ADVERTISEMENT:

 

 
 

30. Daisy kuier by die buurman en gesels water

Date: 16 May 2014 By: News Correspondent

Bernard Young staar na Daisy vir ’n volle minuut.

Sy sien die konsternasie op sy gesig plek maak vir irritasie, sy sien hoe hy diep asemhaal en stadig tot by tien tel voor hy verder praat.

“Reg. So ek moet met jou praat oor my waterprobleem. Wat van GlobalGAP? Met wie moet ek daaroor gesels?”

Daisy skud haar lang blonde hare terug oor haar skouers, sit haar hande op haar heupe en glimlag liefies vir die man. “Raai?” sê sy.

“Nou maar goed, Mevrou. Ek is hier om met julle te praat oor die besoedeling van my water. Dit kom van julle af. Ek word binne die volgende maand geoudit en my watertoetse wys ontoelaatbare vlakke van zimidabitol in my water. Die enigste plek waar dit vandaan kan kom, is hier van julle af. Wat gaan jy daaromtrent doen?” Hy sit sy hande op sy heupe en kyk haar uitdagend aan.

“Zimida, sê jy? Mmmm ... Niks. Ek gaan net mooi niks doen nie.”
“Moes dit seker geweet het. Met die baas van die plaas wat jollifiseer in die Caprivi en sy blonde vrou in beheer los ... Kon niks beter verwag het nie!” Dit lyk vir Daisy of daar begin stoom uittrek by die man se ore en sy wange slaan in aantreklike rooi vlamme uit.

“Ou Barries, is dit jóú wit Landcruiser daar buite? Ja? Nou toe, kom ons ry. Ons sal nie altwee op Miss Soft Serve oor die weg kan kom op die plaaspaaie nie.”

Bernard kyk oopmond na Daisy. “En waarnatoe wil Your Highness nogal gaan?”
“Na jou plaas toe. Na jou water toe. Kom wys my wat aangaan. En los nou jou sarkasme. Jy lyk net soos die Camel man, jy hoef nie soos ‘n bedorwe celebrity met ‘n oorgroot ego op te tree ook nie! Besluit self of jy die probleem opgelos wil hê en of jy tantrums wil gooi, maar ek het nie die wêreld se tyd om jou te help nie...”

Daisy kan nie help om beïndruk te wees met haar nuwe buurman nie.
Daar is al heelwat bespiegel oor die Young erfgenaam wat nou ‘n jaar op sy oorle’ oupa Sean se plaas boer. As ‘n “inkommer” hou die gemeenskap hom dop met ‘n valkoog en wag net vir ‘n geleentheid om te kan skinner oor sy onvermoë as boer. Wat kan ‘n mens dan nou ook verwag van ‘n universiteitsprofessor wat met sy eie vliegtuig rondrinkink?

“Vir ‘n professor lyk jou oes nie sleg nie, Barries. Ek is beïndruk met wat jy in ‘n jaar hier bereik het. Gits, en al die nuutste bells en whistles... “
“Ja, toe-toe. Stop nou met die heuningkwas. Kom ek wys jou liewers my besproeiingstelsel – dis mos waarna jy kom kyk het? Alhoewel ek geen idee het watter verskil dit gaan maak aan my probleem nie.”

Twee ure later stop Barend en Daisy in ‘n stofwolk voor die plaasopstal.
“Mevrou, jy het nou die hele blêddie plaas in die fynste detail gesien. Elke plantjie in die kwekery, elke uilpaal, elke koedoekalfie en elke babamielie. Vir wat wil jy nou kom tee drink by my kantoor? Ek dog jy’t nou als wat jy nodig het om my te help met my waterprobleem. Wat karring jy so?”
“Nou, Meneer Young, gaan ek en jy gesels. Regtig gesels. Maar eers tee.”
Daisy het verwag dat hy die takie sommer sal delegeer aan ‘n huishoudster, maar tot haar grootste verbasing raak Bernard self besig met die ketel.

“Sal Earl Grey doen vir die geleentheid, of het Haar Hoogheid iets meer plaaslik soos rooibostee in gedagte?”

Daisy se aandag is lankal nie meer by die teedrinkery nie. Eintlik hoor sy hom glad nie. Sy is verdiep in die swart en wit fotos in hulle swart rame teen die muur van die sitkamer. Sy kyk half verbaas rond in die vertrek – die donker leerbanke, die groot vensters waar sonlig instroom, die wit gordyne wat net so bietjie roer in die briesie, die rakke en rakke vol boeke, die lieflike Wes-Afrika musiek in die agtergrond...

“Wel, wel, wel. Wie sou nou kon raai dat mens so iets sou sien hier in Waterpoort?” mymer sy.

(Word vervolg)

 
 
 

Viewed: 447

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT