ADVERTISEMENT:

 

 
 

50. Daisy se lugkastele begin fondasies kry

Date: 24 October 2014 By: News Correspondent

“Daisy, hoeveel keer moet ek nou nog vir jou sê dat daai vervlakste pienk motorfiets van jou bedoel is vir die stad en nié vir plaaspaaie nie?” Bernard se blou oë skiet blou vonke van kwaad.

Maar Daisy laat haar ook nie so maklik intimideer nie. “Wat nou weer, ou Barries? Is dit omdat ek na die bouery en terug ry met Miss Soft Serve? Dis nou nie asof ek probeer stene of sement aanry met haar nie,” giggel Daisy.

Vandat die bouery aan die gastehuis in alle erns begin het, is daar net mooi niks wat Daisy se sonnige inklinasie kan blus nie. Sy kon nie gou genoeg (sonder haar gewone teenstribbeling oor ‘n trippie in stad toe!) by ‘n argitek in Pretoria uitkom nie en nadat sy en die argitek ooreengekom het op die ontwerpe, het die winkels braak gelê vir haar. Dit het al Bernard se oortuigingsvermoëns gekos om vir Daisy te laat insien dat dit nog ‘n bietjie prematuur is om aankope te doen vir die interieurs van die gastehuis. Bek-af het Daisy toe maar foto’s geneem met haar iPhone en begin plakboeke maak.

Die ruk wat dit geneem het om die planne saam te stel, ‘n bourekenaar aan te stel, die regte kontrakteur teen die regte prys te kry en die bouperseel voor te berei was vir die ongeduldige Daisy ‘n beproewing. Ook net tot sy besef het hoeveel werk daar vir haar voorlê – keuse van afwerkings, badkamertoestelle, kombuistoe­stelle, slaaptoestelle. Dan was daar die werwing en opleiding van personeel, die ontwerp van ‘n volledige korporatiewe identiteit, die saamstel van spyskaarte... En kwotasies, kwotasies, kwotasies.

Slim genoeg van Bernard het hy vir homself ‘n uitgebreide besigheidsreis oorsee beplan. Alhoewel hy daagliks met Daisy in kontak was (wat het ‘n mens gedoen voor selfone en Skype?) het hy die vrede nie heeltemal vertrou nie. Hy het stilletjies die argitek se arm gedraai om dubbel die hoeveelheid inspeksies te doen en ‘n addisionele toesighouer gehuur wat die argitek hoog aanbeveel het. Hy het ook, net ingeval, sy verwagtinge laag gehou.
Met ‘n blos op haar wange en ‘n stralende wit glimlag het Daisy hom by die vliegveld kom oplaai. “Ek kan nie wag om jou te gaan wys by die bouery nie, Bernard. Dit gaan regtig, regtig goed! Als is op skedule, op standaard en min of meer binne begroting. En nee, ons gaan nie soos oumense eers tee drink nie – ek wil jou volle aandag hê voor iemand anders induik en jou wegsteel met plaassake!”
“Wel, wel, wel. Tik my om met ‘n troupantveer,” sê ‘n verbaasde Bernard nadat hy bo-op halfgeboude mure en gegooide fondasies rondgeloop het. Hy skop verleë ‘n paar halwe bakstene uit die pad met sy Cats en vra toe Die Groot Vraag:
“Was jy elke dag hier by die bouterrein, Daisy? En wie het elke dag die opdragte gegee en toesig gehou dat dit uitgevoer word?”

“Mens leer maar vinnig, Bernard. En die manne was eers skepties tot hulle agtergekom het dat onder hierdie fluweel handskoen ‘n hand van staal skuil!” Daisy gloei behoorlik van trots.

“Regtig, Daisy? Het jy regtig elke dag hier spandeer sonder om verveeld te raak of in die pad van vallende stene of nat sement te kom?” Bernard grinnik. Daar was sowaar ook geen noemenswaardige ongeluk onder Daisy se toesig nie.

“In elk geval is ek mos ‘n opgeleide Eerste Hulper en so aan, Ou Barries,” terg Daisy. “So, ek het nie net die leisels bymekaar gehou nie, maar die werkers begin byvoorbaat bewe as hulle vir Miss Soft Serve sien aankom. Ek vat nie nonsens nie, maar ek kan darem wonde ook verbind!” Terug in die hede is Daisy dus min gepla oor Bernard met haar raas oor Miss Soft Serve. Sy weet dat hy geen fout kan vind met haar werk nie. “Wys jou nou net,” mymer sy. “As mens iets doen wat jou passie is wys dit in die kwaliteit van die werk!”

“Daisy, gaan maak vir jou mooi en maak gou. Daar is iets wat ek jou in die dorp wil gaan wys wat te doene het met die bouery. Jou opinie hieroor is van kardinale belang, my mooiste. Alles loop reg by die bouery – ons was mos net voor brêkfis daar.”

“Ek is seker jy kan vir ‘n paar ure verskoon word?”

 
 
 

Viewed: 145

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT