ADVERTISEMENT:

 

 
 

46. Daisy kóók (Deel 2)

Date: 26 September 2014 By: 

Vroegoggend sit Daisy en Carla op die stoep by Moroccan House en koffie drink. Dis nie van vroeg opstaan wat hulle soos verkluimde hoenders onder die oranje kombersies die opkomende son welkom heet met koffie en sigarette nie – die twee het heelnag gekook.

Daisy beskou haar saffraan- en borriegevlekte hande en sug behaaglik.

“Dis nou presies wat ek nodig gehad het om my gedagtes van my eie probleme af te lei. Jy ken my so goed, my maatjie! Al daardie musiek wat jy gespeel het – die blues, die rock en die opera ... Dit was ‘n vreugde om heelnag te kook!”

“Nou ja toe. Die kos is miskien klaar, maar daar is nog duisende dinge wat moet gebeur voor vanaand se opedag! Blomme, kerse, roosblare – dis alles laaste-minuut goed. Gelukkig is al die sjampanje en wyn in die yskaste; ek moet net seker maak ons het genoeg heuning vir die kruisementtee. Dan is daar nog die handewasseremonie - ek moet kyk of al die handdoekies skoon is...” Carla tik senuweeagtig al haar pligte op die aksielys af.

“Dis wraggies nie ‘n bedryf waarin jy jou moet begewe tensy jy ‘n passie daarvoor het nie, Daisy. Jy vind dit dalk opwindend omdat dit nuut is, maar dis ‘n ander storie as jy elke dag tien of twaalf ure moet werk,” bekla Carla haar lot. Daisy steur haar nie veel aan Carla nie – die vrou is versot op haar werk.

Dis sesuur toe Carla naarstigtelik na Daisy begin soek. Daisy doen wat sy die beste mee is – sy deel Magic Juice skemerkelkies uit en verwelkom al die belangrike gaste met haar sjarme en spierwit glimlag.

“Daisy, Daisy,” fluister Carla tussen haar tande deur terwyl sy ook vriendelik vir die gaste glimlag. “Daar is ‘n vreeslike krisis en net jy kan my help! Ek gaan kyk of iemand anders nie die gaste kan verwelkom nie, dan kom jy asseblief dadelik na die Fez suite toe. Dis ‘n kwessie van lewe en dood!”

“Wat op aarde kan so vreeslik verkeerd wees, Carla?” vra Daisy toe sy by Fez instap.

“Dit kom daarvan, Daisy! Dis nooit die goed wat ‘n mens self doen wat verkeerd gaan nie, dis altyd die goed waarvoor jy op ander moet staatmaak!”

"Hoe gouer jy verduidelik wat verkeerd is, hoe gouer kan ons ‘n oplossing daarvoor vind, vriendin! Wat gaan aan?”

“Ag dêmmit, Daisy ... Dis die belly dansers. Een het blykbaar ‘n Delhi belly gekry en nou kan sy nie kom dans nie! Ek het dit só goed beplan – al hierdie VIP’s verwag vyf dansers! Jy sal doodeenvoudig moét help,” sê Carla met dreigende histerie.

“Ekskuus? Het ek dit nou reg – ék moet iets doen oor een van die belly dansers die skittery het?” Daisy bars uit van die lag. “Waar op aarde kry ek noú ‘n ander belly danser wat net kan inval?” Daar is ‘n suspisieuse stilte. Carla kou haar naels en kyk net na Daisy. Sy wag dat Daisy die implikasies besef.

“O, nee. Baie beslis NEE. Net omdat ek vir ‘n gratis bekendstellingsles gegaan het by hierdie belly dancing skool, beteken nog lank nie dat ek kan dans nie. Nie eers vir jou gaan ek hierdie kalf uit die put red nie, my vriendin.”

“Daisy, hulle het die oulikste geel en goue uitrusting saamgestuur toe hulle hoor jy is hier. Daar is ‘n sluier oor jou gesig – niemand sal ooit weet as jy jou naam krater maak nie! Al die Marokkane en die ander VIP’s gaan hulle vergaap aan jou lang blonde hare en jou lang bene – hulle sal nie eers agterkom jy rol nie jou magie nie! Asseblief, asseblief my vriendin? Ek was nog nooit in so 'n vieslike gemors nie!”

...

Laatnag sit Daisy en Carla weer op die stoep, skouers toe onder oranje kombersies teen die vroeë lente se koel naglug. Vir lank teug elkeen net aan ‘n glas rooiwyn en masseer hulle seer voete. Daar is nie baie woorde nie.

“Jy moet my belowe dat jy nooit, ooit weer hierdie aand sal noem nie. Nie aan my nie, nie aan Bernard nie, nie aan enigeen wat my moontlik ken of kan eien nie. Dit sal wees asof hierdie aand nooit gebeur het nie.” Daisy se stem is gevaarlik suutjies en bedaard.

Vir lank reageer Carla glad nie. Toe begin sy giggel. Eers saggies en toe met oorgawe. Later loop die trane oor haar wange en Carla hou haar maag vas soos sy skater. Dis so aansteeklik dat Daisy nie kan help om halfhartig saam te lag nie.

“Wat?” vra Daisy. “Is jy histeries of is daar iets wat jy my nie vertel het van my vreeslike vernedering nie?”

"Ja, Daise. Daar is," hik Carla dit tussen die lag uit. ”Daardie vadoek-om-die-kop man van Abu Dhabi af het sowaar vyftig kamele vir jou aangebied! Hy sê van al vyf die belly dancers was jy die enigste een wat regtig gekóók het!

 
 
 

Viewed: 162

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT