ADVERTISEMENT:

 

 
 

19. Daisy is ‘n klikbek wat sorg vir hoenderpastei

Date: 21 February 2014 By: News Correspondent

Dit was ‘n doodgewone Vrydag op die plaas.

Teen die tyd dat die skrophoenders die derde keer om die huis is, het Daisy klaar gewerk vir die dag en maak sy solank planne vir alles wat sy op die dorp wil gaan doen. Sy slyp haar tande vir allerhande smukgoedjies by Clicks en dink daaraan om vir haar iets vrouliks en frillerigs te gaan uitsoek om volgende week in te pak wanneer sy Pretoria toe moet gaan. Haar gedagtes hardloop al vanself die bekende voetpaadjie na die Baardman toe. Die vooruitsig dat sy hom ook volgende week gaan sien, laat haar vrolik en uitbundig lag toe sy om die hoek by die motorafdakke kom.

Die volgende oomblik is daar ‘n dwarrelwind van veelkleurige vere en met die gedruis van ‘n trein skop die bielie van ‘n pluimveegsel vir Daisy herhaaldelik op haar bobene en maermerrie. Daisy keer geskok vir haar gesig en waag ‘n enkele skop in die rigting van die hoenderhaan. Toe begin sy hol vir skuiling.

Op die stoep hardloop sy amper in Jakobus vas, met die haan steeds op haar hakke. Bewend soek sy skuiling agter die groot lyf van haar swaer en begin sommer dadelik huil.

“Voertsek,” skree Jakobus vir die haan en kry ‘n goeie skop in. “Swernoot, watse duiwel het in jou gevaar vandag?” Teen daardie tyd het al ses die brakke ook vrolik die opwinding kom meemaak en help hulle om die haan te verwilder. En net buite trefafstand staan Precious dubbelgevou en lag.
“Ja, toe toe, Precious. Maak jy gou vir ons tee en sit baie suiker in Daisy se tee. Sy het groot geskrik vir die haan se hansgeit!” Jakobus bars uit van die lag en trek ‘n stoel uit vir Daisy. “Kom ons rook daarop, Daisy. Net ‘n sigaret gaan nou jou bewerigheid wegvat.”

“Maar hoorier Jakobus,” vra Daisy in ‘n klein stemmetjie, “hoekom het die haan my aangeval? Hy ken my dan? Ek het hom niks gedoen nie.” Van skone verontwaardigheid begin Daisy weer huil. “Ek het my morsdood geskrik!”

“Toemaar, Daise, gaan doen jy maar ‘n bietjie retail therapy en vergeet van die !@#$%&!!! hoenderhaan. Ek sal wel sorg dat dit nie weer gebeur nie. En terwyl jy in die dorp is, moet jy sommer uitvind wanneer jy vir die noodhulpkursus kan gaan en of daardie nuwe maskers en rubberhandskoene vir die gifstoor gekom het.”

In die dorp bederf Daisy haarself meer as gewoonlik. Sy drink ‘n melkskommel en eet ‘n wafel by die Wimpy en pas hope klere aan in die klerewinkels. Die bloedrooi herfstruitjie wat sy koop roep ook dadelik vir rooi naels en lippe, en by Woolies koop Daisy vir haar ‘n paar guitige rooi sandale.

“Dis nou wel ‘n bietjie mostert na die maal ... Al hierdie rooi klere en Valentynsdag is nou verby, maar dit sal Baardman iets gee om aan te herkou,” dink sy giggelrig. Die hoenderhaan-episode is tydelik vergete. Haar laaste stop in die dorp is om vir Jakobus biltong te koop.

Saterdagoggend slaap Daisy tot na sonop. Sy luister na JacarandaFM terwyl sy al haar inkopies op die bed uitpak en die pryse begin afhaal, sodat sy dit kan inpak. Sy sing kliphard saam en dans al die pad kombuis toe om vir haar Earl Grey tee te maak.

“Volgende week hierdie tyd sien ek vir Baardman en Plore!” Die blote gedagte laat haar glimlag terwyl sy sing, “...my bags are packed, I’m ready to go...” In  die verbydans gryp sy haar wasgoed om in die waskamer te gaan neersit.

En sowaar as wragtig, om dieselfde hoek waar die haan haar aangeval het, kry Daisy nog ‘n groter skok: dieselfde hoenderhaan wat afkop en met spuitende bloed op haar afpyl! Daisy gee een lang gil en laat spaander stoep toe; haar wasgoed gesaai oor die werf. Op die stoep hardloop sy amper vir Ousus van haar voete af. Sy hou aan met skree: “Daai haan, daai haan, daai haan... Daai haan het nie ‘n kop nie! Daai haan jaag my weer, maar hy het nie ‘n kop nie...!”

“Hokaai, Daisy!” sê Ousus, kalm maar streng. “Toe nou, dis als reg. Precious is net besig om die hoender te slag vir Sondagete. Het jy nog nooit gesien hoe dit gedoen word nie?”

“Is jy van jou sinne beroof, Ousus? Hoe kan enige ding so rondhardloop sonder ‘n kop? Dit lyk soos iets uit ‘n Stephen King movie uit! Dis, dis ... dis boosaardig! Soos ‘n demoon of ‘n ding!”

Daisy begin hartverskeurend huil. “En dis alles my skuld! Ek moes nooit vir Jakobus gesê het nie.”
“Ek het geklik en kyk hoe lyk die hoenderhaan nou!”

 
 
 

Viewed: 559

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT