ADVERTISEMENT:

 

 
 

17. Daisy en die stoute onderklere

Date: 07 February 2014 By: News Correspondent

[Nie vir lesers onder 18 nie]

Woensdagoggend vroeg wag Daisy vir Ousus in by haar kar.

“Ousus, daar is mos nou baie onderwyseresse en jong mammas daar by die skool. Wil jy nie vandag so bietjie met ‘n ompad uitvind of die spulletjie dalk sal belangstel in ‘n ... uhm, ‘n partytjie nie?”

“Daisy, dis te vroeg in die oggend vir raaisels. Wat op aarde praat jy van? Watse party­tjie?” Ousus trippel rond van haastigheid.

“Ek sal jou vanmiddag al die besonderhede gee, Ousus. Miskien kan jy net uitvind hoeveel girls beskikbaar sal wees hierdie naweek? Jy kan hulle solank sê dit is ‘n partytjie waar hulle alles wat hulle nodig gaan hê vir Valentynsdag kan koop...” Daisy lag geheimsinnig en knipoog vir Ousus.

Die middag sit Daisy en Ousus en koffie drink op die stoep. Ousus het ‘n hele dag gehad om te wonder oor die geheimsinnige partytjie en sy is vreknuuskierig. “Vertel nou, Daisy. Die hele spul by die skool is net so nuuskierig en almal wat ek gevra het sê hulle is beskikbaar die naweek.”

“Nou toe, dan kan ek maar vir Kathie laat weet dat als reg is vir die naweek. Sy kom spesiaal van Pretoria af en sy sal seker hier oorbly Saterdagaand. Maar ek dink dis beter as ons die partytjie by Dissiplek gaan hou, nê Ousus? Ek is seker daar is ‘n private plek daar iewers waar die girls kan kuier. Hier is te veel manne wat ook nuuskierig is, veral as Plore se vriende ook hier kuier die naweek.” Daarna val al Ousus se vrae op dowe ore.

“Sorg jy maar net dat jy Saterdag so vieruur opgetof is in jou beste partytjieklere. En maak seker die girls by die skool weet ook dat hulle glamorous moet lyk! Ek stuur vir almal op jou lysie ‘n e-pos, vandag nog.”

Saterdag wag Daisy en haar vriendin Kathie die vrouens in toe hulle by Dissiplek aankom. Elkeen kry ‘n pienk drankie met aarbeie en ‘n pienk sambreeltjie in. “Dis op die huis,” verduidelik Kathie terwyl sy vriendelik groet. “Net die ding om die regte atmosfeer te skep,” fluister sy in Daisy se oor en knipoog.

“Meisies, is almal nou hier? Dan kan almal maar daar agter die gordyne inbeweeg en ‘n sitplekkie kry. En kry gerus nog ‘n Pink Lady!” klingel sy vrolik agterna.

‘n Halfuur later het die mans vrywilliglik besluit om uit te wyk na buite. Agter die gordyne is die gepraat en gelag besig om Kurt Darren se stem te verdoof. Die kelnerin kan nie voorbly met die bestellings nie. Selfs op ‘n ligte drafstappie is sy later uitasem - al die manlike kelners is verbied agter die gordyne. Dis veral die ‘koe­kies en kriem’ wat gewild is. En die pienk Slush Puppy met ‘n esel van ‘n vodkaskop.

Elke nou en dan kom ‘n vrou giggelrig agter die gordyne uit om haar man te gaan soek. Dan word daar eers in die man se oor gefluister en onderhandel tot hy blosend sy kredietkaart oorhandig. Die mans se nuuskierigheid kry oorhand. Hulle stuur ‘n skelm verkenner om agter die gordyne te gaan loer. Daisy gryp hom net betyds aan die arm.

“As jy nou weer hier kom rondsnuffel, vat ek jou persoonlik agter daai gordyne in en gooi jou vir die wolfwyfies. Ek wil nie eers begin dink wat hulle met jou sal aanvang nie, maar ek vermoed ernstig dat jy met ‘n swart kantnommertjie aan jou lyf daar sal uitstap. Die manne sal jou dit nooit laat vergeet nie. Skoert!” sis Daisy.

Dis Ousus wat eerste vertrek. “Nee, allakragtie, Daisy. Dit was nou baie opvoedkundig, maar van sulke lawwigheid het ek nou genoeg gehad. Dis seker heel opwindend vir julle jonges, maar Jakobus skrik hom morsdood...” Sy laat die sin liewers onvoltooid.

“Maar hoorie Daisy, ek het so nagmaalglasie van daardie ‘koekies en kriem’ gehad. Ek het nooit geweet enigiets met alkohol in kan so lekker wees nie! Ek is skoon lig in die kop. Sien jou later, moenie te veel fuif nie. Hierdie boeremeisies weet hoe om paartie te hou, jy sal nie kan bybly nie,” vermaan sy nog vir oulaas.

Die son skud nog sy vere reg die volgende oggend toe Daisy en Kathie op die plaas aankom. Hulle sukkel verwoed om die tasse en sakke met fyngoed en stoutgoed uit die kar te laai. Hulle lag eers die papegaaie en hoenderhane stil en toe vir Plore en sy vriende wakker.

Buite skrik Plore en Kie hulle helder wakker: uitgestrek op die grasperk lê die twee vrien­din­ne histeries en lag. Die een het ‘n swart satyn nagrok met ‘n spleet tot by die heupbeen aan, die ander een dra deurskynende, kort rooi pajamatjies – bo-oor hulle verkreukelde jeans.

“Ag Plore-man, maak vir ons koffie toe ‘seblief?” vra Daisy uitasem voor die volgende lagbui haar tref.
“Net as julle vir ons al daai goed in die sakke wys, Daisy,” onderhandel Plore. Sy vriende staan sommer vinnig nader en wys met oordadige knikke dat hulle dink dis ‘n goeie idee.

“In daai geval moet julle dan sommer ook roer­eiers en roosterbrood vir ons maak saam met die koffie. Julle is darem almal al agttien, so dis seker reg so, of hoe Kathie? Ons sal maar sensor – julle kan beslis nie álles sien nie!” Daisy begin weer van vooraf lag.

“Bliksem, ek het nooit gedink hier is soveel koopkrag vir hierdie soort goed hier in die omgewing nie! Ons het behóórlik geld gemaak, julle. Die Wille Wyfies van Waterpoort wéét van paartie hou en op die tafels dans! En ek het nog nooit ‘n spul mans gesien wat met soveel plesier hulle vrouens se aankope betaal het nie – die een ou het selfs aangedring dat sy vrou nog meer moet koop.”

Sê Kathie die stadsmeisie, nou heeltemal uitgelag en bedaard: “Maar Daisy, behalwe vir teevee is daar seker nie vreeslik baie te doen op die plaas nie, nê?”

 
 
 

Viewed: 1689

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT