ADVERTISEMENT:

 

 
 

35. Daisy se aand van drome neem ‘n vreemde pad

Date: 27 June 2014 By: News Correspondent

“Ja, daar is iets wat ek jou nie vertel het nie, Daisy,” sug Bernard effens verleë. “Kom ek bestel vir ons warm sjokolade en dan gaan drink ons dit in jou kamer ... En nee, dis nie ons kamer nie, dis jou kamer. Myne is langsaan.”

“Dis die groot geheim – ek het met jou ousus geheul en sy het vir jou ‘n tas gepak. Ons bly sommer vanaand hier oor; daar is nog baie wat ek jou wil vertel. Belangrike goed wat ek jou wil vra.”
Dié keer hang Daisy se mond regtig oop. “Hei, ou Barries,” grap Daisy sonder haar gewone entoesiasme. “Jy weet darem net hoe om ‘n vrou se hart sag te maak. Wat is die ander goed wat jy my wil vertel? Dat jy onlangs uit ‘n maksimum-sekuriteit tronk ontsnap het? Of het jy jou eie renosterhoring-franchise? Of is jou van regtig Donatelli en jy is die capo di capi van die Limpopo mafia?”

Bernard skud net sy kop. “Kom, mooiste Daisy. Hierdie Johannesburg koue begin in my bene inkruip. Kom ons gaan drink iets warms.” Hy trek Daisy se stoel vir haar uit en woel haar kaal skouers toe in ‘n swart pashmina.

Dis ‘n rustelose nag vir Daisy. Sy droom van die man met die blouselblou oë; sy droom van ‘n hartseer seuntjie met dieselfde oë. Dele van hulle gesprekke spook heelnag by haar en daar is vliegtuie wat die heeltyd opstyg en land. Teen dagbreek gee sy uiteindelik die stryd gewonne en tap vir haar ‘n skuimbad in. In hierdie luukse hotelsuite word ‘n eenvoudige bad ‘n ondervin­ding – klassieke musiek, ‘n platskerm televisie, warm handdoeke in ‘n heerlike warm badkamer, ‘n volledige reeks van Issey Miyake produkte.

“Gits, hier kan ‘n mens ‘n leeftyd spandeer! En as jy honger word, is daar nog altyd kamerdiens ... Ek kan nie glo dat ek al hierdie misgeloop het vir ‘n vinnige stort gisteraand nie!” dink Daisy behaaglik.
Teen agtuur is Daisy se hare en grimering perfek, haar naels en toonnaels vars geverf. Sy lê op die bed wat so groot soos ‘n plaas is in ‘n sagte, spierwit japon. “Hoe lank moet ‘n mens nou wag vir Die Doktor?” wonder sy ongeduldig. “Mens kan jou ook net só lank verlustig in al die fênsie goed...”
Daar is ‘n klop aan die deur. Daisy spring vervaard op en maak die deur oop. Die einste doktor stoot ‘n trollie met silwer deksels, sjampanje en lemoensap die kamer in.

“More, mooiste Daisy. Ek sien jy is al amper reg vir die dag. Mooi, man. Ek het hope planne vir ons vir vandag.” Hy hou vir Daisy styf vas en soen haar op haar varsgewaste hare. “Ek het nie geweet waarvan jy hou vir brêkfis nie, toe bestel ek sommer iets van als. Ek is doodhonger. Mens sou nie sê ons het gisteraand ... Nou ja, dis die ding van fine dining, nê? Mens eet nie so baie nie, mens eet net so lánk!” Bernard lag en trek ‘n stoel vir Daisy nader.

“Hierdie wit rose is perfek, Bernard! Was dit blote toeval? Nee, toemaar. Dit was ‘n simpel vraag, nê? Kyk net die pragtige kristalglase! En nee dankie, ek wil my lemoensap apart drink, nie saam met hierdie Franse sjampanje nie...”

“Daisy, hou op babbel. Daar is iets baie belangrik wat ek met jou wil bespreek. En maak daardie kamerjas mooi toe, jy trek my aandag af!”

“Ag, Bernard, toe nou. Dis nie dat ek jou wil verlei nie – ek wou net eers by jou hoor wat ons alles gaan doen vandag voordat ek aantrek. Jy weet mos ek hou nie van haai polfaais nie, veral nie as ons baie gaan stap nie. Maar netnou het jy nog sulke fênsie plekke in gedagte en dan sal ek seker moet opdress?”

“Daisy, chill. Fokus nou, dis baie belangrik. Maar vertel my eers van die baardman. Hoe ernstig is dinge tussen julle?”

“Baardman weet waar hy staan met my. En ek weet dat hy nie die soort is wat ernstig sal raak met enigiemand nie. Hy is ‘n bachelor deur en deur; die bos is sy eerste liefde. So ‘n ruk gelede het hy my gevra om met hom te trou, maar dit was sommer praatjies omdat ek die simpel idee gehad het dat ek wil kinders hê. In elk geval is ‘n verhouding oor so ‘n afstand nie maklik nie, veral nie as hy die meeste van die tyd nie eers binne selfoonopvangs is nie. Maar hoekom vra jy my sulke persoonlike goed?”

“Jy was eerlik met my, Daise. Ek waardeer dit. Dit maak dit ook vir my makliker om vir jou te vra wat ek op die hart het, sonder om doekies om te draai.” Bernard vat twee vinnige slukke van die sjampanje.

“Nou toe, Barries. Jy hou my al aan ‘n lyntjie van gisteraand af!” Die onnutsige vonkel is terug in Daisy se oë. “Uit daarmee!”

“Uhm. Goed. Okei, Daisy. Kyk, die ding is so: die plaas is op die oomblik my prioriteit vir sentimentele redes. Maar ek het reeds ‘n voorman aangestel en hy begin binne die volgende maand daar.

Intussen is daar dringende sake wat my aandag op ander plekke in die land en in die buiteland verg.

Ek gaan nie meer lank op Waterpoort wees nie.”

Die skok laat Daisy se hand versteen op die kristalglas.

“Jy gaan weg?” vra sy saggies.

“Daisy, dis die groot vraag. Ek wil hê jy moet saam met my gaan.” 

(Word vervolg)

 
 
 

Viewed: 252

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT