ADVERTISEMENT:

 

 
 

34. Daisy se “date” verander in ‘n Mills & Boon-held

Date: 20 June 2014 By: News Correspondent

Nou kyk, Daisy is baie gewoond.

Dis die ding van iemand wat daarvan hou om aan die beweeg te bly – daar is min plekke of dinge wat hulle nie ondersoek nie. Boonop het Daisy tydens haar korporatiewe lewe in die beste plekke gewerk en gebly en met formidabele mense skouers geskuur.

Maar niks behalwe haar wildste drome het Daisy voorberei op die Saxon nie. Die elegante interieur (pure Afrika, maar wêrelde verwyder van die geykte Groot Vyf!), die onopsigtelike maar uiters professionele personeel, die subtiele beligting en massas vars rose en lelies in die restaurant...
Te midde van hierdie weelde is daar een ding wat vir Daisy uitstaan: die man met die blouselblou oë. Dit is vir haar duidelik dat Bernard bekend is in hierdie omgewing, dat almal hom ken en respekteer – die personeel én die gaste. Bernard is gemaklik en ontspanne en is ‘n per­fekte gasheer. In die restaurant vra hy vir Daisy of sy sal omgee as hy vir haar kos en wyn sal bestel.

“Weet jy, Bernard, dis my idee van die perfekte date – dat ek geen besluite hoef te neem nie. Dit sal ‘n heerlike avontuur wees en ek weet jy sal die wonderlikste keuses maak!” Daisy glimlag stralend vir hierdie man wat net nooit ophou om haar te verras nie.

“Bernard, sal jy omgee as ek jou ‘n paar persoonlike vrae vra?”

“Ek vermoed half wat jy gaan vra, Daisy” lag Bernard. “En dis nou toeval, want die hele rede hoekom ek jou in my vliegtuig ontvoer het vir aandete hier by die Saxon, is om met jou te gesels oor my lewe weg van Waterpoort af.”

Tussen die Franse sjampanje wat bedien word saam met die kreef, deur die gevulde kwartels bedien met truffel ravioli, die bottel uitstekende shiraz, die delikate sjokolade kunswerke bedien op ‘n groot kristalbord, tot by die laaste koffie na die kaasbord - gesels Bernard en Daisy. Vir ‘n verandering is dit Bernard wat die meeste praatwerk doen; Daisy se verbystering word net groter. Hierdie deel van Bernard het sy nie eers vermoed nie.

Hy vertel haar van sy kinderlewe – enigste kind van skatryk ouers – hoe eensaam en verlate hy was alhoewel daar uiters goed na hom omgesien is. Sy ouers se sakebelange het ‘n groot tol geëis en van ‘n geborge familielewe was daar nie veel sprake nie.

“Skoolvakansies het ek by my oupa en ouma Young op die plaas kom kuier. Daar het ek die wonderlikste tye van my lewe beleef. Hulle het hulle nie aan status of geld of mense gesteur nie, hulle was beginselvas en plat op die aarde. Die eenvoudige dinge het vir hulle saakgemaak, nie die familietrusts en wêreldwye beleggings nie. My ouma het my ‘n liefde vir kosmaak geleer omdat sy dit geniet het om haar liefde in kos uit te druk. My oupa se passie was vlieg – dis hy wat die aanloopbaan laat bou het op die plaas – en hy het my van vroeg af leer vlieg. Hy het my vir my vyftiende verjaarsdag ‘n PPL kursus persent gegee en gereël dat ek dit in die vakansies kan voltooi.”

“In die stad was my lewe ewe opwindend. Ek het ‘n personeellid gehad vir elke moontlike ding – ‘n chauffeur, ‘n chef, ‘n au pair en later ‘n sekretaresse, onderwysers en tutors, lyfwagte. Daar was klasse in klassieke musiek en later jazz,  Oosterse gevegskuns, teken en skilder, filosofie, astrologie, kwantum fisika. Alhoewel ek nie die voorreg van betrokke ouers gehad het nie, wou hulle my elke moontlike geleentheid gee om tot my volle potensiaal te ontwikkel. Daar was baie vriende; kinders van my ouers se vriende en sakekennisse. Maar die vriendskappe was gedwonge en die hele blêddie spul was snobs en nerds!”

“Dis op die plaas waar ek net ‘n kind was. Waar ek in die modder kon speel met my John Deere trekkertjies en sleepwaens, met die Caterpillars kon speel-speel damme maak...” Bernard se oë skitter. “Daar het my oupa Sean my geleer om die real thing ook te bestuur. Hy het my leer skiet, leer jag. Hy het my geleer van die bos waarvoor hy so lief was. En sommer van ander mandinge ook – houtwerk, motoronderhoud, verfwerk.”

“Op die plaas het ek die waarde van geld ge­leer. Daar het ek soos ‘n doodgewone kind sakgeld gekry en ek moes daarvan spaar as ek iets soos ‘n nuwe fiets wou hê. My ouma het weer seker gemaak dat ek bewus was van die sosio-maatskaplike omstandighede van die men­se op die plaas. Sy het my betrek met die plant van groentetuine vir die werkers en ek het ‘n klein hoenderboerdery en slaghuis begin. Naweke het my oupa vir my en die werkers leer bakstene maak en basiese messelwerk laat doen. Hulle het die filosofie om mense te leer visvang en nie visse uit te deel nie, ten volle uitgeleef.”

Daisy kan haar ore nie glo nie. “Bernard, jy weet jy het my al lankal beïndruk, nê? Nog lank voor jy my met ‘n vliegtuig uitgevat het vir ete. En nog lank voor ek met al my bling oor die drumpel van die Saxon getrippel het.”

“Hierdie storietjies is glad nie nodig om ekstra punte te kry by my nie ... Inteendeel, ek voel so verlore soos Aspoestertjie sonder haar glasskoen!”

 
 
 

Viewed: 371

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT