13. Daisy se nuwe jaar begin met 'n droom

Date: 10 January 2014 By: News Correspondent

Viewed: 479

Oujaarsoggend stop ‘n GP kar op die werf. Soos dit normaal is op ‘n plaas met ‘n papegaaiboerdery, begin die voëls blaf en die honde storm nader.

Daisy loer deur die venster, lugtig vir vreemdelinge om haar in haar pyjamas te sien. Dis ‘n stowwerige swart kar met ‘n oop sondak. Die vensters is te donker om gesigte te herken.

“Seker iemand wat verdwaal het,” maak Daisy dit af en gaan klim onder die stort in.

Oomblikke later timmer Plore aan die badkamerdeur.

“Daisy, Daisy hier is mense vir jou! Hél, maar hulle het ‘n fô... flippen mooi kar. Top Gear sê daai Audi doen 0 tot 100 k.p.u in 8,5 sekondes!”

“Ugh,” kreun Daisy. “Plooooooore! Sê liewers wie die mense is? Ken jy hulle? Hoeveel mense is daar?”

Plore lag uitbundig. “Daise, kry klere aan daai lyf van jou en kom kyk self! Ek dink dis vriende van jou van die stad af,” giggel hy misterieus. Plore se taktiek werk besonder goed – vyf minute later storm Daisy met papnat hare op die stoep af.

“Piete, dis die Piete,” gil sy en probeer albei mans gelyktydig omhels. “Ek is só bly om julle te sien waar kom julle nou vandaan gaan dit goed met julle hoe lyk dinge in die stad,” borrel Daisy oor. Haar glimlag kan nie wyer nie. “Dis die grootste verrassing van die jaar,” sug Daisy terwyl trane oor haar wange loop.

“Wat van bietjie Earl Grey tee?” vra Ousus. “Ek sal gaan maak, dan gesels julle solank.”

“Hoorie dolla, is jy nou laf? Wie drink nou tee soos kommin staatsamptenare hierdie tyd van die oggend?” maak Pieter sy misnoë bekend. “Pieta, my skat, gaan haal jy die Coleman en die piekniekmandjie uit ons kar uit. Daisy, gaan haal solank vir ons ‘n paar kleinbordjies en eetgerei.

Plore, gaan haal jy vir ons ‘n emmertjie ys en die Tobasco. Ek pluk gou vir ons ‘n paar van daai heerlike vars suurlemoene. Ousus, het jy nie ‘n wit tafeldoek nie? Hierdie bont is heeltemal te besig, dit sal nie saam met my lapservette gaan nie.”

Niemand durf teëpraat nie. Selfs terwyl hy saam met Daisy skoolgegaan het op Musina, was hy so onstuitbaar soos ‘n stoomlokomotief. Al het almal hom Pietertjie genoem en was hy dikwels uitgesonder om geboelie te word deur die rugbyspelers, was hy formidabel. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie – spyseniering, kleremaak, koeke bak. Niks het hom onder gekry nie – daarvoor was sy selfbeeld te gesond en sy persoonlikheid te groot. Deesdae is hy ‘n statussimbool in Pretoria – geen snob of welgestelde of ambassade waag dit om ‘n funksie te reël as Pieter Pauw nie betrokke is nie. Deur sy goeie vriend Nataniël ontmoet Pietertjie vir Pieta – ‘n algemene praktisyn met ‘n intense begeerte om eerder ‘n konsertpianis te wees. Dit was liefde met die eerste oogopslag vir die twee naamgenote.

Jakobus kom twaalfuur by die huis aan vir middagete. Sy mond hang oop toe hy buite kom. Hy groet die Piete gesellig, maar hy kan sy oë nie afhou van die kristal en silwer op die stoeptafel nie. Dis veral die groot silwerskinkbord met oesters op ys wat hom ‘n paar keer laat sluk.

“Nee dankie,” keer hy vinnig vir die duur Franse sjampanje. “Daai goed gee mens hoofpyn. Ek gooi liewers vir my ‘n dop. Blommie, is die kos klaar? Ek moet nog die arbeiders dorp toe vat vanmiddag voor ons kan uitgaan vanaand.”

“Jakobus, daar is nie kookkos vandag nie. Kyk net al die wonderlike kosse wat die Piete vir ons saamgebring het! Hulle het amper die hele spyskaart wat Daisy beplan het vir Kersfees hier aangebring. En daai hoop oesters ... Ek weet jy kan nie wag om jou hande daarop te kry nie!” Ousus se gesig is oortuigend ernstig, maar haar oë lag kliphard vir haar man se ongemak. “Kom sit, Jakobus. Ek maak solank vir jou ‘n beskuitjie met bloukaas en groenvye...”

Plore sien die paniek op sy pa se gesig en kom tot sy redding: “Pa, dis okei. Ek het seker gemaak daar is rys, vleis en aartappels vir ons twee. Kom ons gaan skep op terwyl die spulletjie hulle la-di-da piekniek hou en skinner.”

Daisy skaterlag. “Dankie Ousus, en dankie julle twee. Dit was die moeite werd net om die angs op daai twee se gesigte te sien! Die gedagte aan oesters eet is erger as ‘n swaar, snotterige verkoue vir hulle.”

Die volgende oggend sit Daisy tussen die twee Piete en kyk hoe die son breek oor die eerste dag van 2014. Hulle sit op ‘n eiland in die middel van die hengeldamme by Dissiplek. Alles is vars en somergroen; op die water is dit net die wit ganse wat rustig ronddryf.

“Daisy, wanneer kom jy terug Pretoria toe?” vra Pieta. “Ons mis jou vreeslik en hierdie kuiertjie was heeltemal te kort want ons moet vandag weer teruggaan na Pieter se ma-hulle toe by Weipe. Die Bosveld is charming, maar verlang jy nie na die glitz en glamour van die stad nie? Hierdie mense verstaan jou glad nie...”

“Is so, Pieta. Ja, ek raak vreeslik eensaam hier en dis bitter ver van als en almal wat vir my bekend is, maar gisteraand het ek weer besef – hierdie plek en mense groei op jou. Onthou jy toe daar die een enkele tango tussen al die sakkie-sakkie deur speel en ek en jy gaan dans het? Het jy gesien hoe rek almal se oë? Hoe almal opgehou dans het om vir ons genoeg plek te gee? Hulle het ‘n uur daarna nog na ons gewys en agter hulle hande gefluister.”

Daisy giggel. “Dis toe dat ek besef het, hierdie plek het entertainment nodig, Pieta. En ‘n nuwe iemand om oor te skinner. Hier is, after all, niemand anders wat die tango kan dans en die nuwe jaar met egte Franse vonkel ingaan nie.”

“Vir nou is my plek hier, Pieta. Om hierdie mense se saai lewens kleurvoller te maak! En dan is daar nog my boek wat moet klaar...” Sy sit haar arms om haar vriende en druk hulle styf vas.
“Maar wat ek vir seker weet – hierdie gaan ‘n gróót jaar wees vir almal van ons!”

 
 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

Email: news@zoutnet.co.za

 
 

More photos...