ADVERTISEMENT:

 

 
 

32. Daisy se woorde verdwyn in ‘n see van blou oë

Date: 30 May 2014 By: News Correspondent

“En wat vir ‘n naam is Daisy in elk geval? Dis mos ‘n koei se naam,” stoom die ontstelde buurman voort terwyl hy en Daisy skuddend oor die plaaspad jaag. “En vir wat hou jy my vir die gek oor wie jy nou eintlik is? Vir wat sê jy nie vir my jy is g’n mevrou nie?”

Daisy hang vir al wat sy werd is aan die vashouplek bokant die deur. Sy weet uit ondervinding dat as ‘n man so op dreef is, beteken logika niks. Die beste is dat hy homself uitwoed. Beter nog, soos Bernard alreeds bewys het – gee hom genoeg tou en dan hang hy homself heel gerieflik op! Die gedagte laat Daisy binnnetoe skater van die lag terwyl sy buitetoe sukkel om ‘n glimlag te onderdruk.
Dis een te veel vir Bernard. Hy slaan ankers aan in ‘n stofwolk. Hulle skuur op die gruis en die Land Cruiser stop beneuk voor sy huis. Daisy se kop mis net-net die paneelbord voor in die bakkie.

Bernard vlieg uit en slaat die deur toe; die rooi vlamme slaan weer aantreklik op sy wange uit. Hy pluk Daisy se deur oop en tel haar uit die kar uit. Hande op haar skouers druk hy haar vas teen die kar.

“En hou op om die hele tyd vir my te lag! Ek ... ek ...”
Die volgende oomblik soen hy vir Daisy. Kwaad en hard. Behoorlik.
Waar woorde hom oomblikke gelede nog gefaal het, spreek die soen boekdele. En alhoewel Daisy se eerste instink is om die man van haar lyf af te kry, wil haar knieë skielik nie saamwerk nie. Stadig vloei die woede uit die soen uit, verander dit in iets wat hulle albei wens hou vir altyd aan...

Dis Daisy wat eerste weer terugkom aarde toe.
“Sjoe, ou Barries. Waarin het jy nou weer al jou fênsie grade? En gee jy klasse ook?” Daisy word altyd ‘n nar wanneer sy onseker is van ‘n situasie.
“Right. Daisy.” Bernard bly ‘n rukkie stil en haal diep asem.
“Hou. Asseblief. Op. Om. My. Ou. Barries. Te. Noem.
“Asseblief. Ek vra mooi. Ek wil nie meer met jou baklei nie. Ek sal jou liewers weer wil soen en ek kan jou nie soen as ek eintlik met jou wil baklei nie. Verstaan jy?
“Kom ons gaan drink ‘n glas wyn en praat nog. Ek het heelwat om vir jou te sê; jy is nog nie naastenby uit die moeilikheid uit by my nie.”

Daisy is doodstil. Sy lag nie – nie binnetoe of buitetoe nie. Sy gaan sit soos ‘n skoolmeisie op een van Bernard se leerbanke; dit voel asof sy wag vir straf voor die skoolhoof se kantoor.
“En dan maak hulle so ‘n groot ding daarvan dat mens nooit weet wat in ‘n vrou se kop aangaan nie,” dink sy. “Hoe de duiwel verstaan mens iemand wat jou soen omdat hy kwaad is vir jou? Dit maak eenvoudig net nie sin nie!” Sy is op die punt om vir Bernard aan te spreek, toe hy langs haar op die bank kom sit met twee glase en ‘n bottel wyn.

“Haute Cabriére,” sê hy kortliks en skink vir Daisy ‘n glas yskoue wyn. Dan staan hy op en sit ‘n CD in die speler. Joan Sutherland. Net-net hoorbaar, agtergrondmusiek.
“Right. GlobalGAP. Jy sê jy hanteer die sertifisering vir julle plaas, en dan help jy die bure ook?”
Daisy knik bedees.
“Kan jy dan asseblief vir my sê wat is die situasie met die waterbesoedeling?” Bernard is doelbewus kalm.
“Tjeers,” sê Daisy en klink haar delikate wynglas teen Bernard s’n. Sy vat ‘n groot, onelegante sluk van die wyn voordat sy hom antwoord.
“Die ding is, Bernard, zimidabitol is in hierdie stadium nog aanvaarbaar in Suid-Afrika as jy nie direk vir die uitvoermark groei nie. En sover ek gehoor het, verskaf jy net plaaslik in hierdie stadium? Ja? Dan is dit gladnie ‘n probleem nie. Dis wat ek vir jou wou wys vanaand – die lyste van stowwe wat toelaatbaar is vir jou gewasse.
“En natuurlik is ek nog steeds vreknuuskierig oor jou bewyse dat die besoedeling van ons af kom...”

Daisy se oë begin weer vonkel.
Dis eers na agt toe Daisy en Bernard weer daaraan dink dat hulle eintlik vir aandete verwag word by Ousus. Dat hulle eintlik net ‘n bottel wyn kom haal het.
Dis met moeite dat Daisy opstaan om te ry. Die gesprek wat al die misverstande rondom GlobalGAP opgelos het, het gesellig geword. Joan Sutherland se stem ‘n lafenis in ‘n woestyn waar niemand nog ooit van haar gehoor het nie. Daisy kan nie glo dat daar iemand binne ‘n honderd seemyl is met soveel algemene kennis en intellektuele insigte nie. Dis ‘n lafenis waarvan sy nie genoeg kan kry nie.

Nes die man se blouselblou oë.

 
 
 

Viewed: 413

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT