ADVERTISEMENT:

 

 
 

12. Daisy droom van ‘n feesmaal vol kersbeloftes

Date: 20 December 2013 By: News Correspondent

“Weet jy, Plore,” sê Daisy vir haar nefie. “Dis darem heeltemal anders in die stad hier net voor Kersfees. Jy kan niks doen of nêrens kyk sonder om jou in blink balle of I’m dreaming of a White Christmas vas te loop nie.

Hier op die plaas hoender die hoenders en boom die bome en al wanneer die roetine onderbreek word is wanneer jou pa pannekoek bak as dit reën!”

“Hô, hô, hô,” lag die tiener. Hy is oor niks anders bekommerd in die hele wêreld as om met sy Liefie te WhatsApp nie; die matriekeksamen lank reeds vergete. “Ten minste is daar genoeg groen net waar jy kyk, just bring on the red! Soos ‘n nuwe Golf GTi of ‘n Ferrari.” Daisy giggel saam vir sy versugtinge.

Sy blaai verder deur ‘n glanstydskrif se Kers­uitgawe.

“Naaste wat ons ook sal kom aan ‘n White Christmas hier aan die noordehang van die Soutpansberg is wanneer ons oerkleinkinders eendag ‘n ski-oord hier oopmaak!”

“Hô, hô, hô,” lag Plore weer. “Gelukkig oefen ons al klaar hier met die Jägermeister vir die koue! En ons het baaaaaie tyd om te leer glühwein drink voor die volgende ice age tref... O hel, jy moet tog net nie my ma vertel nie...” Die wettige drinkery is nog ‘n nuwigheid vir hom.

“Hei, Plore, ek het ‘n lekker werkie vir jou! Kom ons gaan ry deur die plaas, dan saag jy vir my ‘n tak af wat ek kan wit verf vir ‘n Kersboom. Hierdie plêstiekbome wat soos den­ne­boom mutasies by Chernobil lyk, is plein net kommin. Ek het ‘n hele sak vol spierwit krale-engeltjies wat ons daaraan kan ophang en genoeg om die tafel ook te versier...” raak Daisy heel opgewonde oor die vooruitsig.
“Antie, ek wil nou nie op jou battery piepie nie, maar hier in die bos hou ons van ‘n lekker braai met huge T-bones, tjops en boerewors en báie persente. Jou fieterjasies gaan niemand eers sien nie! Almal gaan persente oopmaak, te veel eet en drink en dan tussen die geskenkpapiere op al wat ‘n bank en bed is oopbek lê en snork.”

“Nee, regtig Plore, dit is darem net te plat­vloers en soos ‘n gewone Sondagmiddag. Hier­die Kersfees gaan spesiaal wees. Ek beplan ‘n Mediterreense ete – allerhande meze vir voorge­reg – geroosterde soetrissies, gemarineerde calamari, gebraaide halloumikaas en eiervrugpatee. Dan is daar souttongterrien, eendfilette in filodeeg met ‘n lemoensousie, prawn- en lietsjiesosaties, tamatie- en pestotertjies, roketslaai met ‘n aarbei-slaaisous en jong-aartappelslaai met olyfgevulde kwarteleiers. Dan vir nagereg maak ek heerlike, eksotiese kaasborde met vars waatlemoen en mango en Skotse brosbrood, gedoop in donker sjokolade om saam met die koffie te eet. ‘n Feesmaal, sê ek jou.”

“Maar Plore, kan jy ‘n geheim hou? Die hoogtepunt van die ete is ... vars oesters! Ek het dit spesiaal bestel...” fluister Daisy met blink oë.

“Daise, weet my ma hiervan?” Plore lyk bitter bekommerd en beswaard.
“Jy weet mos jou ma hou niks van kosmaak nie. Sy het gesê ek kan maak net wat ek wil, solank sy nie ‘n vinger hoef te lig nie. Al wat sy wil doen vir Kersfees is haar nuwe boek lees, daai gewaagde nuwe een van Leon van Nier­op...” Daisy glimlag selfvoldaan.

Twee dae later maak Swaerie sy gewone plaasbrekfis van pap en wors en gebakte eiers. Die familie sit buite op die stoep en eet. Hulle gesels oor koeitjies en kalfies en Kersfees. Daisy loer betekenisvol vir Plore, maar dié lyk skielik baie skuldig en verwilder ‘n hond wat sy honger snoet op die tafel probeer kry.

“Ahem,” maak Jakobus sy keel skoon en skuif rond op die stoel. “Daisy, jong die ding is... Dis oor Kersfees, man...”
Ousus se elmboog tref Jacobus in die ribbes dat hy hik. Sy gee hom ‘n verpletterende kyk. “Nou luister jy mooi vir my Jakobus,” slaat die kwaai onderwyseres in haar deur. “Jy los vir Daisy úít oor Kersfees! Sy doen vreeslik baie moeite, sy begin more al kosmaak al is Kersfees eers oormore. En Plore, maak jou maar reg om saam met jou pa skottelgoed te was,” kry die tiener ook streepsuiker.
“Kan ons dan maar vanaand braai?” mor Plore.

Sononder dra Jakobus vir Daisy ‘n dop aan. Plore pak die vuur, Ousus maak pap en sous. Voor Daisy kon slaai maak, het Ousus haar uit die kombuis geboender. “Gaan hou jy die manne geselskap, kleinsus. Dit lyk my Jakobus is be­sonder lus vir kuier vanaand en Plore is net so geselserig en vriendelik. Miskien is sy tienergeite nou oor vandat hy agttien geword het...”

Dis ‘n heerlike aand. Jakobus is uit sy vel uit, steek vir Daisy haar sigarette aan en maak seker Daisy se glas is nooit leeg nie. Plore vertel van skool onhebbelikhede, Jakobus hou almal aan die lag met stories en grappe. Na ete mik Daisy halfhartig vir die kombuis om te begin kook.

“Wag nou, Daisy,” keer Swaerie haar. “Drink eers nog ‘n dop. Ek wil jou nog vertel van die keer toe ons gaan rally jaag het...” Daisy se arm draai soos ‘n lappop s’n.

Toe die hane begin kraai, maak Daisy net haar een oog op ‘n skrefie oop. “O alla bliksemstraal,” kreun sy. “Waar de duiwel kom die sand in my keel vandaan?”

Sy strompel uit stoep toe. Jakobus en Plore sit by die tafel met helderwit glimlagge. “Waaroor lyk julle so gelukkig?” grom Daisy vir hulle.

“More, Antie,” lag Plore diep uit sy maag uit. “Sit, sit! Ek gaan maak vir jou koffie.”

Jakobus trek ‘n stoel uit vir Daisy en steek solank ‘n sigaret aan. “Bring sommer yskaswater en twee Grandpa’s ook vir Daisy,” grinnik hy. “Mens kan haar hoofpyn vanoggend tot by die hoofpad hoor klop!”

Na die tweede beker koffie sug Daisy en kyk dofweg vir die vrolike Jakobus en Plore.
“Ek het niks krag vandag nie, julle. En ek het beslis nie die maag vir enige kokery nie. Miskien is ek besig om griep te kry?” soek sy simpatie.

“Daisy, gaan klim terug in die bed. Ek sal vir jou later brekfis bring. Jy kan nie in hierdie toestand die stres van ‘n Kersete hanteer nie, kleinsus.” Hy klink ‘n klein bietjie stroperig.

“En moet jy nou gladnie verder bekommer oor kos nie. Ek het vir ons gróót T-bones gekoop en tjops en boerewors. Ons kan persente oopmaak, ‘n heerlike braai hou en daarna ‘n middagslapie vang.”

“Wie sou in elk geval ooit kon droom dat jy so ongelukkig kan wees om griep te ontwikkel net voor Kersfees?” lag hy en knipoog vir ‘n gelukkige Plore wat Jingle Bells neurie.

 
 
 

Viewed: 426

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT