ADVERTISEMENT:

 

 
 

37. Daisy vat haar goed en trek na die land van Prada

Date: 11 July 2014 By: News Correspondent

Dit was ‘n Woensdag toe Daisy trek.

Sy het eers met Miss Soft Serve oorgery na Bernard toe met ‘n piekniekmandjie. Daar was vonkelwyn in en ‘n paar kase en beskuitjies. Later het sy en Bernard oorgery met sy Land Cruiser en die res van haar aardse besittings gaan haal. Hulle het net een keer gery en die Ventertjie was nie nodig nie.

“Is dit nou nie wonderlik om geen besittings te hê nie, Doktor Young?” sug sy behaaglik en strek agteroor met haar sjampanjeglas sodat Bernard dit weer kan vol maak. “Dis g’n wonder dat ek so lekker slaap elke nag nie – daar is niks waardevols waaroor ek my hoef te bekommer nie! Dis net Miss Soft Serve met haar sagte pienk heupies ... Maar vir háár ketting ek vas aan my kamervenster en maak seker dat jou twee Rottweilers daar naby lêplek kry in die nag! Of miskien moet ek net my swart kat oplei om die leeu in homself te ontdek...” Daisy lag uit haar maag uit vir haar eie simpel grappie. Sy is skielik vreeslik gelukkig.

“Al waaroor ek vreeslik verlig is, Daisy, my mooiste, is dat jy uiteindelik die lig gesien en hier kom intrek het. Niemand sal jou eintlik ‘n pushover kan noem nie; jy het ‘n vreeslike willetjie van jou eie...” Bernard se blou oë lag saam.

“Bernard, ons moet net oor ‘n paar dingetjies gesels. Soos byvoorbeeld – wanneer is jou eerste groot uittog en waarheen? Gaan ek spesiale klere nodig hê? Jy weet, dit word mos nooit koud genoeg hier agter die berg om goed soos winterjasse en musse en handskoene en snoesige pyjamas aan te skaf nie. Jy sal my vroegtydig moet waarsku as ek sulke goed gaan nodig kry – ek is van nature bitter koulik!”

“Jy sal moet begin brei, Daise, my dier. Sodra die plaasvoorman op sy eie kan aangaan, het ek besigheid in Europa. Engeland en Italië, spesifiek. Maar moenie stres nie – dis net vir die twee dae in Pretoria wat jy warm klere gaan nodig hê – daar in die Noordelike Halfrond is dit nou heerlik somer en vrot van die toeriste. Wanneer ek bedags besig is, sal daar baie tyd wees vir jou om jouself ook soos ‘n toeris te gedra. Dan kan ons miskien ‘n paar dae aan die einde van ons trippie iewers in Toskanië deurbring. Sal jy dit sommer vir ons reël?

“Dis die ander ding, Daisy. Afgesien daarvan dat ek nêrens meer wil heengaan sonder jou nie, gaan ek ‘n assistent benodig. Jy kan self daaroor dink of jy dalk die werk wil hê; anders sal ek iemand moet aanstel om saam met ons te reis. Daar ís baie voordele – jy sal jou baas se gunsteling wees en daar is ‘n vreeslike aanloklike kleretoelaag waaroor ons kan onderhandel ... Jy kan dit alles in die modehuise van Europa spandeer. En ek sal seker maak dat jy die allernuutste tegnologie het om jou werk mee te doen. Wat sê jy, Daisy? Klink dit reg vir jou?”

Daisy glimlag breed. “Die heel nuutste tegnologie sê jy, Bernard? Nou daar is ‘n aanbod wat ek nie kan wegwys nie! En miskien ‘n ete of twee drie by Michelin-ster restaurante? Jy weet, ek dink steeds jy trek my been! Dat ek more gaan wakker word en dan het ek onder Miss Soft Serve aan die slaap geraak met my kat in die een arm en die hoenders in die ander arm en net ‘n paar kruieplante tussen my en totale hongersnood...

“Maar ek het opgehou om die sakie te óórdink, en my suspisies is ook al minder. Hierdie kan beslis die avontuur van ‘n lewe wees!” Daisy se oë skitter.

“Ek het nog altyd gedroom van Valentino en Alexander McQueen, en vandat ek daai Meryl Streep movie gekyk het, Prada! En wat is daai skoene wat so rooi is onder? En parfuum! Al die ontwerpers se parfuum! In dosyne handsakke...”

I have created a monster,” sug Bernard gelukkig.

 
 
 

Viewed: 195

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT