ADVERTISEMENT:

 

 
 

31. Daisy en die buurman se bekgeveg duur voort

Date: 23 May 2014 By: News Correspondent

“Right,” sê Bernard Young. “Nou het jy tee in my ma se bone china koppies en van my tuisgemaakte Skotse brosbrood in jou kies. Wanneer gaan jy nou iets aan my waterprobleem doen, Mevrou?”

“Okei, ou Barries. Laat ek sien of ek jou probleem reg verstaan: toetse het gewys dat jy ‘n buitengewoon hoë persentasie zimidabitol in jou besproeiingswater het, nê? En jou GlobalGAP oudit is volgende maand. O ja, en jy het bewyse dat dit ons is wat jou water besoedel?”

Bernard kyk lank en hard na Daisy met sy blouselblou oë op skrefies getrek. Hy kry die gevoel dat die vroumens kat en muis speel met hom, of sy die hele tyd haar lag moet inhou. Miskien is dit daai groen oë van haar wat so onmoontlik vonkel.

“Ja, dis min of meer die situasie...” sê Bernard besadig.

“Nou ek sê jou wat – kom so net voor sononder oor daar na ons huis toe. Daar is iets wat ek jou moet wys. En bring sommer daai bewyse van jou ook saam; ek is vrek nuuskierig om dit te sien. Maar nou moet ek teruggaan en gaan werk. Dankie vir die tee en koekies. Kom ons ry.”

“Maar... maar...” Bernard stotter van skone verontwaardigheid.

Daisy klim in die Land Cruiser en steur haar nie verder aan die stomme man nie.

Net voor vyf stop die Land Cruiser in ‘n stofwolk onder die motorafdak. Bernard klim uit en slaat die deur venynig toe. Sy frustrasie met die onopgeloste situasie bou nou al die hele dag op.

Daisy loop hom van die stoep af tegemoet. Sy het ‘n lang, ivoor sybokhaartrui aan met stringe pêrels en haar blonde hare is losweg op haar kop gestapel. Hier en daar krul ‘n rebelse haarstring om haar kop. Haar grimering is vars en haar glimlag is dié keer gul en verwelkomend.

“Haai, Bernard. Welkom hier op Collingwood. Kom ek gaan stel jou voor aan die mense.”

Bernard se mond wil-wil oophang oor die teenstrydigheid met hulle ontmoeting vroeër die oggend. Goeie maniere verhoed hom egter om uiting te gee aan sy moerigheid.

Op die stoep stel sy hom voor aan haar ousus en Plore, wat sit en koffie drink.

“Die baas van die plaas is met Ousus getroud, jy sien? Sy is ‘n onderwyser. Dis hulle seun, Plore. Hy swot op Tukkies en is hier vir ‘n langnaweek omdat hy bloktyd het.”

“En aangesien daar niemand was om ons behoorlik aan mekaar voor te stel nie – my naam is Daisy. Nie Mevrou nie. Ek hanteer al die GlobalGAP-goete van die plaas en sommer van die bure s’n ook. En dan hou ek toesig in die pakstoor en help uit op die plaas terwyl Jakobus vir die eerste keer in drie jaar ‘n blaaskans vat.

“Kan Plore vir jou wyn bring, of wil jy liewers ‘n dop hê?”

Daisy glimlag toe Bernard bloedrooi bloos.

“Toemaar, ou Barries,” terg sy alweer. “Ek sou ook allerhande hondse gedagtes gehad het as ek vermoed het dat ‘n getroude vrou my oornooi terwyl haar man in die Caprivi sit. Maar ek wil vir jou ‘n paar goed op my rekenaar wys van GlobalGAP. En as ons klaar gesels het, is jy welkom om saam met ons te eet. Ek het vir ons kos gemaak so reg uit Tim Noakes se nuwe dieëtboek uit ... Lekker vetterige steaks gevul met camembertkaas, gestoomde brokkoli en aspersies, gebakte patats, slaai...”

Bernard onderbreek Daisy se monoloog.

“Mevrou, Plore – sal julle ons vir ‘n kort rukkie verskoon, asseblief? Daar is iets wat ek met Daisy moet uitsorteer. Ons gaan so ‘n kort entjie stap voor die son heeltemal weg is. En as dit nie te veel moeite is nie, Plore – is daar miskien ‘n droë rooiwyntjie wat jy solank vir my kan skink? Of nog beter – ek en Daisy gaan gou na my plaas toe ry om wyn te gaan haal. Ons sal nie lank wees nie.”

Dié keer is dit Daisy se beurt om oopmond na Bernard te kyk.

“Wat op aarde is sy storie?” wonder Daisy senuweeagtig toe die buurman haar ferm aan die arm gryp en na die Land Cruiser toe saamtrek.

“Jy is ‘n onmoontlike vroumens, Daisy,” is sy enigste kommentaar voordat hy met dun lippies die kar agteruit trek en in ‘n stofwolk teerpad toe jaag.

(Word vervolg)

 
 
 

Viewed: 255

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT