ADVERTISEMENT:

 

 
 

20. Daisy bots met die stad se werkende meisies

Date: 28 February 2014 By: News Correspondent

Daar is net een ding wat Daisy meer geniet as om rond te rits – om alleen rond te rits. En sy het nie fiemies en voorkeure nie; of dit nou bande of vlerke of ‘n drywende bodem het, Daisy se sin vir avontuur oorkom enige moontlike ongerief.

So lê Daisy heerlik uitgestrek oor twee sitplekke van die Citiliner bus en kyk na ‘n Die Hard fliek. (Sy het lankal die kuns aangeleer om seker te maak niemand sit langs haar nie – so lief as wat sy vir mense is, is daar darem perke aan hoeveel geselsies jy kan aanhoor oor pynlike ingroeitoonnaels en kleinkinders se kostelikhede.)  ‘n Hele, heerlike week in Pretoria saam met haar gunsteling nefie en die man met die sagte baard.

Plore gee sy tannie ‘n lang en stywe druk toe hy haar by die stasie oplaai. “Hei, Daisy – dis goed om ‘n bekende gesig te sien! Hoe lyk dinge daar op die plaas? Hoe gaan dit met my ma-‘le? En die honde en Die Geveerdes en met Precious en Joycie?” Hy kan die heimweë nie uit sy stem uit hou nie.

“Nee wat jong, min dinge verander mos maar daar. Vertel liewers hoe gaan dit hier? Vanwaar die Groot Trek waarmee ek jou kom help? En het jy nou al baie pêlle gemaak en hoe lyk die meisies?”
“...’n paar oulike meisies daar by my nuwe woonstel, Daisy,” is sy enigste, kriptiese antwoord.
Drie dae later het Daisy al die nuus gehoor oor sy studies, oor die lekker kuierplekke in Hatfield, oor die mooiste meisies wat òf drama òf kuns swot, oor hoeveel moeiliker die akademie is as hoërskool en hoe gou mens moeg word vir Mcdonalds. Drie dae later is Plore se nuwe blyplek skoon, die bokse uitgepak en is daar gordyne voor al die vensters. In die aande was Plore ‘n entoesiastiese meedoener aan Daisy se kooklesse – hy het reeds die gevaar van skeurbuik ontdek met sy stapelvoedsel van roos­terbrood en twee-minuut noedels. En natuurlik is daar die realiteit dat daaglikse wegneemkos ‘n groot hap uit enige student se begroting neem. Maar die derde aand oorweldig die vleislus hom en flikflooi hy by sy tannie totdat hulle T-bones gaan koop.

Teen sononder sit die tweetjies op die stoepie en braai. “Dis nog steeds die naaste wat ek aan die plaas kan kom, Daisy. ‘n Braai en ‘n bier en om so af en toe paintball te gaan speel. Man, maar ek verlang na die bos en die berg!”

“Vertel my liewers van jou buurvrouens, Plore,” verander Daisy vinnig die onderwerp toe sy stemmetjie dun raak. “Daai drietjies wat hier bokant jou bly? Wat doen hulle vir ‘n lewe? Swot hulle ook?”

“Nee, hêl Daisy, ek weet nie jong. Hulle sê hulle swot, maar daar is gedurig kuiermense hier bo, sommer so helder oordag. Of miskien is dit net die kliënte van die een girl wat boeke doen vir besighede? Ek ken nie die stadsmaniertjies nie, al het ek my soos ‘n ordentlike boerseun aan al die bure gaan voorstel. Hulle trek ook maar vreeslik vreemd aan, pik hier rond op high polvaais elke dag en die lippe en naels is bloedrooi ... Lyk my almal doen maar hulle eie ding hier?”

Later gesels Daisy met Baardman. “Hier’s ‘n slang in die gras, Baardman. Eintlik drié. Ons sal die storie moet ondersoek; ek kan nie dat Plore hier in so ‘n Sodom bly nie! Wat sal Ousus en Jakobus sê? Hulle het my dan juis gestuur om die kind se blyplek te bekyk...”

Daisy wag nie dat Baardman antwoord nie. Sy het klaar ‘n plan: “Jy moet gaan spioeneer op hulle, Baardman. Dis al manier. Wanneer jy more terug is in Pretoria moet jy bietjie gaan kyk wat hier bo aangaan. Kyk of jy bietjie ‘besigheid’ met hulle kan doen. En as my vermoedens waar is, kan ons daai pêl van jou in die polisie kry om dinge verder te voer. Ek kan nie vir Plore so aan die versoeking oorlaat nie!”

Baardman sug, maar hy protesteer nie. Hy kén vir Daisy as sy eers ‘n ding in haar kop gekry het.
Twee dae later sit Daisy en Plore by Brooklyn polisiestasie. Uiteindelik kom Baardman uit die agterste dieptes van die gebou gestap – klere gekreukel, swart kringe onder sy oë. In die vol sonlig buite is hy steeds stil-beduiweld en reageer hy nie op Daisy se liefdevolle drukkies nie. Hy sit sy donkerbril op en brom vir Plore oor ‘n koue bier en ‘n steak by die naaste kroeg.

“En daarna gaan ek stort en slááp Daisy. Ek was in my lewe nog nooit so verneder nie! Gearresteer in ‘n prostitutenes! As dit nie vir my pêl Dik Daan was nie, het ek nog vanaand ook in die tronk geslaap. Volgende keer moet jy maar self dinge gaan ondersoek wat Plore se moraliteit bedreig; ek doen dit nóóit weer nie, hoor jy my? NOOIT weer nie!”

Daisy sit met groot blou oë na Baardman en kyk. Sy het hom nog nooit so baie hoor sê op een slag nie. Haar lip begin bewe.

“Baardman, ek is rêrig, êrig jammer!”

“Hoe moes ek ook nou weet dat een van daai girls ‘n polisievrou was? Of dat hulle ‘n raid beplan het vir gisteraand?”

 
 
 

Viewed: 638

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT