ADVERTISEMENT:

 

 
 

28. Daisy hou piekniek met moeder-herinneringe

Date: 02 May 2014 By: News Correspondent

Vir langer as ‘n week loop Daisy rond met ‘n hartseergedagte: hoe vier mens Moedersdag as jou ma dood is? Daar is tog net één ma in elke mens se lewe, al is daar wonderlike mense wat amper soos ‘n ma voel – soos Daisy se ousus. Maar Ousus is ander mense se ma. En dit voel net nie reg om Moedersdag te vier sonder jou eie ma nie.

So broei Daisy oor die dilemma en raak haar verlange na haar ma net groter.

“Nouja, dan moet ek maar seker die afge­saagde ding doen en blommetjies gaan neersit op Moedersdag,” dink Daisy. “Maar dis so ordinêr, so konvensioneel! Ek wens ek kon lie­wers vir Mamma uitneem vir sushi...”

En net daar het Daisy ‘n gloeilamp-oomblik! ‘n Piekniek, met al die gunsteling lekkertes wat haar ma sou geniet. Skielik is Daisy se hart ligter en sy begin dadelik planne maak.

Vroeg-vroeg op Moedersdag meld Daisy haar aan by die Haantjiekerk op die dorp. Gemeentelede kyk verstom na die blondekop wat met ‘n piekniekmandjie na die muur van herinnering toe mik. Toe Daisy haar piekniekkom­bers onder ‘n boom oopgooi en ‘n paar kussings uit die kar gaan haal, verander die verbasing in totale skok. ‘n Oom met dun lippies stap dadelik nader.

“Jy kan mos nou nie hier kom plak nie, meisie. En mens moet respekte hê vir die afgestorwenes! Dominee gaan net mooi niks hiervan hou nie...” Hy het sy begrafnisgesig op.
“Oom, waar’s jou ma?” vra Daisy.
“Nee, meisie, sy is al lankal dood. Lankal al. Begrawe daar op die familieplaas naby Levubu.”
“Nou Oom, hoe maak jy as jy vir jou ma wil kuier?”
“Dan ry ek maar bietjie oor na my broer-hulle toe en gaan sit ‘n blommetjie op die graf...”
“En as jou ma nou hier in die muur langs jou pa vasgemessel is? Hoe kuier jy by haar?”

Die bleskop-omie weet wanneer hy in ‘n lokval gelei is. Hy loop terug na die gryskop anties wat steeds oopmond staan en kyk. Daisy hoor die oom iets vir die anties sê van alles wat reg is en dat die meisie net bietjie vir haar ma kom kuier het...

Toe begin Daisy die piekniekmandjie uitpak: wit porseleinborde, silwer messegoed, geleende kristalglase en spierwit lapservette. Sy haal ‘n kristalblompotjie uit, gooi mineraalwater daarin en rangskik weer die pienk rose. Dan begin sy haar ma se gunstelinge uithaal – sushi, ‘n salmterrien, prawns op kruieslaai gerangskik rondom ‘n mayonaise doopsous, kase, druiwe, ‘n handvol pekanneute en ‘n miniatuur Swartwoudkoek. Haar glas maak sy vol met rooi druiwesap.

“Op jou, Mamma. Ek weet jy is hier naby; ek kan jou liefde sommer teenaan my vel voel. Gesondheid. Oeps, ekskuus! Dis seker nie heeltemal van pas nie.” Daisy praat hardop. Sy giggel hardop. Haar oë is vol trane. Soos gewoonlik word Daisy ‘n nar wanneer haar hart seer is.

Toe sit Daisy sommerso en gesels met haar ma. Sy vertel haar ma hoe lekker dit was om haar kind te wees: om in haar arm te lê in die bed, om op haar skoot op te krul en saam radio­stories te luister, om rooibostee met suurlemoen en heuning te drink, om huis-huis te speel, om tussen sondroog lakens deur te hardloop terwyl sy wasgoed van die draad afhaal, om saam te sit en kyk na prentjies in die wolke, om stokstyf aangetrek te word teen die koue op pad skool toe, om die wonder van kos te ontdek met ‘n gebakte eier en tamatie op brood, om haar liefde en deernis vir verstote mense en diere te ervaar...

Daisy sit hardop en huil. Tussen die snikke deur vertel sy haar ma van haar lewe – van die plaas, hoe moeilik dit is om aan te pas by die mense, hoeveel sy die hoenders en die voëls geniet, hoe bang sy is vir die slange en sker­pioene. Sy vertel haar ma van die boek waaraan sy werk. Van Baardman. Van al haar trippies Pretoria toe, Botswana toe, Ballito toe. Sy vertel haar ma ook sommer wat haar ma sou sê oor al die dinge, dat sy nou moet kalmeer en trou en babas kry.

Die son het al gaan skuinslê toe Daisy uiteindelik klaar gehuil, gesels, gelag en geëet het. Sy het ‘n hele bottel heildronke ingestel op haar ma, maar uit respek vir haar ma as geheelonthouer was daar nie ‘n druppel sjampanje ter sprake nie.

Daisy kom net voor sononder op die plaas aan.

“Waar was jy heeldag, Daisy? Ons was vrek bekommerd en jou selfoon was af!” raas Ousus.

“Dis Moedersdag, Ousus. Ek het saam met Mamma piekniek gehou.”

 
 
 

Viewed: 452

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT