ADVERTISEMENT:

 

 
 

44. Daisy gaan soek moeilikheid daar doer onder

Date: 05 September 2014 By: News Correspondent

“Ousus,” fluister Daisy. “Bernard práát nie eers met my nie! Dis nou al amper twee weke vandat ons terug is van Australië af en hy is nog steeds woedend. En dit net oor ‘n paar ou hoendertjies...”
Ousus het geen respekte nie, sy lag uit haar maag uit.

“Vertel gou weer wat gebeur het, Daisy. Dit klink elke keer anders en eintlik verstaan ek nog steeds nie mooi wat gebeur het nie.”

“Ag dêmmit, Ousus, ek mis jou! Ons kon nou lekker Earl Grey tee gedrink het op die stoep en jy kon my mooi vertel het hoe ek met hier­die man se kop kon smokkel tot hy weer goed is. Dis net dat dit so flippen koud is hier in Johannesburg en nou is die atmosfeer in die huis nog kouer as die vroegoggend water in die pype ... En ek mis my hoenders!”

“Vertel nou, Daisy!” Ousus probeer hard om haar lag te onderdruk.

“Man, Ousus, Down Under was nogal ‘n belewenis! Die mense is maar soos hier by ons – hulle wil heeldag braai en rugby gesels en dan is daar die wille boere in die platteland en hulle rooibokke is van die soort wat op die agterbene rond­spring. Die stede is pragtig, en wat my die meeste beïndruk het, is dat daar sulke beskaafde stelsels is wat wérk! Mens is nie heeltyd op jou senuwees vir misdaad nie en daar is wetsgehoorsaamheid – selfs onder die taxi’s!”

“So spandeer ons redelik baie tyd in Adelaide waar Bernard met ‘n paar in­vloed­ryke mense besigheid doen. Natuurlik laat dit toe baie tyd vir my om te shop en my te vergaap aan al die winkels en veral die restaurante. Adelaide is bekend daarvoor dat hulle ‘n foodie mekka is – jy kan net dink hoeveel nuwe goete ek vir my rooi kombuis op die plaas gekoop het!”

“Maar na so twee weke in die Hilton in Adelaide was ons toe vreeslik bly dat Roger ons nooi vir ‘n aand saam met sy familie. ‘n Barbie. Ons was toe nou al by sy huis vir ‘n redelike formele ete, maar die keer gaan ons almal na sy seun se plek aan die buitewyke van Adelaide. Roger wou hê dat Bernard sy seun bietjie advies gee oor groenteboerdery.”

“Dinge is rêrig nie so anders doer onder nie, Ousus. Die mans staan by die vuur of gaan stap in die lande en die vrouens kliek en kloek oor babas en dinge. Nou jy wéét mos, Ousus, ek kan nie heeldag sit en hekelresepte uitruil met vrouens nie. Ek kan ook nie heeldag vir my prim en proper hou en fokus of my lipstiek nog op die regte plek sit nie – ek raak rusteloos en verveeld. Toe gaan stap ek maar bietjie deur die huis en kyk na die goed teen die mure en na hulle boeke en CD’s. Net toe ek op ‘n skatkis van won­der­like kookboeke afkom en my regskuif om só beter geselskap te geniet, ontferm Roger se skoondogter haar oor my.”

“Ons het net so tien minute ge­sels toe weet ek - hier is ‘n sielsge­noot! Sy is ‘n portretskilder met ‘n redelike hoë profiel in Australië, maar in haar boheemse hart kon sy nooit heeltemal die plaaslewe vir ‘n stad verruil nie. Sy en haar man het ‘n droom om eendag hulle eie plaas te hê, maar hulle het ses maande gelede met die grootste geluk denk­baar hierdie kleinhoewe gekry om te huur.”

“So gee ons ons oor aan Austra­lie­se vonkelwyn - ‘n heerlike Chardonnay Pinot Noir van Tasmanië en ‘n baie interessante wit Shiraz, kan jy dit glo? – en allerhande ge­rookte salm met kappertjiesaad en suurroom en sushi en vars oesters en dinge ... Ou Roger het duidelik sy platinumkaart geswaai want sy seun en skoondogter is nou nie eintlik statusbewus of skatryk nie!”

“Toe die skoondogter hoor ek het so ‘n liefde vir hoenders en dat ek nou vrek baie verlang na Elvis en al sy kraaiende kamerade, stel sy voor dat ek en sy bietjie oorstap na hulle landlord toe op die hoewe langsaan en gaan kyk na hulle hoenderboer­de­ry. En selfs met ‘n lyf vol bubbly is ek toe só geskok oor wat daar aangaan dat ek skoon doodstil is die res van die dag!”

“Jy kan nie gló hoe oningelig daardie Aussies is oor hoenders nie! Die arme goed sit opmekaargedruk soos ‘n hysbak in spitstyd in Sandton se besigheidsdistrik, dis pikgitswarte donkerte in die hokke en hulle word nooit uitgelaat om bie­tjie te skrop of in die son te lê nie. Die heel ergste was dat daai hokke sekerlik die afgelope jaar of langer glad nie skoongemaak is nie – daar is seker tien sentimeter se hoenderpoef op die vloer van die hokke!”

“En toe Daisy? Dis mos nou die deel wat so ‘n bietjie duister bly vir my...”

“Toe ons terugkom by die Hilton kon ek dit net nie uit my kop kry nie. Daai arme hoenders! Toe soek ek die telefoonnommer van die RSPCA op in Adelaide en vroeg die volgende oggend toe Bernard na ‘n vergadering toe is, bel ek hulle.”

“Maar ek het móói verduidelik, Ousus! Ek het hulle móói gevra dat hulle tog net moet wag tot oor drie dae wat ons terugkom Suid-Afrika toe voordat hulle optree en dat hulle onder geen omstandighe­de mag verklap wie die saak aan­ge­meld het nie! Was maar seker naïef van my (soos Bernard se laaste woorde aan my was!) en dalk is hy reg – ek het heeltemal vergeet dat Australië effektief is en nie op Afrika-tyd werk nie...”

“Teen die tyd wat ons by OR Tambo land, kry Bernard ‘n boodskap van Roger af wat sê sy seun se landlord het hom en sy hele familie van hulle kleinhoewe af geskop en hulle bly nou almal by Roger in die huis en miskien moet Bernard vir eers daai groot bestelling op die ys hou...”

Ousus lag so dat sy nie eers Daisy se vraag hoor nie:
“Dink jy Bernard gaan óóit weer met my praat, Ousus?”

 
 
 

Viewed: 214

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT