ADVERTISEMENT:

 

 
 


 

48. Daisy se tuiskombuis sorg vir ‘n opskudding

Date: 09 October 2014 By: 

“Ek het heelnag gedroom van moerbeie,” is Daisy se eerste woorde aan Bernard. “Die heerlikste, grootste, swartste, soetste moerbeie...”

“Dis seker oor al daai swart blertse op die wit linne as dit langs die moerbeiboom opgehang word. Miskien gaan dit makliker wees om die wasgoed in die tuimeldroër droog te maak tot die seisoen eers weer verby is?”

“Ai tog, Bernard. Ek is nog nie eers wakker nie en jy is alreeds prakties en rasioneel. Ek lek nog my vingers af van die swaar, swart stroop oor tuisgemaakte roomys en jy is al klaar besig om die dag vas te gryp ... Dis nou seker wat bedoel word met sakke sout saam opeet, veral as die een nie ‘n oggendmens is nie!

“Maar dis goed dat jy my herinner aan die boom by die wasgoedlyn. Vandag is die dag wat ek al die swart bessies onder die spreeus se snawels afpluk. Ek gaan konfyt kook. En dan stroop vir roomys. En sommer roomtertjies vir nagereg vanaand.”

“Daisy, ek dink jy het eers koffie nodig. Jy het seker vergeet dat daar vandag van my kollegas kom om die naweek in die gastehuis in die berg te bly. Jy het baie werk – die plek moet perfek wees: skoon en netjies en vars blomme en aandete vanaand en brekfis vir twee dae. Daar gaan nie tyd wees vir ander dinge nie!” Bernard klink bekommerd. Hy het al te veel ondervin­ding van Daisy se ontydige inspirasies.

“Ag ou Barries, ek het my oomblikke,” flikflooi Daisy. “Ek is baie oulik – die spyskaarte is tot in die fynste besonderhede beplan en al die aankope is gedoen. Gister het ek met Miss Softserve gery en self gaan skrop en mooimaak in die gastehuis – ek het tot die voordeur ‘n nuwe lagie verf gegee!”

Bernard kyk verras na Daisy. “Net daarvoor bring ek vir jou koffie en beskuit in die bed!”
Drie ure later het Daisy heeltemal vergeet van die mandjie moerbeie wat sy met groot moeite gepluk het. In plaas van bottels konfyt en roomtertjies het Daisy meegevoer geraak om vir die verwagte gaste die heerlikste koserva­ring moontlik te bied.

Toe Bernard vir middagete by die huis stop, vee Daisy haar natgeswete blonde hare agter haar ore in en gee vir Bernard ‘n stralende glimlag.

“Dink jy ek kan gou jou bakkie gebruik om die kos bo na die gastehuis toe te vat? Kom kyk gou of dit jou goedkeuring wegdra: Vir hoofgereg is daar ‘n biltong en bloukaas paptert, koedoefilette gevul met Camembert en gemarineer in ‘n rooiwynsous. Voorgereg is buffelvlerkies op ‘n groenslaai en vir nagereg piesangs wat in die skil gebraai word, bedien met ‘n karamelsous en roomkaas. Alles met aanwysings om net die laaste bietjie gaarmaak self te doen. Of dink jy ons moet dit maar vir hulle gaan doen?”

Daisy is so ingenome met haar handewerk dat sy nie sien hoe Bernard haar trots aankyk nie. Dis eers toe hy haar styf vasdruk en agter haar oor soen dat sy besef hy is werklik beïndruk.
“Dis nie al nie. Vir ontbyt more-oggend maak ek vars plaatkoekies ... Of nee, jy moet dalk die plaatkoekies maak? As ek reg onthou, het jou plaatkoekies laas aanleiding gegee tot gróót vreugde hier op die plaas!” terg Daisy.

Bernard se wange verkleur so effens en hy grinnik verleë. “Kom ons ry gou, Daisy. Dan kan jy sommer die blomme ook saamvat en ek sal al die drank in die yskas inpak en seker maak daar is genoeg hout en gas...”

Sondagaand sit Daisy en Bernard styf teenmekaar op die bank en kyk vaagweg na Carte Blanche. Hulle drink Sauvignon Blanc met baie ys.

“Daisy, ek wil net vir jou sê jy hou nooit op om my te verras nie. En omdat jy vir my die mooiste, mooiste dingetjie is met jou blonde hare en lang bene neem ek jou nie altyd ernstig genoeg op nie. Ek vergeet heeltemal te veel dat jy ‘n formidabele vroumensie is met ‘n formidabele intelligensie en formidabele talente. Onvoorspelbaar, ja. Roekeloos, ja. Maar ook onweerstaanbaar, al vertel ek dit heeltemal te min vir jou.”

Daisy kriewel rond van lekkerte oor sy komplimente en haar glimlag word al hoe breër.

“Wat ek ook nie vir jou vertel het nie, Daisy, is dat die mense wat hier was die naweek een van die grootste verskaffers van deli-produkte aan die gasvryheidsbedryf is. Hulle maak allerhande eksotiese disse en hulle was juis hier om te gesels met ‘n paar wildboere. Maar wat hulle regtig inspirerend gevind het was jou verbeeldingryke kos. Hulle kon eenvoudig nie uitgepraat raak oor al jou buitengewone idees nie.”

“En ek hoop nie jy gee om nie, maar ek het jou selnommer vir hulle gegee vanmiddag toe hulle weg is. Lyk my die mense wil ernstige besigheid met jou gesels...”

(Lees Deel 2 volgende week!)

 
 
 

Viewed: 513

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT