ADVERTISEMENT:

 

 
 

45. Daisy begin kook en deel resepte uit (Deel 1)

Date: 11 September 2014 By: News Correspondent

“Dis alles goed en wel om so te pendel en te plak die hele wêreld vol, Carla. Selfs al ge­beur dit in die grootste denkbare luuksheid. Glo vir my, dis ook maar saai en uitputtend – net soos om elke dag om te sien na wasgoed en skottelgoed! En dit verg regtig harde werk om tussendeur al Bernard se verpligtinge genoeg tyd saam te spandeer en mekaar beter te leer ken.”

Daisy se beste vriendin, Carla, gaap haar ‘n oomblik oopmond aan. “Jy is nie ernstig nie, Daisy. Weet jy hoe klink jy? Soos ‘n tweejarige wat nie viér suigstokkies op een slag mag kry nie! Nee hêl, vriendin. Dit klink asof jy iets nodig het om jou weer aarde toe te bring! Hierdie gepierewaaier lewe van jou maak jou bitter aanstellerig en ek dink almal is net te bang om dit vir jou te sê.”

Daisy sug. Van die dakkafee af kyk sy uit oor die ganse Pretoria, tot by die Uniegeboue. Lente het die stad laat ontplof in ‘n lushof van raserige voëls, geurige bloeisels en malse kleure. Sy wil-wil haar eers vererg vir die brutale eerlikheid van Carla, maar sy weet dit sal net wees omdat dit miskien te naby aan die been sny.

“As ek en jy nou nie al maatjies is van lank voordat ons begin puisies kry het nie, sou ek my darem nou lelik gestrip het, weet jy Carla? Maar ek weet dat jy nog altyd die enigste mens was wat ek volkome kon vertrou om nie die een of ander agenda te hê nie. En buitendien, jy is reg. Ek is verveeld met al hierdie rondritsery – ek mis die plaas en ek mis die gevoel dat ek iets konstruktief doen. Tot my skrywery ly hieron­der – daar is doodeenvoudig net nie meer genoeg tyd vir navorsing nie. Dit voel op die oomblik of ek sonder wortels ronddobber – my enigste anker is Bernard.”

“Ja, oukei Daisy. Dis ook nou weer te veel inligting – jy raak beswaard. Kom ons dink liewers aan ‘n oplossing vir jou probleem. Miskien kan jy my met een van my probleme help ... Mmmm. Ja, so­waar. Dit kan sommer twee wynvlieë met een klap wees!” Carla se oë vonkel skielik van inspirasie.
“Ons het mos net twee dae gelede ‘n nuwe besending voorraad ontvang van Marokko af. En al hier­die wonderlike skatte moet uitgepak, geprys en bemark word. Ek kan doen met ‘n ekstra paar hande. Hoe lyk dit? Bernard en jy is mos vir ‘n rukkie hier in Gauteng rond? Ek is seker hy sal jou ‘n bietjie kan afstaan?”

“O, en die heel belangrikste is dat ons ‘n opedag het spesiaal vir diplomate en ander hoogge­plaastes. Dan kan ek jou regtig goed aanwend in die kombuis ... Jy was mos saam met my op daardie Marokkaanse kookkursus twee jaar gelede. Ek het juis so ‘n lekker lamvleisresep wat jy in ‘n tagine kan doen vir my!” Carla se entoe­siasme het nou geen brieke nie.

“Ek sal sommer daar by Plore gaan bly, dan hoef ek nie elke dag deur te ry nie,” sug Daisy. Nie eers die idee van ‘n nuwe resep kan haar opbeur nie. Sy verlang plaas toe. Sy verlang na haar hoenders en haar kruietuin en die son wat teen die Soutpansberg sak.

Lam met dadels en heuning

Bestanddele:
750g lamsvleis, in blokkies van 2,5cm gesny
30 ml (3 E) olyfolie
1 groot ui, fyngekap
1 knoffelhuisie, platgedruk
20 ml Marokkaanse speserymengsel (sien onder)
Sout en varsgemaalde swartpeper (na smaak)
375 ml (1½ K) hoenderekstrak
250 ml (1 K) vars lemoensap
60 g ontpitte dadels, grof gekap
30 ml (2 E) heuning
15 ml (1 E) gekapte vars koljanderblare (of Italiaanse pietersielie)
100 g geroosterde amandelvlokkies
Metode:
Verwyder oortollige vet van lamsvleis. Verhit olie in ‘n swaarboomkastrol. Roerbraai die lamsvleis in kleiner hoeveelhede tot goudbruin.
Voeg die uie, knoffel, Marokkaanse speserymengsel en sout en peper by die vleis. Soteer vir ongeveer twee minute tot die uie sag is. Voeg die hoenderekstrak en lemoensap by en kook vir 2-2½ ure tot die lamsvleis saggekook is. (Voeg nog hoenderekstrak by indien nodig.)
Verwyder die deksel en kook vir nog ‘n kort rukkie totdat die mengel die verlangde dikte bereik. Roer die dadels en heuning by en sprinkel die gekapte koljanderblare bo-oor. Bedien op koeskoes en garneer met vars lemoenskyfies en geroosterde amandels.

Marokkaanse speserymengsel:

10 ml (2 t) elk gemaalde:
komyn
gemmer
koljander
kaneel
paprika
5 ml (1 t) brandrissiepoeier of rooipeper
3 ml (½ t) gemaalde neutmuskaat

Meng al bogenoemde bestandde­le saam en stoor in ‘n lugdigte houer.

 
 
 

Viewed: 357

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT