ADVERTISEMENT:

 

 
 

49. Daisy se tuiskombuis kry ‘n werksaanbod

Date: 17 October 2014 By: News Correspondent

“Ek is nou miskien nie die skerpste potlood in die laai nie, Bernard,” begin Daisy toe hulle sit en kyk hoe die son ondergaan teenaan die Soutpansberg. “Maar die vet weet, ek het darem ook lank genoeg my tyd uitgedien in die korporatiewe lewe.” Sy blaas behaaglik sigaretrook uit en vat ‘n slukkie van haar ‘gewone’.

“Hierdie Griekse kliënt van jou, Mr. Georgio Xanthides, bel my mos vandag. En so met grasie toegelaat vir sy Meditereense aksent, probeer ek maar uit die hoogtepunte van die gesprek uitmaak presies wat hy nou eintlik wil hê. Dis ook maar goed dat jy verduidelik het dat sy kosmaatskappy eksotiese kosse verskaf aan die gasvryheidsbedryf, want ek kon niks uitmaak van “you, I wanna you to come make ke zee nice wild buck for me, I wanna you to come runna zee kitchen...”

Bernard lag kliphard vir Daisy se nabootsing van die intimiderende man. “Daisy, ek het nou so bietjie nagedink oor die man se voorstel. Hy wil – so klink dit vir my – hê jy moet sy toetskombuis so bietjie onder hande neem; nuwe lewe inblaas en met vars idees kom. En ek kan dink dat dit vir jou baie stimulerend kan wees en selfs winsgewend.”

Daisy se oë blink. “Ek moet sê, die idee klink so bietjie soos Gordon Ramsay se Kitchen Nightmares! En jy weet ek kan nou eenmaal maar net nie ‘n makeover weerstaan nie...”
“Jy weet, Daisy, ek sal mos nou nooit probeer om vir jou te vertel wat om te doen nie...”
“Maar natúúrlik nie, ou Barries! Nie ‘n ou skaaplammetjie soos jy nie...” terg Daisy.
“... veral nie ‘n formidabele vrou soos jy nie,” gaan Bernard aan asof hy nie vir Daisy gehoor het nie. “Maar ek het ‘n ander voorstel wat ek graag wil hê jy moet oorweeg.”
“Ek luister, ek luister... Maar jy moet mooi weet, dit sal regtig iets met meer woema en zing verg om my te laat afsien van die rol as ‘n vroulike Ramsay!”

“Wat ek gaan voorstel gaan ‘n hele paar voordele inhou vir jou: jy kan jou passie vir kosmaak uitleef, daar sal geen einde aan kreatiewe uitdagings wees nie en jy sal baie meer tyd hier op die plaas kan spandeer. Ek weet ons rondritsery is nie lekker vir jou nie, ek weet jy voel dat die plaas maar eintlik jou huis is en dat die tyd wat ons in die stad spandeer gewoonlik nie vir jou ‘n plesier is nie.

“Wat sê jy? Sal jy darem met ‘n oop gemoed luister na my voor­stel?”

Daisy sit lank en staar na die rooie wat goud word en uiteindelik oorgee aan die vroegaand skemer. “Ek het nie gedink dis so opvallend nie, Bernard. En ek wil ook nie hê jy moet dink ek is ondankbaar vir al die wonderlike wedervarings saam met jou nie, maar ek is van nature maar ‘n eenvoudige mens ... So, ja – ek luister graag na jou voorstel.”

“Dis nou al ‘n hele ruk wat ek daaraan dink om die gastehuis in die berg beter aan te wend. Ek wil dit veral gebruik om minder die wêreld vol te reis, veral noudat jy in my lewe is. So iets soos as Mohammed nie na die berg wil gaan nie, dan bring ‘n mens nou maar die berg na Mohammed! Daar is soveel van my besigheidskontakte wat nog nooit Afrika beleef het nie; ek dink dit kan die geleentheid van ‘n leeftyd wees om hulle hier te onthaal. Daar was nog net nooit iemand wat na hulle kon omsien hier nie, maar nadat ek jou die naweek in aksie gesien het, weet ek dat selfs die heel belangrikste mense in die beste moontlike hande sal wees as jy hier is.

“Die ander ding is dat daar soveel mense hier op die plaas is wat die potensiaal het om verder opgelei te word in die toerismebe­dryf. Dit sal die ideale geleentheid wees om daarin ook te belê. Jy kan met jou kennis en vernuf hulle oplei in enige aspek – van die kombuis tot by ontvangs - en dalk sommer ook om groente- en kruietuine te maak en onderhou. Ek weet jy het ook ‘n passie daarvoor om beter geleenthede vir mense te skep en hierdie kan regtig ‘n verskil maak in ‘n paar mense se lewens!

“Verder sal ek jou ook vrye teuels gee met die binneshuise ontwerp en met die kos en drank ... Jy kan dan soveel moerbeikonfyt en moerbeistroop op die spyskaart sit as wat jy wil! Eintlik kan ek my nie iemand beter indink vir die werk nie, Daisy! Toe, wat sê jy? Sal jy dit oorweeg?”
Met skitterende oë vlieg Daisy op en plak haar op Bernard se skoot neer. Sy gooi haar arms om sy nek en druk hom dat hy na sy asem snak.

“Dit is die heel, heel beste voorstel wat ek gehoor het vandat jy my gevra het om by jou te kom intrek!”

“Is more te gou om te begin?”

 
 
 

Viewed: 141

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT