ADVERTISEMENT:

 

 
 

41. Daisy verlang en verf haar kombuis bloedrooi

Date: 15 August 2014 By: News Correspondent

“Daisy, wat de duiwel vang jy aan?” Bernard se stem bulder oor die werf. Daisy val amper van die leer af soos sy skrik. Sy nies vier keer na mekaar voordat sy besluit aanval is die beste verdedi­ging.

“Jy behoort beter te weet as om iemand wat besig is om te verf, skrik te maak! Kyk nou – daar is ‘n blerts verf op die vloer waar die kwas geval het! Agge nee, Bernard!”

Hande op die heupe beskou Bernard die chaos in die kombuis. “Ek weet jy het gesê jy wil die huis so ‘n klein facelift gee en jou vroulike hand inbring ... Maar dêmmit, Daisy, róói? Róói in die kombuis?” raas hy voort.

Daisy gaan sit plat op die kombuisvloer en bars in trane uit. “Moenie met my baklei nie, Bernard! Ek verlang na die somer en na my ma en na mense wat ek nog nie ontmoet het nie ... En ek het keelseer en lyfseer en kopseer,” snik sy. “Dit kom daarvan as jy my saamsleep na plekke toe waar daar so baie mense is - netnou kry ek nog Ebola ook!” Daisy huil nou hartverskeurend as sy haar eie, tragiese begrafnis reeds sien afspeel.

Bernard gaan sit onhandig en lomp langs Daisy op die vloer. Soos die meeste mans het hy nie die vaagste benul wat om te doen met ‘n huilende vrou nie.

“Uhmm, Daisy – ek verstaan nie mooi nie. Wat het dit alles te doen met ‘n rooi kombuis?” Daisy huil nog harder.

“Dis al die koue. Hierdie winter hou nou te lank aan. Hier agter die berg is dit heerlik warm, maar elke keer is ons pens en pootjies terug in die winter as ons stad toe moet gaan. Dan verlang ek terug plaas toe - na die sonsondergang, na ‘n braaivleisvuur, na die chillies wat so bloedrooi groei in my kruietuin. Toe dink ek maar net vanoggend ek gaan die winter nou hééltemal uit ons huis uit verf, Bernard. Toe gaan kry ek rooi verf in die dorp en nou raas jy met my...” Sy kry skaars die woorde uit tussen die snikke en niese deur en vee haar neus aan haar T-hemp se mou af.

Bernard sug. “Pleks jy eerder dokter as verfwinkel toe gaan as jy siek voel,” brom hy onderlangs. “Kom, ek gaan tap vir jou ‘n warm bad in, dan klim jy in jou bed terwyl ek kyk wat daar in die medisynekassie is. Ek sal vir ons tee maak en na jou kamer toe bring.”

“Nie gewone tee nie, Bernard,” snik Daisy. “Jy weet ook niks van siekte nie. Hoendersop en lemoensap, dis wat my ma altyd vir my gegee het. En suurlemoentee met heuning en gemmer.”
Bernard rol sy oë, maar besluit wyslik om nie met haar verkoue-logika te stry nie. “Goed so, my liefste Daisy. Foeitog, ek sal kyk wat ek kan doen om jou beter te maak.” Hy gee haar ‘n bemoedigende drukkie, maar Daisy nies in sy nek en huil verder.

Die volgende drie dae en nagte dink Daisy sy gaan in haar neus verdrink. Later hóóp sy dat sy tot so ‘n genadige einde kom. Sy gebruik jaartse en jaartse toiletpapier toe haar ontwerpersnesies opraak. Sy drink liters lemoensap en suurlemoentee met heuning en gemmer. Bernard het sy hande vol om medisyne aan te dra en kos te maak en vir Daisy moed in te praat wanneer sy niesend en proesend vir kort rukkies haar baie rooi en waterige neus onder die wit duvet uitsteek.
Kort na dagbreek op die vierde dag maak Daisy ‘n uitgeputte Bernard wakker. Hy skrik en sit dadelik regop in die bed. “Is jy okei, Daisy? Kan ek vir jou nog Panados of Med-Lemon bring?”
“Nee, Bernard, my engel. Alles is nou reg. Ek het vir jou koffie en beskuit in die bed gebring. Om dankie te sê. Ek is heeltemal gesond! Dis ‘n wonderlike nuwe dag en die son kom bloedrooi op en dis amper lente en ek is sommer vreeslik lief vir jou en dankie, dankie vir als...” Daisy se olikheid is uiteindelik weer vrolikheid.

Later sit hulle in die kombuis en eet die omelette wat Daisy vir Bernard mee bederf.
“Daisy, uhm... Ek wil nou nie ou koeie uit die sloot grawe nie, maar wat op aarde het jou besiel om van al die mooi en neutrale kleure róói te kies vir die kombuis?” vra Bernard so diplomaties as moontlik.

Daisy bars uit van die lag en gooi haar lang blonde hare terug oor haar skouers. “Dis daai hele petalje van Julius Malema wat dikbek was omdat hulle nie in hulle rooi oorpakke die parlementsitting kon bywoon nie, Bernard. Toe dink ek miskien moet mens die humor daarvan op die mure vasvang. Dis Julius Malema-rooi!”

“Mmm, ek weet nie so mooi nie, Daisy. Dit lyk vir my meer na die rooi wat jou neus was die afgelope drie dae!” sê Bernard, en uit die bloute uit nies hy skielik vier keer na mekaar.

 
 
 

Viewed: 309

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT