ADVERTISEMENT:

 

 
 

42. Daisy beproef die vet van ‘n gesonder leefstyl

Date: 22 August 2014 By: News Correspondent

Bernard kom, soos gewoonlik wanneer hulle op die plaas is, tienuur huistoe vir ontbyt. Uit die rooi kombuis tref buitengewoon wonderlike kosgeure sy neus – spek, wors, niertjies, eiers ... Sy mond water.

“More, my mooiste Daisy! Wat vier ons dat jy vir ons so ‘n feesmaal berei vir brêkfis?” Bernard sit sy arms om Daisy se lyf waar sy voor die gasstoof staan en kos maak en soen haar in die nek. “Mmm, dit ruik heerlik!”

“Praat jy nou van my of die kos, Bernard?” flankeer Daisy. “Kom sit, dan skep ek vir jou op. Jy sal nie glo as ek jou vertel watter boek ek gister van Amazon gekry het nie! Dit is besig om ‘n revolusie in Suid-Afrika te veroorsaak.”

Bernard kreun. “Nee regtig, Daisy. Ek hoop nie dis die een of ander obskure politieke megalomaniak se gegorrel oor grondhervorming nie? Ons het genoeg revolusies en róói idees gehad vir ‘n rukkie...” Hy kyk betekenisvol na die vars-geverfde rooi mure van die kombuis en rol sy oë. Daisy skater van die lag.

“Waar is die pap van­oggend, Daisy? En is die lemoensap klaar? Ek gaan juis vanmiddag in dorp toe, jy moet onthou om ‘n lysie te maak. Maak vir ons ‘n paar stukkies roosterbrood, asseblief my mooiste?”

“Dis die ding, Bernard. Dís die revolusie – niks meer brood of pap of aartappels nie! Ook nie vrugte of vrugtesap nie en beslis geen sjokolade nie.”

‘n Lig kom agter Bernard se blouselblou oë op. “O. Is dit die dieët van daai Tim ou? Nukke of so iets? Hy verander blykbaar sy kos-idees so saam met die seisoene,” terg Bernard. “Maar ek weet ook nie so mooi nie, Daisy – hoekom is jy nou op dié dieët? Jy lyk vir my pragtig!”

“Hei, ou Barries, het jy al bietjie skuins voor die spieël gestaan vandat ons teruggekom het van Duitsland af? Al daai eisbein met sauerkraut en brat kartoffeln, om nie eers van die vaatjies bier te praat nie! Daar is aansienlik meer van jou om voor lief te wees, veral hier rondom die middellyf...”

“Jy bedoel dat ék nou op hierdie dieët is, Daisy? Sáám met jou?” grom Bernard. “Niks pap nie? Niks aartappels en seker rys ook nie? Niks kluitjies saam met die potjiekos nie? Niks toebroodjies of van daardie lekker sodabrood van jou nie?” Daisy skud net sedig haar kop.

Volg Daisy se avonture.

“Stampkoring? Bruinrys?” probeer hy weer. “Dis mos vol vesel en baie gesond! O nee, en geen pasta nie, Daisy? Net nie pasta nie...” Die gedagte vervul Bernard duidelik met afgryse.
“Dis tyd dat ons bietjie na ons gesondheid omsien, Bernard. Ons word nie jonger nie, netnou kry die cholesterol jou voor ek genoeg gehad het van jou. Ek het planne vir ons om met grys koppies te sit en cocktails drink terwyl die son oor die see ondergaan!”

Daar is lank stilte terwyl Bernard hierdie nuwe idee van Daisy oorweeg.

“Goed, Daisy. Ek verstaan jou besorgdheid. Ons kan beslis probeer om gesonder te lewe. Maar ek het ‘n paar voorwaardes van my eie: jy hou op met rook en ons begin in die oggende vroeg oefen. Ek sal vir jou ‘n program uitwerk om fiks te word sodat jy saam met my kan hardloop. En ek sal persoonlik toesien dat jy nie afwyk nie, maak nou nie saak waar in die wêreld ons ookal mag wees nie. Dan gee ek glad nie om om hierdie kosrevolusie met jou te deel nie.”

Bernard stoot sy stoel beslis te­rug en voor Daisy oor haar verba­sing is, verdwyn hy in ‘n stofwolk terug lande toe.

Daardie middag doen Daisy met nuwe inspirasie inkopies. Sy kyk met nuwe insae na elke produk en oorweeg die bestanddele en voedingswaarde noukeurig. Elke nou en dan pluk sy die rooi boek uit haar mandjie uit en slaan ‘n paar feite na. Dis eers toe sy met haar gunsteling bottel Shiraz in haar hand staan dat die volle implikasies van die nuwe leefstyl haar tussen die oë tref.

“Geen rooi wyn saam met die skaapribbetjie vanaand nie? Geen kapokaartappels of pap nie? Regtig, Daisy – brokkoli, avokadopeer en blomkoolrys?” tik sy haarself oor die vingers.

“En nie eers één sigaret saam met die whiskey vanaand wanneer jy en Bernard op die stoep sit en kuier nie?” koggel haar alter ego haar. “En whiskey? Whiskey? Niks brandewyn en Coke nie?”


(Deel 2 volgende week.)

 
 
 

Viewed: 299

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT