Vrydagoggend uitstap om vir Ousus haar koffie te gaan maak, sit  Daisy snikkend voor die televisie.

Dadelik is Jakobus helder wakker.

Daisy, wat de hel gaat aan?” skel hy van pure skok. “Dis vreeslik, hy’s dood, hy’s dood...”

Jakobus word wit om die kiewe. En soos sy gewoonte in ‘n krisis is, is hy dadelik heeltemal kalm.
“Wie is dood, Daisy?” vra haar swaer, sy stem ‘n oktaaf of wat laer.

“Wat gaan aan?” vra ‘n slaperige Ousus agter hulle, ‘n blaffende worshond kort op haar hakke.
“Kyk daar, kyk net daar,” snik Daisy en beduie na die televisie toe. “Dis Madiba ... Hy is dood!” Sy vee haar neus met ‘n lang haal aan die mou van haar pajamas af en snik harder. Die worshond blaf verwoed toe Jakobus die klank van die televisie harder stel.

“Shaddap, Popsie!” brom Ousus terwyl sy langs Daisy op die bank kom sit. “Shaddap, Popsie, gaan uit!” snou Jakobus en mik met ‘n groot hand na die skoothond toe.

Vir ‘n rukkie sit almal vasgenael voor die televisie terwyl die mediachaos oor hulle spoel. Daisy rol haar in ‘n snuiwende bondel op teen haar suster. Ousus se tentatiewe hand op Daisy se rug help niks vir die snikke nie.

“Nee, allawêreld, Jakobus. Al hierdie slegte nuus en ons het nog nie eers koffie gehad nie! Sit vir ons die ketel aan asseblief. En sommer ook van daai vars karringmelkbeskuit wat nog in die oond uitdroog...” Al staan haar blonde hare windskeef geslaap, neem die onderwyseres in Ousus beheer van die situasie.

Jakobus sit ‘n skinkbord op die koffietafel neer. Een beker koffie, ‘n bakkie beskuit en twee glase met baie eish...

“Jakoboos! Is jy van jou sinne beroof? Brandewyn en Coke?! Die hoenders het nog nie eers begin kraai nie!”

“Rustig, Blommie,” sê Swaerie bedaard. “Vanoggend is dit nie vir kuier nie, dis medisyne. Kyk in watter toestand is jou sussie. Kom, Daisy, drink – dit sal jou beter laat voel.”

Vir ‘n lang ruk kyk Daisy en haar familie in stilte na die verslaggewing. Af en toe skakel Jakobus oor na ander nuuskanale terwyl die nuus oor ‘n ontwakende Suid-Afrika spoel. Elke nou en dan staan hy op om nog koffie te maak – Nescafé én polisiekoffie.

“Nouja toe,” sê Jakobus toe die son al helder skyn, “my lang pad na vryheid gaan doodloop as ek nie nou gaan kyk wat op die plaas aangaan nie.”

Daisy wil-wil haar swaer betig, maar Ousus vryf haar kleinsus se arm met mening. Sy is deeglik bewus daarvan dat Daisy en haar swaer se verskillende politieke sienings soms met passie kan opvlam.

“Praat maar met my, Daise,” paai sy. “Hoekom is jy so vreeslik ontsteld?”

“Jy onthou mos toe Mamma dood is, Ousus,” begin Daisy. “My eerste vraag aan jou was, wie gaan nou vir ons bid? Nou hierdie is dieselfde. Met Madiba dood, wie gaan die hele blêddie spul bymekaar hou? Aan die een kant is daar die vrottes en korruptes, dan is daar die hatige misdadigers en aan die ander kant die angstige blekes wat nou naels kou vir die Nag van die Lang Messe ... En die hele tyd was dit onse Tata wat ‘n voorbeeld was vir ons – hoe ons bitterheid en wrewel kan oorkom. Of dit nou fênsie stedelinge met aanstellerige maniertjies is, of robuuste sportmanne, of eenvoudige gogo’s wat vigswesies hier op die plaas grootmaak – hy het ons almal trots gemaak om deel van die Reënboognasie te wees. Hy het ons hoop gegee, hy was ons goeie nuus in ‘n wêreld vol boosheid.”

Daisy se lip begin weer bewe... “Ek gaan ‘n bietjie terugklim in die bed, Ousus. Ek was heelnag op om te luister na die tragiese storie.”

Ousus maak Daisy wakker vir middagete. “Kom, Daisy, Jakobus het vir jou ‘n spesiale verrassing,” sê sy geheimsinnig. Op die stoep is die tafel feestelik gedek. Daar is tot wynglase en servette met kleurvolle Afrikamotiewe. Swaerie staan by ‘n driebeenpot op die vuur.

“Ja toe, Daisy, hoog tyd dat jy onder die velle uitkruip! Wil jy ‘n dop hê of liewers van daai sissiewyn van jou?” vra hy gemoedelik en kom steek vir Daisy ‘n sigaret aan.

“Ek het spesiaal vir jou kos gemaak. Tradisionéle kos, in voeling met die hele atmosfeer van die dag. Lyk my nie ons gaan gou wegkom van die hele sirkus nie; dis groot nuus in die ganse wêreld – Obama, die Dalai Lama, Oprah Winfrey ... Die vlae hang halfmas orals!” Ousus gee vir Jakobus ‘n yskoue kyk en staan dreigend nader. Hy weet dadelik hy is nou op dun ys en verkas druipstert kombuis toe om die ysbak vol te maak.

Daar ís toe ‘n feesmaal – lamsbredie met kluitjies, vars gestoomde soetmielies, baba-aartappeltjies, tamatieslaai. Maar vir Daisy is die koesterkos, die reënboog van troos - die  stampmielies.

Met trane in haar oë kyk sy na Jakobus. “Baie, baie dankie my liewe swaer. Ek waardeer dit vreeslik. Jy ken my so goed, jy het geweet dat ek vandag stampmielies nodig het.”

Sy tel haar wynglas op. “God seën Afrika,” sê sy. “En God seën elkeen in hierdie wonderlike familie!”

 
 
 

Viewed: 337

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT