ADVERTISEMENT:

 

 
 

21. Daisy en die dogtertjie met die blou gesiggie

Date: 07 March 2014 By: News Correspondent

Sondag is daar ‘n familiebyeenkoms op die plaas. Ousus en Daisy se enigste boetie en sy rooikopvrou kom van Annerkant Die Berg af om Jakobus se beesstert te kom eet. Daisy verkneukel haar in die kuiers, want haar boetie, Bles, is ‘n gebore storieverteller met ‘n ruim, aansteeklike lag.

Bles het baie stories en die meeste van die stories begin lank voor Daisy gebore is. Daisy is die laatlamkind van ‘n laatlamkind – ‘n feit wat van haar ‘n pyn in die nek gemaak toe sy klein was en nie saam met haar neefs en niggies kon uithang nie. 

Maar nou waardeer Daisy die rare familiekuiers wanneer al die familieskandes en -skelette uit die kas foeter.

So sit almal met vol mae en goed gewyn aan die tafel en lag vir Bles se stories wat hy gaan haal in Suid-Rhodesië, Lourenzo Marques en pre-demokratiese Suid-Afrika. Vir Daisy is die storie van haar en haar pa se avontuur in Pretoria van vooraf nuut en sy haal vir Bles woordeliks aan:

Pretoria het daai jare al anties gehad wat ge-lunch het.

Dit was nou wel sonder die highlights en lowlights in die hare en voor die tyd van Miglio-oordaad, maar lunch is ‘n tradisie in die Hoofstad van pers jakarandas en staatsdiens­reën.

Oorkant die OK Bazaars in Kerkstraat, op die tweede verdieping van Greatermans, het hulle afgespreek vir Tee. Daar was selfs ‘n “high tea” – pure post-koloniale Selfridges.

Die blouhaar-darlings was bitter trots op hulle onafhanklikheid om eiehandig ‘n bus uit die Lynn­woods te haal Kerkplein toe. Gewoonlik is daar ge-lunch op ‘n Vrydag, direk na hulle weeklikse, hardgespreide haardoe. En met my eie oë het ek gesien dat die anties nog handskoene gedra het saam met die styfgekropte, ferm Crimpelene pakkies.

Daar is geknibbel aan anchovy roosterbroodjies of Swartwoudkoek en soms, net soms, giggelend toegegee aan die verleidings van ‘n mixed grill. Partymaal, vroeg-vroeg op ‘n Saterdag­oggend is die hele gesinnetjie gedress, gepress, ge-Brylcream en ge-Old Spice stad-in, hoofsaaklik vir double thicks voor die middag se tennis.

Maar van al hierdie gedoentes en gewoontes weet Pa maar min.  As ‘n plattelandse skoolhoof word sy driemaandelikse trippies stad toe gekenmerk deur irritasie en angstigheid oor die verkeer, om ‘n parkeerplek naby genoeg aan die middestad te kry en om so gou moontlik weer die pad terug Noorde toe te kan vat.

Soos gewoonlik het Pa by ‘n oop parkering oorkant die Assembly Hotel parkeer, net om die hoek van die Kleinteater – toe spiksplinternuut en ‘n statussimbool onder die teatergangers van Pretoria. Sy missie was om ‘n horlosiemaker te vind wat die juwelier op Messina vir hom aanbeveel het.
So bevind Pa hom dié Saterdagoggend in die Burlington-arkade, met Daisy aan die hand. Drie huppels van die blinkleerskoentjies en bobby socks vir elke lang haal van haar pa, maar pienk gelint en babbelend tot in die juwelierswinkel van die grys Mister Cohen, wat ‘n instelling in Pretoria geword het.

Uit haar pikante rottanghandsakkie in die waai van haar pofferarmpie lig Daisy ‘n fyn horlosietjie en hou dit hoog in die lug, mollige armpie halfpad oor die glas en blinkgepoetsde brons toonbank.
“Dis myne, Oom, maar dit het sommer netso gestop en nou wil dit nie meer die handjies laat loop nie en ek het niks gedoen nie, Oom, regtig dis glad nie te styf opgewen nie en ek’t ook nie met die pennetjie gespeel nie, ook nie toe ek verveeld was in die kerk Sondag nie want my pa sal my boude slaan omlat hulle dit vir my verjaarsdag spesiaal persent gegee het, maar Oom moet dit asseblief regmaak...” skets sy uitasem die kliniese profiel.

Drie dae later hardloop Pa haastig by die juwelierswinkel in voordat hy uit Sodom padgee.

“More, Mister Cohen. Ek het net my dogtertjie se horlosie kom haal.”

“Aaa...,” sê Mister Cohen. “Die een met die blou gesiggie?”

“Nee,” sê Pa. “Die een met die blonde haartjies.”

 
 
 

Viewed: 327

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT